Nuwe parlement word Vrydag geopen met of sonder die MK-party

  • 0

Die eerste sitting van die nuwe parlement se Nasionale Vergadering, waartydens die nuwe parlementsede ingesweer en die president en speaker verkies sal word, vind op Vrydag 14 Junie plaas.

Hoofregter Raymond Zondo het die aankondiging Mandag gemaak.

Die parlement het intussen alle reis- en verblyfreëlings vir lede van die MK-party (MKP) wat vandeesweek ingesweer gaan word, gekanselleer, aangesien die party aangedui het dat hulle dit nie sal bywoon nie. Die parlement sê die sitting sal vandeesweek sonder die MKP voortgaan, tensy ’n hof dit keer.

Die MKP het vroeër in ’n verklaring gesê hulle beoog om die sameroeping van wat hulle as die “ongrondwetlike sitting” van die Nasionale Vergadering bestempel, deur middel van ’n hofbevel te verbied. Die party wil hê alle stemme van verlede week se verkiesing moet weer getel word. Indien die parlement voortgaan met die opening van die parlement, sal die MKP dit boikot.

Die parlement het Maandag in ’n verklaring gesê hulle het kennis geneem van die brief van die MKP se voorneme om die geldigheid van die verkiesingsuitslae soos deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) verklaar, te betwis.

Die geskorste stigter van die MKP, Jabulani Khumalo, het egter bevestig dat hy wel die eerste sitting van die parlement sal bywoon om die party te verteenwoordig. Ondanks die feit dat hy deur die party geskors is, verskyn Khumalo se naam steeds op die lys van MKP-lede wat die party in die Nasionale Vergadering gaan verteenwoordig.

Die sekretaris van die parlement, Xolile George, het aan Eyewitness News gesê partye kan hul lys eers na een jaar wysig, maar uitsonderings kan gemaak word in gevalle van dood, siekte en ’n bedanking. Om die partylys te wysig benodig die parlement briewe van beide die betrokke lid en die party wat dit bevestig.

Die parlement stem ook nie saam met die MKP se interpretasie van artikel 46 van die Grondwet nie. Die parlement is van mening dat hy wetlik verplig is om die eerste sitting van die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies te fasiliteer op ’n datum en tyd wat deur die hoofregter bepaal word, en glo daar is geen wetlike belemmerings wat hierdie proses verhinder nie.

“Volgens artikel 49(3) van die Grondwet, tensy en totdat die uitslag van die verkiesing deur ’n hof tersyde gestel word, moet die parlement verseker dat die sittings verloop soos aangedui. Omdat die eerste sittings van die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies fisies sal plaasvind, is die parlementêre administrasie in die proses om reëlings te tref om reis en verblyf te voorsien vir alle lede wat deur die OVK gelys is, soos oorhandig deur die hoofregter, om hierdie sittings en die gepaardgaande aktiwiteite wat in Kaapstad geskeduleer is, by te woon,” lui hulle verklaring.

In die lig van die MKP se uitgesproke besluit deur hul regsverteenwoordigers om nie die eerste sitting by te woon nie, het die parlement alle reëlings vir verblyf en vlugte vir die party se verkose lede gekanselleer. Die parlement sê hierdie maatreël is om te verhoed dat vrugtelose en verkwistende uitgawes aangegaan word, in ooreenstemming met die Wet op Finansiële Bestuur van die Parlement en Provinsiale Wetgewers, 2009.

Die parlement het weer sy verbintenis tot die uitvoering van sy verantwoordelikhede kragtens die Grondwet in die skedulering van die eerste sittings van die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies bevestig. “Ons bly toegewyd om te verseker dat die gevestigde demokratiese prosesse en prosedures gehandhaaf word in ooreenstemming met die wette en Grondwet van ons land,” lui die verklaring verder.

Intussen gaan die onderhandelings tussen die ANC en opposisiepartye om ’n regering van nasionale eenheid saam te stel steeds agter die skerms voort. President Cyril Ramaphosa het Maandag in sy weeklikse nuusbrief gesê terwyl die land voorberei vir ’n nuwe demokratiese administrasie, moet alle partye saamwerk om die momentum van hervorming, groei en transformasie te handhaaf.

Ramaphosa sê in sy nuusbrief ’n stabiele en doeltreffende regering wat tot ekonomiese hervorming verbind is, sal die land in staat stel om ’n inklusiewe en groeiende ekonomie te bou wat alle Suid-Afrikaners bevoordeel.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top