’n Privaat maatskappy met Nederlandse bande is besig met groot planne om miljoene rand vir meer Afrikaanse skole te werf.
Dit geskied teen die agtergrond van die omstrede Bela-wetsontwerp wat skoolbeheerliggame van hul magte gaan stroop om openbare skole se taal- en toelatingsbeleid te bepaal.
Die voorgestelde wysigings aan die Wet op Basiese Onderwys wat tans deur die Nasionale Raad van Provinsies oorweeg word, kan die 1 200 skole in die land wat tans Afrikaanse moedertaalonderrig bied, drasties verminder.
So sê Roedolf van der Westhuizen, uitvoerende hoof van die MOS- (Moedertaal in Onafhanklike Skole-) inisiatief.
MOS is ’n privaat maatskappy wat in 2019 deur die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO) gestig is en tans besig om hul netwerk van Afrikaanse privaat skole uit te brei.
Weens die voortdurende risiko dat die aantal openbare skole wat in Afrikaans onderrig bied, verminder sal word, is daar met ’n inisiatief begin om R100 miljoen te werf om meer privaat Afrikaanse skole te skep sodat Afrikaanse skole vermeerder kan word.
“As ’n mens in ag neem dat 7,4 miljoen mense – meer as 12% van die bevolking – Afrikaans as eerste taal praat, is dit baie duidelik dat volgehoue kwaliteitonderrig in Afrikaans in landsbelang is,” sê Van der Westhuizen.
Hy sê die stigters van die MOS-inisiatief weet hoe belangrik dit is om in jou moedertaal te leer. Hulle is tans besig om hul netwerk van Afrikaanse privaat skole uit te brei wat kwaliteitonderrig aan kinders van ses maande tot matriek bied.
“Die MOS-skole is toekomsgerig en rus leerders toe met die karaktereienskappe en vaardighede wat deur ’n vierde-industriële-revolusie-werksplek benodig word. Leerders kan hierdie kritieke vaardighede in hul moedertaal by MOS-skole verwerf,” sê Van der Westhuizen.
Volgens MOS is daar ’n geleentheid vir uitsonderlike groei weens die vraag na die hoëkwaliteitskole in hulle netwerk vanweë die voortdurende risiko dat die aantal openbare skole wat in Afrikaans onderrig bied, verminder sal word.
Om meer privaat Afrikaanse skole te bou is egter ’n kapitaalintensiewe proses. Alhoewel die MOS-inisiatief ’n baie sterk besigheidsmodel het wat werkbaar is deur die toepassing van moderne tegnologie, is daar besluit om die tempo te versnel deur kapitaal by ondersteuners en beleggers te werf.
“Deur fondse vir addisionele Afrikaanse privaat onderrig te werf, kan ons in ons ryk Afrikaanse kultuur belê en die toekoms van jongmense in ons land beskerm en uitbou.”
Om hierdie doelwit te bereik wil MOS deur middel van blokkettingtegnologie effekte aan ’n groter groep beleggers beskikbaar stel as wat die geval sou wees indien hulle tradisionele kapitaalmarkte sou gebruik.
Mesh.Trade (Mesh) se digitalekapitaalmark-ekosisteem sal hiervoor gebruik word. Mesh.Trade is in Nederland gebaseer en het sakebelange in Suid-Afrika. Die maatskappy het uitgebreide kennis van finansiële markte en produkte, en robuuste tegnologiese infrastruktuur om die MOS-slim-effek se sukses te verseker. Die beoogde slimeffekte sal ’n eerste vir Afrika wees.
“Dit is ’n opwindende, innoverende produk gegewe die toenemende belangstelling in die verhandeling van bewyse in markte soos die VSA en die Europese Unie,” verduidelik Van der Westhuizen.
Beleggers kan van 11 tot 26 April op die MOS-slim-effekte inteken wat vir 10 jaar teen prima plus 2% uitgereik word. “Die MOS-slim-effekte word ten volle deur die Trust vir Afrikaanse Kuns, Kultuur en Erfenis (deel van die Dagbreek Trust-familie) onderskryf en gewaarborg,” sê Van der Westhuizen. Die doelwit is om R100 miljoen te werf om die MOS-netwerk van Afrikaanse skole uit te brei.
Die MOS-inisiatief-bestuurders verwag dat die vraag na die MOS-slim-effekte die aanbod wesenlik sal oortref, aangesien “mense die waarde van moedertaalonderrig verstaan,” sê Van der Westhuizen.
Connie Bloem, medestigter en besturende direkteur van Mesh, sê dat baie snelgroeiende maatskappye wêreldwyd alternatiewe, lewensvatbare opsies om kapitaal te werf ondersoek.
“Ons beweeg in ’n era van Finansies 3.0 wat daarop gemik is om finansiële markte oper, toegankliker, eenvoudiger en meer deursigtig te maak. Mesh se unieke stelsel maak dit moontlik om slim-effekte in die alternatiewe finansiële en privaat kapitaalmarkte uit te reik, te verhandel en te bestuur. Hierdie unieke bates is nêrens anders beskikbaar nie en word direk op Mesh se platform deur toekomsgerigte ondernemings in snelgroeiende bedrywe uitgereik,” sê Bloem.
Beleggers sal die geleentheid hê om opbrengste te verdien op ’n belegging waarvan die risiko redelik bestuur word, terwyl hulle terselfdertyd ’n beduidende en belangrike bydrae tot die beskerming van Afrikaans as onderrigtaal sal lewer.
Die ekonoom Dawie Roodt sê dit sal sonder twyfel ’n presedent skep ten opsigte van die wyse waarop ander plaaslike ondernemings in die toekoms kapitaal sal werf. Volgens Roodt bied dit nuwe geleenthede aan beleggers, wat toegang kry tot unieke bates waaraan hulle nie noodwendig in die verlede blootstelling gehad het nie.
- Meer oor die MOS-inisiatief kan hier op hulle webwerf gesien word.