Betrekkinge tussen die DA en die Patriotic Alliance (PA) wat tot onlangs saam met die DA in ’n koalisie was in onder andere Johannesburg se stadsraad, het ’n nuwe laagtepunt bereik die afgelope naweek.
Die adjunkpresident van die PA, Kenny Kunene, het in kras taal in ’n videoboodskap op Twitter uitgevaar teen die DA se Gautengse leier, Solly Msimang.
Kunene, wat byna net so omstrede is soos sy leier, Gayton McKenzie, beskuldig die DA se Gauteng-leier van allerhande ongerymdhede en slinger persoonlike beledigings in sy rigting.
Verhoudings tussen die twee partye het toenemend versuur nadat die PA sy rug op die DA gedraai het en daartoe bygedra het dat die vorige DA-burgemeester, Mpho Phalatse, uit die kussings gelig word en die stad nou met behulp van kleiner partye deur die ANC en EFF regeer word.
Die PA is ook nie deur die DA-leier, John Steenhuisen, genooi na sy voorgenome gesprek met ander partye om sy voorstel vir ’n sogenaamde Moonshot-pakt te bespreek om volgende jaar van die ANC ontslae te raak nie.
In die video van net meer as twee minute lank het Kunene gesê Msimang is vol k@k en hy is nie goed genoeg ged@*#r nie. “Jou f@*$$n stuk sh*t,” het Kunene in sy video voortgetier.
Kunene is onder andere bekend vir sy liefde vir soesji en daar word na hom verwys as “die soesjikoning” of “meneer soesji” nadat hy ’n paar jaar gelede koerantopskrifte gehaal het toe hy saam met Julius Malema partytjie gehou het in 2010 en soesji van ’n halfkaal vrou se lyf geëet het.
"Dit is nie die eerste keer dat jy ons beledig en Judasse noem nie. Nou vertel jy ons dat ons geen opsies het nie. Solly Msimanga, jy kan ons nooit in ’n hoek sit nie; ons werk in ’n rondawel," sê Kunene in die video.
In sy jongste tirade beskuldig hy Msimang ook van korrupte bedrywighede en maak allerhande bewerings teen hom van geld wat hy glo vir persoonlike doeleindes sou misbruik het.
ActionSA se voorsitter, Michael Beaumont, het volgens Eyewitness News probeer om water op die vuur te gooi en ’n beroep op die partye gedoen om koelkop te wees in belang van koalisieregering. Beaumont het gevra vir groter samewerking om ’n koalisie te vorm wat die ANC en EFF se beheer oor Johannesburg kan beëindig en sê daar moet op die groter prentjie gefokus word.
ActionSA het verlede week mosies van wantroue in die Stad Johannesburg se burgemeester asook die speaker, Colleen Makhubele, en ander ampsdraers ingedien en hoop om die stad weer uit die hande van die ANC en EFF te neem.
Om dit reg te kry benodig hulle saam met ander partye soos die DA ook die PA se steun, maar die party word allerweë as ’n onbetroubare koalisievennoot beskou wat telkens sy wind na die seile span ter wille van poste vir hulleself.
Hulle leier, Gayton McKenzie, het al verskeie kere in die verlede erken sy party sal met enige ander party saamwerk om sy eie belange te bevorder ongeag of dit die ANC, EFF of Vryheidsfront Plus is.
Dit is nog nie duidelik presies wat die PA dié slag gaan doen nie, maar McKenzie het reeds gesê hy is nou spyt hulle het die ANC en EFF gesteun om van die DA-burgemeester ontslae te raak en sommer terselfdertyd sy eie naam in die hoed gegooi om die volgende burgemeester van die Goudstad te word.
Dit is hoogs onwaarskynlik dat die ander koalisiepartye daarvoor te vinde sal wees om Johannesburg se goue ketting om McKenzie of enge ander PA-lid se nek te hang, al het hulle die party se stemme nodig om van die ANC en EFF ontslae te raak, aangesien hulle die PA as ’n politieke manteldraaier beskou.
Later het McKenzie gesê hy hoef nie noodwendig die nuwe burgemeester van Johannesburg te wees vir sy party om die verwydering van die huidige burgemeester te ondersteun nie. “Ons sal enige mosie ondersteun wat poog om ’n meer bekwame burgemeester in te bring, al is dit nie ek nie.”