’n Geleentheid van verspeelde kanse. Dit is hoe burgerlike organisasies en opposisiepartye Cyril Ramaphosa se kabinetskommeling van die afgelope week opsom.
Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) sê die President het ’n geleentheid misgeloop om vir Suid-Afrika te wys dat hy ernstig is met sy kabinetskommeling wanneer dit kom by die hantering van aanspreeklikheid in swak presterende ministeries.
Daar is uit verskeie oorde skerp kritiek uitgespreek omdat Ramaphosa nie ontslae geraak het van ministers soos Gwede Mantashe, Bheki Cele, Nkosazana Dlamini-Zuma, Blade Nzimande en Ebrahim Patel, wat grootliks swak presteer het nie.
“In plaas daarvan kry ons ’n nuwe minister van elektrisiteit om die gemors wat twee ander ministers nie kon regmaak nie, op te ruim en om sommige probleemministers soos Nkosazana Dlamini-Zuma na nuwe rolle te verplaas,” sê Outa in ’n verklaring.
READ: #OUTA hoped to see the back of poor performers #GwedeMantashe, #BhekiCele, #NkosazanaDlaminiZuma, #BladeNzimande + #EbrahimPatel in #cabinetreshuffle. Instead, we got a new Minister of Electricity to clean up mess that 2 other ministers couldn't fix. https://t.co/1NvR7LExoP
— OUTA (@OUTASA) March 7, 2023
Ian Cameron, die direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society, sê in sy verklaring die jongste kabinetskommeling was Ramaphosa se laaste kans om te wys dat hy en die ANC-regering ernstig is oor die bekamping van misdaad.
“Die feit dat Bheki Cele veilig in sy pos as minister van polisie bly, ondanks al sy mislukkings en tekortkominge, wys dat die regering geen voorneme het om misdaad in Suid-Afrika te beëindig nie. Die ANC het inderdaad bloed aan sy hande,” sê Cameron.
Action Society sê hulle en ander kundiges in misdaadbekamping het in die verlede baie oplossings vir die misdaadsituasie gebied, waarvan die belangrikste was om van Bheki Cele ontslae te raak, maar nie een van hierdie voorstelle word geïmplementeer nie.
“President Ramaphosa se nalatenskap sal nie wees dat hy Suid-Afrika ten goede omgedraai het nie,” het Cameron gesê. “Sy nalatenskap sal wees dat 84 mense vandag hul lewens deur moord verloor het terwyl hy sy verhouding met Bheki Cele beskerm het.”
1/5 President Ramaphosa's #cabinetreshuffle showed the country that protecting his relationship with Bheki Cele is more important than saving lives in South Africa. https://t.co/6ZXrKb69uN
— Ian Cameron (@IanCameron23) March 7, 2023
Die DA-leier, John Steenhuisen, sê in sy verklaring Ramaphosa het bloot ’n bondel gebreekte eiers in dieselfde mandjie rondgeskuif. Daar is geen kundigheid uit die privaatsektor ingebring nie, geen gevolge vir ministers wat klaaglik in hul bestaande rolle misluk het nie, en geen vertoning van dapperheid en ruggraat deur die President om ontslae te raak van ministers in sy kabinet wat Suid-Afrikaners herhaaldelik in ’n ramp gedompel het nie.
ActionSA se leier, Herman Mashaba, het in sy reaksie gesê Ramaphosa se kabinetskommeling is niks meer as om die dekstoele op ’n sinkende skip te herrangskik nie. Mashaba sê Suid-Afrika kan floreer, maar dit sal eers gebeur wanneer Ramaphosa en sy “groep kleptokrate” in die ANC uit hulle magsposisies gedwing word en ’n etiese regering wat die land se belange eerste stel, oorneem.
Ramaphosa’s #CabinetReshuffle is nothing more than rearranging the deck chairs on a sinking ship.
SA can thrive, but this will only happen once Ramaphosa and his band of kleptocrats in the ANC are removed from power, and an ethical government that prioritises SAns, takes over. pic.twitter.com/UelhKP2IqV
— Herman Mashaba (@HermanMashaba) March 7, 2023
Pieter Groenewald van die Vryheidsfront Plus sê Ramaphosa het met sy kabinetskommeling absoluut niks gedoen aan die twee wesenlike krisisse wat ’n groot bedreiging vir die land en sy inwoners inhou nie, naamlik krag en misdaad.
“Wat die kragkrisis aanbetref, het die President vir Kgosientso Ramokgopa aangewys as minister van elektrisiteit, wat wesenlik niks anders as ’n projekbestuurder gaan wees nie.”
Hy sê daarbenewens sit Bheki Cele steeds stewig in sy stoel as minister van polisie terwyl misdaad die land verswelg.
Dit maak dit volgens Groenewald duidelik dat die President geen wil het om die land waarlik uit sy verknorsing te red nie.
“Ná die President se staatsrede was die verwagting groot dat hy daadwerklik sy kabinet sou verklein en hy het dit vanaand ook met sy kabinetskommeling aangekondig. Maar ook hier het niks van gekom nie,” het Groenewald gesê.
With his Cabinet reshuffle, President Cyril Ramaphosa did absolutely nothing to address the two most significant problems faced by the country and its people, namely power and crime. @GroenewaldPJ https://t.co/1nuAHn8ZJA
— VRYHEIDSFRONT PLUS / FREEDOM FRONT PLUS (@VFPlus) March 7, 2023
Outa sê in hulle verklaring hulle is wel bly om te sien dat Lindiwe Sisulu die trekpas gekry het en Nkosazana Dlamini-Zuma uit samewerkende regering en tradisionele sake verwyder word.
Die hertoewysing van so ’n swak presteerder soos Dlamini-Zuma na vroue, jeug en persone met gestremdhede dui volgens Outa egter op die gebrek aan belangstelling wat die President in hierdie portefeulje het.
Volgens Outa was dit ’n kabinetskommeling wat die kabinet uitgebrei het eerder as om dit kleiner te maak. Daar is min verandering in belangrike departemente met groot probleme. “Die byvoeging van ministers in die presidensie konsolideer mag sonder om openbare aanspreeklikheid te verbeter,” sê Outa.