Nuwe internasionale studiemoontlikhede in Afrikaans

  • 0

Studente wat in Afrikaans verder wil studeer, kan dit nou wêreldwyd deur die Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia doen.

Akademia is ’n instelling wat homself uit die Afrikaanse gemeenskap vir die Afrikaanse gemeenskap posisioneer. Akademia maak daarop aanspraak dat dit daarna streef om beide hoogstaande opleiding en diepgaande opvoeding in Afrikaans te bied.

Voltydse studierigtings wat reeds in Afrikaans by hulle kampus in Centurion aangebied word, sluit onder andere ekonomiese en bestuurswetenskappe, geesteswetenskappe en natuurwetenskappe in.

Volgens Paul Vogel, operasionele hoof by Akademia, word die instelling oorweldig deur navrae van so ver soos Dubai, Nieu-Seeland en Nederland van studente wat deur middel van afstandleer in Afrikaans verder wil studeer.

“Daar is al hoe minder geleentheid vir studente om internasionaal en selfs nasionaal in Afrikaans te kan studeer. Daarom voeg Akademia ’n nuwe studieopsie by tot die bestaande nauurse aanbod sodat gehaltemoedertaalonderrig binne elkeen se bereik kan wees,” het Vogel die afgelope week in ’n verklaring bekendgemaak.

Akademia, wat nege jaar gelede met slegs 42 studente begin het, spog nou daarmee dat internasionale studente ook gehalteonderrig in Afrikaans kan ontvang. Aansoeke vir nauurse studie by hierdie privaat hoëronderwysinstelling is die afgelope week verleng tot 12 Maart om 12:00.

Akademia sê in hulle verklaring die aansoeke is verleng om voornemende studente wat nog onseker is oor hul studiemoontlikhede, die geleentheid te bied om nog aansoek te doen.

Agt kwalifikasies wat nauurs aangebied word, is nog oop vir aansoeke:

  • Baccalaureus Legum (LLB)
  • BCom (Bestuursrekeningkunde)
  • BCom (Ekonomie en Regte)
  • BCom (Finansiële beplanning)
  • BCom (Ondernemingsbestuur)
  • BSocSci (Politiek, filosofie en ekonomie)
  • Hoër sertifikaat in kantooradministrasie
  • Hoër sertifikaat in projekbestuur.

COVID-19-regulasies het reeds sedert verlede jaar akademiese kalenders by die meeste akademiese instellings ontwrig. Volgens Akademia is dit tot ’n mate steeds die geval by talle instellings, maar die regulasies kniehalter nie Akademia nie, aangesien die e-leer-opsie ononderbroke studie verseker.

Die Solidariteit Beweging se nuwe kampus vir sy Sol-Tech-beroepsopleidingskollege is ook vroeër vanjaar geopen.

Solidariteit se uitvoerende hoof, Flip Buys, sê verskeie swart meningsleiers het die afgelope maand gewys op die verskil tussen die Solidariteit Beweging se nuwe Sol-Tech-kampus, wat op die gestelde tyd en onder begroting voltooi is, en die regering se onvermoë om so iets te doen.

Buys skryf op Solidariteit se webwerf daar is nie ’n politieke oplossing in sig vir die verval wat by verskeie plekke in die land bespeur word nie. “Die vraag is wat nou gedoen moet word? Daar is immers nie ’n politieke oplossing in sig nie, en dinge kan nie net aan ’n wanfunksionele staat oorgelaat word nie.”

Volgens Buys is die goeie nuus dat ’n land nie net uit sy regering bestaan nie. Hy sê talle ander lande het al swak regerings gehad, en tog het hulle tot vandag toe staande gebly. “Die Suid-Afrikaanse samelewing is veel meer as die regering. Die feit dat die land die COVID-19-pandemie, die harde inperkings en die regering se swak bestuur daarvan goed oorleef, spreek van ’n lewenskragtige samelewing wat ten spyte van die regering presteer.”

Die Solidariteit Beweging trek tans ook landwyd aandag met hulle “Ons sal self”-projek. Volgens Buys is hulle bereid om ook “Ons sal saam” te sê indien ander gemeenskappe byvoorbeeld wil saamwerk om die verval van munisipale dienste te keer.

Buys sê die enigste vereiste hiervoor is dat dit ’n tweerigtingproses moet wees waarin die Afrikaanse gemeenskap se belange ook bevorder word. “Ons kan nie mense help wat op grond van ras aktief teen ons diskrimineer nie. Ons kan egter met mense werk wat ten spyte van verskille bereid is om met ons saam te werk oor dít waaroor ons saamstem sonder om te verwag dat ons alles wat vir ons belangrik is, moet afstaan.”

Buys sê in die proses kan daar baie geleer word uit die diplomatieke strategie wat hulle voorouers gevolg het om vir al meer as ’n eeu lank vrede in suidelike Afrika te bevorder. “Ons hoef nie vir die regering te wag om te doen wat gedoen moet word nie. Ons bou aan ons toekoms, en ons bou ook aan goeie verhoudinge.”

  • 0
Top