Nuwe koronamaatreëls, betogers in België maak amok

  • 0

Betogers in België maak amok

Minstens 20 mense is in hegtenis geneem en ses mense beseer ná ’n betoging in Brussel teen die nuwe maatreëls om die verspreiding van COVID-19 te beperk. Sowat 8 000 betogers het aan die betoging deelgeneem.

Dit het aanvanklik vreedsaam verloop, maar geweld het later uitgebars toe betogers met die polisie slaags geraak het, berig VRT. Die polisie is met voorwerpe bestook en swaar vuurwerk is afgevuur. Minstens een brand is gestig en sommige polisievoertuie is beskadig. Die polisie het die betogers met ’n waterkanon en traangas uiteengejaag.

Vier betogers en twee polisiebeamptes is tydens die geweld beseer. Sowat 200 betogers het later probeer om die kantore van die media-organisasies VRT en RTBF binne te dring, maar is deur die polisie gekeer. Volgens die VRT voer die betogers aan dat “de media de bevolking manipuleren en voorliegen”.

Nuwe koronamaatreëls in België

België het vir die derde keer in drie weke sy inperkingsmaatreëls verskerp. Volgens die jongste reëls moet kinders vanaf ses jaar oud ’n masker dra, in hoërskole mag slegs die helfte van leerders klasse fisies bywoon, en laerskole maak ’n week vroeër vir die Kersvakansie toe. Klasse kry ook koolsuurgasmeters. Indien die koolsuurgasinhoud ’n sekere meting oorskry, moet ventilasie verbeter word. Restaurante mag, anders as in Nederland, tot 23:00 oop bly. Groot groepe mense mag egter nie meer bymekaarkom nie. Kinders vanaf vyf jaar sal so gou moontlik ingeënt word. Teen Vrydag het België al twee miljoen skraagdosisse toegedien, wat dit een van die voorlopers in die EU maak.

Hospitaalopnames stabiliseer in Nederland en België

’n Woordvoerder van die Landelike Netwerk vir Akute Sorg (LNAZ) in Nederland, Ernst Kuipers, is optimisties oor die daling in die getal nuwe opnames in hospitale in Nederland. Op die oomblik word sowat 2 754 pasiënte met COVID-19 in hospitale behandel, maar dit blyk dat al hoe minder nuwe pasiënte die afgelope paar dae in hospitale opgeneem is. Volgens Kuipers is dit ’n kwessie van tyd voordat die totale besetting in hospitale en gepaardgaande druk op verpleging afneem. “Ik durf te zeggen dat we over een hoogtepunt heen zijn,” sê Kuipers. Dit is nog onduidelik wat die effek van die nuwe Omikron-variant op hospitaalopnames sal wees.

Volgens die jongste syfers van die RIVM daal die gemiddelde getal positiewe toetse per dag. Die afgelope week is gemiddeld 21 140 positiewe toetse per dag geregistreer – dit is 4% minder as ’n week vantevore. Intussen is bekend gemaak dat die nuwe variant al by 36 mense vasgestel is.

Ook in België is besmettingsyfers en hospitaalopnames aan die daal. Verlede week is al gemerk dat die skerp styging in infeksies in krag afneem. Dit is bevestig deur die syfers wat die afgelope naweek deur die Belgiese Federale Instituut vir Volksgesondheid, Sciensano, bekend gemaak is. Van 25 November tot 1 Desember is sowat 17 758 mense met COVID-19 besmet – ’n styging van 2% op ’n weekbasis, maar ’n dag vantevore was die styging nog 4% en twee dae daarvoor was dit 6%. In hospitale is die opnames ongeveer gelyk aan wat dit ’n week vantevore was, maar dit dui daarop dat opnames aan die daal is, berig VRT NWS.

Prinses Beatrix toets positief vir COVID-19

Prinses Beatrix, wat verlede week op besoek was in Curaçao, het met haar terugkeer na Nederland positief vir COVID-19 getoets. Die 83-jarige voormalige koningin van Nederland het geringe verkouesimptome gehad en het besluit om haar te laat toets. Dit toets was positief. Die prinses is tans in isolasie in Kasteel Drakensteyn, wat beteken dat sy nie haar kleindogter, kroonprinses Amalia, se verjaardag sal kan bywoon nie. Voertaal het die vorige week berig dat die prinses tydens haar besoek aan Curaçao ’n skraagdosis gekry het. Volgens koning Willem-Alexander gaan dit goed met sy ma en is haar simptome nie ernstig nie.

Kroonprinses Amalia word mondig

Kroonprinses Amalia van Oranje het gister, 7 Desember, haar 18de verjaardag gevier, wat beteken dat sy volgens Nederlandse wette mondig is. Die koningshuis het nie bekend gemaak hoe die prinses vanjaar haar verjaardag vier nie, maar wel nuwe foto’s van haar uitgereik. Die NOS berig dat Amalia die afgelope April op Koningsdag in Eindhoven gesê het dat sy dit nie juis “spannend” gevind het toe sy 17 geword het nie, “dus 18 zal niet heel anders zijn”. Noudat die prinses mondig is, beteken dit dat sou haar pa, koning Willem-Alexander, iets oorkom of afstand doen van die troon, sy koningin sal word. Na verwagting sal die prinses van nou af meer gereeld tydens amptelike geleenthede optree. Haar eerste belangrike openbare optrede is juis Woensdag wanneer sy voor die Raad van State ’n toespraak sal hou.

Wolf kry skuld vir dooie skape

Vier skape is Sondagnag op die Belgiese grens met Nederland in Essen-Hoek doodgebyt en nog ses skape is beseer. Die eienaar vermoed dat dit die werk van ’n wolf is, maar dit word nog ondersoek. Die betrokke skape wei in die somer op die Kalmhoutse Heide, maar in die winter staan hulle onderdak by ’n skaapboer. Die boer sê: “Dat de schapen niet in paniek zijn geraakt bij het zien van hun aanvaller heeft te maken met het feit dat de schapen zijn getraind door een herdershond.” Dit versterk nog die vermoede dat die aanvaller ’n wolf was. Hy sê voorts talle van die skape is dragtig, wat hul dood nog meer hartseer maak. Die skape is intussen na ’n veiliger plek vervoer. Kleinveeboere word gevra om hul vee snags op stal te hou of met elektriese omheining te beveilig.

Elektriese vragskip ’n werklikheid

Die dagblad Trouw berig ’n vragskip wat bier vervoer, De Alphenaar, vaar elke dag van Alphen aan den Rijn na Moerdijk met 52 houers vol Heineken-bier. Die skip is volledig elektries, maar die enigste manier waarop ’n mens dit kan sien, of liewer hoor, is juis dat jy byna niks hoor nie. Die skip is in 2019 gebou en onlangs omgebou sodat dit elektries kan vaar. “Gaat goed, je merkt geen verschil, behalve dat-ie stil is,” sê kaptein Meine van der Knaap. “Da’s ook prettig voor de mensen die langs de vaarroute wonen.” Hoewel die skip deur batterye aangedryf word, beteken dit nie dat dit heeltemal geen uitlaatgasse vrystel nie. Soms is daar nog groeipyne, soos dat daar probleme is by die oplaaiplekke of op die skip self. Dan word ’n dieselopwekker ingespan om genoeg krag te voorsien. Nietemin, die boot is bewys dat dit wel moontlik is om met ’n skip vrag heeltemal elektries te vervoer. Die skip vaar op twee batterye wat by ’n laaistasie opgelaai word. Sodra die batterye vol gelaai is, kan die boot die tog van vyf en ’n half tot ses uur na Moerdijk aandurf. Die leë boot vaar dan weer terug na Alphen aan den Rijn waar die batterye ná twee en ’n halfuur se laai weer genoeg krag het vir die volgende vaart. Die leier van die projek, Willem Dedden, verwag dat sowat 150 elektriese skepe teen 2030 op Nederlandse riviere sal vaar.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top