Nuwe inisiatief om verengelsing op tersiêre vlak te stuit

  • 0

............

“Die ATR pleit ook dat die vyandigheid van die verlede ter syde gestel word en nuwe verhoudinge ontwikkel word. ‘Afrikaanssprekendes wat hul taal se akademiese status wil behou, moet verseker dat meertaligheid by hulle instellings werk – ook vir die ander inheemse tale.’”

............

Die afskaling van Afrikaans op tersiêre vlak moet op ’n konstruktiewe manier teengewerk word deur gebruik te maak van alle beskikbare kanale om meertaligheid te bevorder en verengelsing van tersiêre inrigtings hok te slaan.

Dit is die doelwit van ’n nuwe inisiatief wat deur die Afrikaanse Taalraad (ATR) aangekondig is om help keer dat Afrikaans as onderrigtaal verder kwyn.

Die ATR sê in ’n verklaring studente moet aangemoedig word om waar moontlik hulle instellings se grieweprosedures te gebruik om taalklagtes te opper. “Mens kan selfs van instellings wat nét Engels as voertaal gebruik, verlang om meer ruimte vir meertaligheid te skep.”

Foto: Pixabay.com

Volgens die ATR móét studente se toegang tot Afrikaans en die ander inheemse tale binne en buite die lesingsale eenvoudig verbeter. Daarom het die ATR besluit om ’n inisiatief te loods om studente met taalklagtes te ondersteun en met dosente en tersiêre instellings saam te werk om van meertaligheid ’n sukses te maak.

Die inisiatief beoog ’n konstruktiewe benadering wat daarop mik om die beste van bestaande taalbeleide, insluitende die hersiene Nasionale Taalbeleid vir Hoër Onderwys, te maak.

Om taalkonflik en kruipende Engelse hegemonie in lesingsale te bekamp, moet meertaligheid volgens die ATR van onder af opgebou word. “Beide studente én dosente moet met oortuiging entoesiasties kan wees oor die voordele van meertaligheid as ’n waardevolle hulpbron, iets wat inklusiwiteit en studentesukses makliker maak.”

Die ATR pleit ook dat die vyandigheid van die verlede ter syde gestel word en nuwe verhoudinge ontwikkel word. “Afrikaanssprekendes wat hul taal se akademiese status wil behou, moet verseker dat meertaligheid by hulle instellings werk – ook vir die ander inheemse tale. Vennootskappe is nodig om meertaligheid te laat werk.

“’n De-eskalering van die debat oor Afrikaans, eerder as nog hofsake, is nodig om die gesprek op ’n nuwe vlak te plaas. Taalklagtes bly ’n goeie manier om groot instellings soos universiteite te laat weet daar is ’n probleem op voetsoolvlak. Wanneer mense swyg, kan universiteite met reg sê almal is tevrede en niks hoef te verander nie. Indien interne klagteprosedures nie gevolg is nie, is dit ook vir organisasies soos die Taalraad moeiliker om studente te ondersteun of taalkwessies met universiteite op te volg.”

............

“Beide studente én dosente moet met oortuiging entoesiasties kan wees oor die voordele van meertaligheid as ’n waardevolle hulpbron, iets wat inklusiwiteit en studentesukses makliker maak.”

............

Volgens die ATR word formele taalklagtes nie altyd met oop arms ontvang nie. Veral eerstejaarstudente kan dit as intimiderend ervaar om dit te doen. Die ATR sê dit is egter studente se reg om binne die raamwerk van die instelling se taalbeleid oor geldige taalkwessies te kla; ook om klagtes verder te neem indien nodig.

“Wees egter altyd so konstruktief as moontlik en soek altyd vennote vir meertaligheid. Afrikaans kan nie in isolasie bevorder word nie. Hou asseblief goed boek van taalsituasies in lesingsale en elders. Hou rekord van interaksies en stappe wat geneem [sic] is om taalkwessies onder die aandag van die universiteit te bring of op te los,” is die ATR se raad aan studente wat met taalkwessies by tersiêre inrigtings sukkel .

“Die doel hiermee is nie om ‘bewysmateriaal’ teen enigiemand in te samel nie, maar om taalkwessies meer deursigtig te maak.”

Studente kan ook op ’n vertroulike basis oor enige taalverwante probleme aan die Afrikaanse Taalraad skryf (atr@afrikaansetaalraad.co.za), selfs al wil hulle geen persoonlike klagte by die betrokke universiteit indien nie. Die ATR sê hulle luister graag, en studente moet weet hulle is nie alleen nie.

Ook dosente of studentegroepe wat konstruktiewe oplossings vir taalprobleme het, of goeie voorbeelde van situasie waar meertaligheid werk, is welkom om met die ATR  te skakel. “Saam kan ons ’n ware meertalige tersiêre omgewing skep,” sê die ATR in hulle verklaring.

Buro: MvH
  • 0
Top