Enige maatskappy wat lekkergoed of speelgoed versprei wat soortgelyk aan regte sigarette is, of wat sigarette aan ’n minderjarige verkoop, sal streng beboet word en persone kan selfs tot 15 jaar tronkstraf opgelê word indien die regering se nuwe rookwet goedgekeur word.
Dit is alles deel van die regering se doel om openbare gesondheid te bevorder en in ooreenstemming te kom met die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se raamwerkkonvensie oor die tabakbeheerverdrag.
Die nuwe wetsontwerp op die beheer van tabakprodukte en elektroniese rooktoestelle wat tans voor die parlement dien, sal ook elektroniese nikotien en nikotienvry sigarette vir die eerste keer streng reguleer. Dit beoog ook 100% rookvrye gebiede, insluitend in sommige openbare areas, werkplekke of voertuie.
Teenstanders van die wetsontwerp het dit as drakonies beskryf, maar die regering stem nie saam nie.
Die omvang van die wetgewing het die afgelope week duideliker geword tydens ’n webinaar oor tabakbeheer.
Dr Tshimi Lynn Moeng-Mahlangu van die Departement van Gesondheid het tydens die webinaar gesê die konsepwetsontwerp poog om die huidige Wet van 1993 te herroep.
Volgens die regering se amptelike nuuswebwerf, SANews, is die regering vasbeslote om voort te gaan met die voorgestelde wetgewing.
Die nuwe wet sal ook bepaal hoe sigarette verpak word en beveel die gebruik van grafiese waarskuwings op sigaretpakkies aan. Dit plaas ’n algehele verbod op die vertoon van sigarette by verkooppunte, asook ’n verbod op munt-outomate wat tabakprodukte verkoop.
Moeng-Mahlangu sê toe daar begin is om die wet te wysig, het hulle besef meer as die helfte van die wet moet gewysig word. Hulle moes dus met ’n splinternuwe wetsontwerp vorendag kom wat die huidige tabakwet sal herroep.
Sy sê die huidige wet maak ook nie voorsiening vir die regulering van e-sigarette en vaping-produkte nie. Daar is tans maklike toegang tot al hierdie nuwe produkte wat blootstelling aan kinders en almal verhoog. “Daar is geen beheer nie,” het Moeng-Mahlangu gesê.
Sy glo indien die status quo gehandhaaf word, sal e-sigarette die mark aanhou oorstroom. Sy sê opvoeding alleen sal nie mense afskrik om hierdie produkte te gebruik nie, daarom moet daar ’n omgewing geskep word wat toegang tot hierdie produkte inhibeer.
Selfs al hierdie maatreëls is volgens haar nie voldoende om die gewenste uitkoms te hê nie en sy sê al die betrokke sektore moet saamwerk aan ’n opvoedingsprogram om die vraag na al hierdie skadelike produkte te beperk. In haar toespraak het sy die WGO-verslag aangehaal wat bevind het dat e-sigarette “ongetwyfeld skadelik” is en giftige stowwe bevat, insluitend nikotien, wat hoogs verslawend is.
Volgens die bevindinge kan dit tot ’n hartaanval en ’n beroerte lei en breinontwikkeling by adolessente benadeel.
“Die langtermyn-gesondheidseffekte van hierdie produkte bly onduidelik, maar as ons as ’n land gaan wag totdat ons die langtermyn-effekte sien, is dit dalk te laat vir ons om op te hou, en baie jongmense sal reeds verslaaf wees aan die produk.”
Moeng-Mahlangu het gesê die regering is vasbeslote om jong kinders, niegebruikers, swanger vroue en gesinne te beskerm waar daar rokers is.
“Dit is ’n grondwetlike noodsaaklikheid vir die regering om ons burgers te beskerm teen die skadelike gevolge van tweedehandse rook. As jy ’n crèche het waar die eienaar rook, of as daar mense is wat rook of kinders in die motor het en volwassenes rook, is dit op sigself ’n probleem, want dit beteken kinders word blootgestel.”
Met verwysing na die Global Adult Tobacco Survey (GATS) van 2021 het Moeng-Mahlangu gesê dat 25,8% van Suid-Afrikaners 15 en ouer tabakrokers is.
“In sommige van die winkels kan jy sien dat die sigarette langs lekkers geplaas is, wat beteken selfs kinders kan toegang daartoe hê.”
Sy het ook opgemerk dat tabakverwante siektes die land sowat R42 miljard kos, terwyl die bedryf tussen R12 en R15 miljard tot die fiskus bydra.