Nuwe parlement gaan met hofsake opgeskeep sit

  • 0

Suid-Afrika se nuwe parlement wat oor minder as twee weke verkies word, sal sy werksaamhede moet begin met ’n swaard wat oor sy kop hang. Dit is as gevolg van twee omstrede stukke wetgewing wat inderhaas op die vooraand van die verkiesing deurgevoer en onderteken is en nou in die howe beveg gaan word.

Dit volg na gister (Donderdag) se aanvaarding van die wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela-wet) in die doodsnikke van die huidige parlement se bestaan, asook die ondertekening die afgelope Woensdag van die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) deur president Cyril Ramaphosa.

Albei hierdie wette se grondwetlikheid sal na die verkiesing in die howe getoets word.

Die Bela-wet is met ’n oorweldigende meerderheid van 223 stemme ten gunste daarvan goedgekeur met slegs 78 stemme daarteen.

Die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) het Dinsdag sekere wysigings aanvaar, waarna dit na die portefeuljekomitee oor basiese onderwys terugverwys is. Die komitee het hulle verslag aan die Nasionale Vergadering (NV) voorgelê, wat dit goedgekeur het kort voordat die huidige parlement vir oulaas verdaag het.

Dele van die wetsontwerp is hewig deur politieke partye, die burgerlike gemeenskap en ander betrokkenes gekritiseer. Dit geld veral vir ’n deel van die wet wat taalbeleid by skole bepaal.

Ramaphosa, wat Woensdag die omstrede NGV bekragtig het, moet nou ook die Bela-wetsontwerp onderteken voordat dit amptelik wet is.

Die DA se skaduminister van basiese onderwys, Baxolile Nodada, sê in ’n verklaring die ANC het die toekoms van talle generasies opgeoffer vir goedkoop verkiesingspropaganda deur die Bela-wetsontwerp deur die parlement te stoomroller.

Hy sê in plaas daarvan om betrokke te raak by betekenisvolle gesprekke oor die wydverspreide implikasies van die wetsontwerp en die veranderinge wat deur die NRP gemaak is, het die ANC-voorsitter geweier om die parlementêre protokol te volg, en opponerende partye se reg ontken om deeglike insette oor die veranderinge te maak. “Sy het my uit die vergadering geskop omdat ek geldige bekommernisse geopper het, en haar ANC-meerderheid het ’n wetsontwerp vol foute aanvaar sonder om die finale weergawe daarvan te ondersoek.

“Dit blyk hoe nader dit aan 29 Mei kom, hoe meer desperaat is die ANC om die publiek wat hulle al 30 jaar lank geplunder en ondermyn het, te probeer oortuig dat hulle werklik omgee. Maar hul optrede rakende die publieke deelname spreek harder as hul desperate verkiesingspogings,” het Nodada gesê.

Solidariteit en AfriForum se regspanne het reeds Donderdag bymekaargekom om hofstukke teen die Bela-wysigingswetsontwerp te finaliseer. Die organisasies het op X gesê die regering onderskat hoe belangrik Afrikaanse gemeenskappe hulle skole ag.

Wynand Boshoff van die Vryheidfront Plus het in ’n verklaring gesê indien die President hierdie wet teken, dit ’n onmiddellike regstryd sal ontketen. Hy sê die gebrekkige manier waarop openbare deelname in ag geneem is, asook aspekte van die wet self, sal waarskynlik in die Konstitusionele Hof draai.

Indien die regering wel die wet begin toepas, kan daar volgens Boshoff ’n uittog uit openbare skole verwag word. Hy sê dit sal net nóg ’n teken van staatsverval word.

Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas, het beklemtoon dat die Bela-wetsontwerp nie bloot ’n saak van taal- en kultuurbeleide is nie, maar eerder die begin van totale staatsbeheer oor skole in Suid-Afrika.

Volgens Albert Lamey, ’n advokaat van Pretoria, verleen artikel 6 van die Suid-Afrikaanse Skolewet (Sasa) die bevoegdheid aan die beheerliggaam om die taalbeleid van ’n skool te bepaal, behoudens die Grondwet, die Sasa en enige toepaslike provinsiale wetgewing. Die taalbeleid sluit onder meer die onderrigtaal, asook die skool se interne kommunikasietaal in.

Lamey sê die Bela-wetsontwerp beoog om artikel 6 van die Skolewet te wysig deur die beheerliggaam te verplig om sy taalbeleid aan die hoof van die Departement van Onderwys van die betrokke provinsie vir goedkeuring te stuur. Dit beteken dat die finale goedkeuring van ’n skool se taalbeleid by die staat berus en nie langer by die beheerliggaam of die skoolgemeenskap nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top