Nuwe era vir Suid-Afrika met Ramaphosa

  • 0

’n Nuwe era het vir Suid-Afrika aangebreek met die verkiesing van Cyril Ramaphosa tot president enkele ure nadat oud-president Jacob Zuma se bedankingsbrief deur die speaker van die parlement ontvang is.

Politieke partye van regoor die spektrum het Suid-Afrika se nuwe president, Cyril Ramaphosa, voorspoed toegewens met sy nuwe amp nadat hy as president verkies is.

’n Luide applous het in die parlement uitgebreek toe die speaker van die Nasionale Vergadering, Baleka Mbete, aankondig dat sy Zuma se bedankingsbrief ontvang het.

Nie een van die opposisiepartye het ’n kandidaat vir die presidentsamp benoem nie. Die EFF het nie Ramaphosa se verkiesing bygewoon nie en het die parlement verlaat voordat dit plaasgevind het. Die party het gesê hulle is nie bereid om deel te neem aan ’n proses wat iemand van die regerende party wettig verklaar nie.

Die DA-leier en leier van die amptelike opposisie, Mmusi Maimane, het gesê sy party ondersteun nie vir Ramaphosa nie omdat dit steeds dieselfde ANC is wat die staat gekaap het. Sy party het egter nie ’n ander kandidaat benoem nie.

Maimane en die EFF het gevra dat die parlement ontbind word sodat die land se mense geleentheid kry om deur middel van ’n vroeë verkiesing ’n vars mandaat aan die land se leiers te gee. Die speaker het die versoek om dit te debatteer afgekeur aangesien daar nie ’n formele mosie daarvoor ingedien is nie. Maimane het die feit dat Zuma bedank het verwelkom. Hy het aan die media gesê Suid-Afrika het egter nie net ’n Zuma-probleem gehad nie, maar het ook ’n ANC-probleem.

Die EFF se leier, Julius Malema, het tydens ’n nuuskonferensie voor die tyd gesê sy party aanvaar Ramaphosa se presidentskap, maar hy moet onthou hy is deur ’n parlement verkies wat versuim het om sy pligte na te kom toe Zuma nog president was.

Die leier van Cope, Mosioua Lekota, wil Ramaphosa se benoeming in die konstitusionele hof beveg.

Die leier van die Vryheidsfront, Pieter Groenewald het Ramaphosa ook geluk gewens met sy verkiesing. Hy het gesê dit is nie baie moeilik om ’n beter leier as Zuma te wees nie. Groenewald het gesê Ramaphosa sal moet bewys dat hy ernstig is wanneer hy optree en die land sal hom dophou. Hy het ook gevra dat Ramaphosa nie soos sy voorganger alle blaam vir wat verkeerd loop in die land voor die deur van die witmense sal plaas nie.

Ramaphosa het ’n staande ovasie gekry toe hy na die podium stap om sy eerste toespraak as president van Suid-Afrika te hou. Hy het ’n beroep gedoen vir samewerking oor politieke grense heen en gesê daar moet groter respek wees vir die parlement as in die verlede. Hy sal sy visie vir die land uitspel wanneer hy Vrydag die staatsrede in die parlement lewer.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top