Die stryd om die Suid-Afrikaanse atletiekster Caster Semenya se atletiekloopbaan te red, het ’n nuwe wending geneem. Atletiek Suid-Afrika (ASA) het aangekondig hulle gaan appelleer teen die beslissing van die Hof vir Arbitrasie in Sport in die Caster Semenya-saak.
Die minister van sport, Tokozile Xasa, het die atletiekliggaam opdrag gegee om te appelleer teen die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie (CAS) se beslissing dat hiper-androgene vroue-atlete wat meeding in wedlope tussen 800m en een myl, soos Suid-Afrika se Caster Semenya, hul testosteroonvlakke moet verlaag om op die wêreldverhoog te kan deelneem.
ASA gaan aansoek doen dat twee van die paneellede van die hof hulle aan die saak onttrek omdat hulle glo ’n konflik van belange het omdat hulle in 2015 ’n soortgelyke saak teen die Indiese naelloper Dutee Chand hanteer het. ASA sê die wetenskaplike feite voor die hof en die uitkoms kom nie ooreen nie. Volgens ASA het die hof ook nog nie pertinente regsvrae rondom die nuwe regulasies hanteer nie. Die appèl sal by die Switserse Federale Tribunaal aangehoor word op ’n datum wat nog vasgestel moet word.
In ’n verklaring wat Maandag deur die ministerie van sport uitgereik is, sê hulle die stap volg op die advies van ’n paneel hoëvlak deskundiges wat vergader het om die pad vorentoe te bespreek.
Die nuus dat Atletiek Suid-Afrika gaan appelleer teen die beslissing van die Hof vir Arbitrasie in Sport in die Semenya-saak het wêreldwyd soos ’n veldbrand op sosiale media versprei en talle nuusagentskappe het daaroor berig.
The South African government is "instructing" the country's athletics governing body to appeal against the Court of Arbitration for Sport decision on female eligibility that directly affects their Olympic champion Caster Semenya. https://t.co/hvUgogATX0 #RTEsport
— RTÉ Sport (@RTEsport) May 13, 2019
Semenya geniet wêreldwyd steun vir haar saak. Sy het verlede week op Twitter duidelik te kenne gegee dat sy nie van plan is om die stryd gewonne te gee nie. Sy het ’n skets met ’n gebalde vuis op haar Twitter-rekening geplaas met die woorde “aluta continua” wat beteken die stryd duur voort.
— Caster Semenya (@MightyCaster) May 9, 2019
Die Departement van Sport sê hulle sal teen die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie se uitspraak appelleer en die vereiste dokumente binne die voorgeskrewe tydperk inhandig.
ASA sê hulle het ’n sterk saak vanuit ’n wetenskaplike, mediese en regsoogpunt en die uitspraak wat gelewer is, is ondenkbaar. Volgens ASA is die uitspraak en die feite wat voor die hof gedien het in konflik met mekaar.
Die pertinente regsvrae wat die hof moes vra is volgens ASA nie aangespreek nie. Hulle voer aan die hof het die IAAF onbelemmerde ruimte gegee om te maak soos hy wil. Daar was glo ook nie duidelikheid hoe die IAAF die regulasies sal implementeer en hoe etiese kwessies hanteer sal word nie.
Die verklaring sê ook dat ander staatsorgane en internasionale rolspelers betrek gaan word in die stryd teen die IAAF vir wat hulle bestempel as die verontagsaming van internasionale menseregte-bepalings.
Die IAAF se nuwe regulasies, wat mense soos Semenya se atletiekloopbaan kan vernietig, is van verlede Woensdag van krag. Die organisasie se president, Sebastian Coe, het die uitspraak op 1 Mei verwelkom. Die IAAF het sedertdien in ’n brief aan die Wêreld Mediese Vereniging (WMA) gesê Semenya en ander vroue-atlete met hoë testosteroonvlakke is welkom om teen mans deel te neem as hulle nie hul vlakke wil verlaag nie.
Buro: NB