Nuwe polisieminister wil misdaad met mening takel

  • 0

’n Veiliger Suid-Afrika waar mense regoor die land enige tyd kan rondbeweeg sonder om bang te wees vir plunderende misdadigers.

Dit is die nommer 1-doelstelling van die land se nuwe minister van polisie, Senzo Mchunu, wat Maandag ’n “beslissende plan” aangekondig het om die polisiebestuurstelsel op te knap. Dit is deel van ’n groter program wat daarop gemik is om die land se ondraaglike misdaadvlakke onder beheer te bring.

Ná president Cyril Ramaphosa se aankondiging van sy nuwe kabinet het die ministerie van polisie, bestaande uit Senzo Mchunu en sy twee adjunkministers, Cassel Mathale en Polly Boshielo, ’n media-inligtingsessie gehou om die publiek en media in hulle vertroue te neem oor die ministerie se prioriteite wat die veiligheid en sekuriteit van die land betref.

Mchunu en sy span het tydens hulle eerste inligtingsessie sedert sy  ampsaanvaarding “strawwe” maatreëls belowe om die skerp toename in kontakmisdade, insluitend moord, verkragting, kaping en ontvoerings, te hanteer.

Mchunu sê in ’n verklaring die land se misdaadvlakke neem toe en is ondraaglik hoog. Hy sê daar moet beslis opgetree word om dit onder beheer te bring.

“Die voorste misdade in die land tans is kontakmisdade, soos moord en verkragting, asook kapings en ontvoerings vir losprysbetalings,” het Mchunu gesê. 

Die moord op vroue en kinders is ook rede tot ernstige kommer en regverdig intensiewe optrede van wetstoepassers, het hy gesê.

“Ons missie is duidelik: Ons land moet veilig wees vir alle burgers.”

Bendegeweld is volgens die minister merkbaar aan die toeneem in die Wes-Kaap.

Hy sê die situasie moet onder beheer gebring word sodat kinders in die Kaapse Vlakte, Khayelitsha, dele van Nelson Mandelabaai en dele van Gauteng in die strate kan speel sonder vrees om deur dwaalkoeëls getref te word.

Die sogenaamde konstruksiemafias is nog iets wat deur die ministerie uitgesonder is en spesiale aandag sal kry. “Ons neem die kwessie van ‘konstruksiemafias’ in die land baie ernstig op. Hierdie neiging word geassosieer met vernietigende aktiwiteite wat die konstruksie en infrastruktuurontwikkeling ontwrig wat ons land dringend benodig.”

Die minister sê opregte soeke na ekonomiese transformasie kan deur die regte kanale en met behulp van bestaande beleidsvoorskrifte hanteer word sonder om die toevlug te neem tot die kaping van konstruksieterreine en om afpersing te gebruik om besigheid te verkry.

Deel van die ministerie se planne om misdaad in die  land te bekamp, sluit in wysigings aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens- (SAPD-) wet en die professionalisering van die polisiediens.

Hy sê wysigings aan die SAPD-wet moet geprioritiseer word omdat dit verouderd is. “Dit moet strook met hedendaagse eise vir misdaadbekamping en -voorkoming. Ons sal ook die nasionale beleid oor polisiëring finaliseer. Dit moet provinsiale behoeftes en prioriteite in ag neem.”

Sentraal tot die minister se strategie is die dringende professionalisering van die SAPD deur positiewe etiese waardes, patriotisme en begrip te vestig. “Dit moet die primêre plig van ’n polisiebeampte wees om altyd die publiek te dien en te beskerm.”

Die uitroei van korrupsie en die verwydering van korrupte polisiebeamptes uit die SAPD sal ’n top prioriteit bly. Wangedrag deur SAPD-lede sal nie geduld word nie en daar sal teen hulle opgetree word.

Negatiewe persepsies wat die publiek van polisiebeamptes het, moet verander word. “Mense moet polisiebeamptes respekteer, vertroue in hulle hê en veilig in hul midde voel.”

Misdaadintelligensie sal nog een van die nuwe span se top prioriteite wees. Die minister sê misdaadintelligensie is die ruggraat van polisiëring. Robuuste misdaadintelligensievermoëns is noodsaaklik vir die handhawing van openbare veiligheid, die verlaging van misdaadsyfers en die bevordering van ’n veilige omgewing vir gemeenskappe.

Hy sê die polisie se begroting oor hierdie aangeleentheid moet beslis hersien word.

Daar is ook te veel vuurwapens in die strate, het die minister gesê. Hy sê die polisie gaan hulle pogings om onwettige vuurwapens uit die strate te verwyder en om verbeterde wapenbeheermaatreëls te verseker, verskerp.

Mchunu sal vandag (Dinsdag 16 Julie) sy begrotingstoespraak in die Nasionale Vergadering lewer, waar hy die aksieprogram vir hierdie jaar sal uiteensit.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top