Nuwe beelde vir Afrikanergeskiedenis

  • 0

Danie Langner en Theuns Stofberg by die NJ van der Merwe-beeld wat verlede Vrydag by die FAK se hoofkantoor in Pretoria onthul is. (Foto: Facebook)

Terwyl Suid-Afrikaanse monumente uit die apartheidsera die een na die ander sneuwel, het die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) met ’n projek begin om drie nuwe monumente te bou om Afrikanergeskiedenis te bevorder.

Die FAK het as deel van hulle 90ste verjaarsdag ’n geskiedenisfonds hiervoor bekendgestel. Die nuwe monumente sal soos die Vrouemonument en die Steyn-beelde in Bloemfontein deur Afrikaners self gefinansier word.

Die FAK wil sy 90ste bestaansjaar daaraan wy om Afrikaans se kultuurerfenis te verewig. Die vereniging wil onder meer dié rolspelers vereer wat die taal help vestig, bevorder en bewaar het. Een van hulle is die FAK se stigter, NJ van der Merwe.

Die besturende direkteur van die FAK, Danie Langner, sê op die FAK se webwerf die nuwe geskiedenisfonds is nie ’n “teen-fonds” nie, maar ’n “vir-fonds”. Hy sê Afrikaners wil in die woorde van die historikus Hermann Giliomee soos enige ander kultuurgemeenskap net ’n normale geskiedenis hê. “’n Geskiedenis met heldeverhale waarop ons kinders trots kan wees, maar ook met foute waaruit ons kan leer.”

Volgens Langner is geskiedenis ’n komplekse verhaal met baie perspektiewe en invalshoeke. “Wanneer ’n ongenuanseerde, eensydige meesterverhaal as die enigste waarheid aan ons kinders opgedra word, vervlak geskiedenis tot blote propaganda. Wanneer geskiedenis in konteks verstaan word en erkenning gegee word aan verskillende perspektiewe oor dieselfde saak, kom daar nie net balans nie, maar ontwikkel daar begrip en respek vir die uniekheid en diversiteit van stories.”

Langner sê verder op hul webwerf die FAK is eerlik oor sy Afrikaner-invalshoek tot geskiedenis, sonder om ander se stories en perspektiewe te misken.

Hy het aan Netwerk24 gesê die drie nuwe beelde wat die Afrikanergeskiedenis wil bevorder word vir ’n “nuwe generasie” Afrikaner opgerig en kyk na die toekoms en nie na die verlede nie.

Die drie nuwe beelde is:

  • Die Penkop, wat dalk by Doornkloof in die Vrystaat opgerig gaan word.
  • Sorg, wat ’n kampsuster in ’n konsentrasiekamp uitbeeld en wat 13 Oktober in Irene-kamp onthul word, en
  • Toekomsargitek, die NJ van der Merwe-beeld wat verlede Vrydag by die FAK se hoofkantoor in Pretoria onthul is.

Die TV-kanaal eNuus het verlede Vrydag berig oor die onthulling van die NJ van der Merwe-beeld wat deel is van die FAK se 90ste herdenkingsviering. Van der Merwe se kleinseun, die gewese Springbokkaptein Theuns Stofberg, en sy nasate het die geleentheid bygewoon. Van der Merwe was ook die eerste hoofleier van die Voortrekkers.

Langner het op Facebook geskryf die naam van NJ van der Merwe se beeld is Toekomsargitek, want ’n verbeeldingryke toekomsargitek skep doelgeskikte, funksionele ruimtes wat oor tyd nie betekenis verloor nie, maar jaar na jaar en geslag na geslag in waarde toeneem.

Langner het aan Netwerk24 gesê die FAK gaan nie met die regering in ’n geveg tree oor die nuwe beelde nie. Hy sê as beelde moet skuif, soos die MT Steyn-beeld van  die kampus by die Universiteit Vrystaat (UV), doen hulle dit. Die FAK se klem is egter om nuwe beelde te bou en koerswysers vir die toekoms te skep waarop die Afrikaner trots is. “Dit is ’n storie van hoop. Ons is steeds hier, ons gaan nie weg nie,” het hy aan Netwerk24 gesê.

Deurdat Afrikaners self geld skenk vir hul beelde, neem hulle volgens die FAK eienaarskap van hulle geskiedenis en kan kinders eendag sê hulle was deel van die beelde.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top