Nuwe uitdagings in die nuwe jaar vir die Bela-wet

  • 0

Suid-Afrikaners gaan die nuwe jaar tegemoet met groot onsekerheid oor die implementering van die omstrede Bela-wet en die regulasies wat daarmee gepaard moet gaan.

Politieke partye praat uit verskillende monde daaroor. Sommige beskou die ooreenkoms wat tussen die partye in die RNE bereik is, as ’n wen-wen-situasie, terwyl ander skepties daaroor is.

President Cyril Ramaphosa het die wet verlede Vrydag in sy geheel afgeteken. Die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, moet sorg vir die volle implementering daarvan.

Sy moet nou, soos gebruiklik met enige wet, die nodige regulasies wat die norme en standaarde wat die toepassing van die wet uiteensit, voorberei. En dit is presies daar waar die pap tussen die hand en die mond op die grond kan val.

Die DA en die Vryheidsfront Plus, wat deel is van die RNE meen die ooreenkoms wat in die RNE se geskiloplossingsmeganisme bereik is, het met ’n wen-wen-kompromis vorendag gekom. Hulle glo dit maak dit moontlik om die Bela-wet in werking te stel sonder om bestaande grondwetlike regte op moedertaalonderrig te ondermyn. Almal stem nie daarmee saam nie.

Die MK-party se parlementêre hoofsweep, Jimmy Mayni, en diegene wat van die begin af daarop aangedring het die wet moet in sy geheel geïmplementeer word, meen hulle het die stryd gewen en sê die minister mag geen regulasies uitvaardig wat in stryd is met die letter en gees van die wet nie.

Manyi het aan die SABC gesê die regulasies, wat die minister moet opstel, is ondergeskik aan die wet en Panyaza Lesufi het die stryd gewen.

Ramaphosa het in sy verklaring gesê daar word van alle liggame en alle amptenare, wat verantwoordelik is vir die implementering van hierdie wet, vereis om te alle tye in ooreenstemming met die grondwet, die wet en die relevante beleide en regulasies op te tree.

Die voormalige leier van die VF Plus en deesdae politieke kommentator, Pieter Mulder, het op X gesê die Belawet-onderhandelinge lyk en ruik soos ’n herhaling van die Ramaphosa-Roelf Meyer onderhandelinge waar die finale uitkoms baie anders gaan wees as die sogenaamde versekeringe en beloftes.

Die leier van die VF Plus, Pieter Groenewald, het in ’n verklaring gesê die ooreenkoms wat bereik is, sal wel deur middel van die regulasies die geskil om die omstrede artikels 4 en 5 rondom taal en toelating kan oplos.

Hierdie regulasies moet die norme en standaarde stel wat as “beskerming” moet dien oor gemeenskappe se besluitnemingsbevoegdheid oor hul skole.

Groenewald sê die VF Plus sal deurentyd betrokke wees en sal die regulasies fyn dophou en die proses monitor. Die party sal as deel van die RNE sorg dat Afrikaanse moedertaalonderrig behoue bly.

Die DA-leier, John Steenhuisen, het in ’n verklaring gesê die DA is tevrede dat implementering van wet aan rasionele regulasies, norme en standaarde onderwerp sal word.

Hy sê sy party verwelkom die verklaring deur Gwarube dat sy beheer neem oor die bestuur van die rooster vir die implementering van die wet en dat sy nie sal toelaat dat die bestaande regte op moedertaalonderrig ondermyn word deur diegene wat die wet wil misbruik om Afrikaanse enkelmediumskole uit te roei nie.

Die DA se nasionale woordvoerder, Willie Aucamp, sê die doel van die norme, standaarde en regulasies sal wees om moedertaal vir alle taalgemeenskappe te bevorder, nie om Engels die enigste onderrigtaal in skole te maak nie.

Hy sê in sy verklaring dit is hoogs ironies dat in die naam van die bevordering van moedertaalonderrig ’n faksie van die ANC ’n strategie dryf om Engelse onderrig in moedertaal-Afrikaansmediumskole in te voer sonder om op enige manier onderwys in ander inheemse tale te bevorder. “Hierdie benadering behels ’n misbruik van die Bela-wet. Die Lesufi-strategie bevorder geensins moedertaalonderrig nie. Dit doen presies die teenoorgestelde. Dit vernietig moedertaalonderrig waar dit tans bestaan, sonder om moedertaalonderrig te bevorder waar dit nie bestaan ​​nie.”

Volgens Aucamp sal die DA nie hierdie verskuilde agenda aanvaar nie, en dit blootlê waar dit ook al voorkom.

Christo van der Rheede van die FW de Klerk-stigting het in ’n meningstuk op LitNet geskryf hy is nié so seker of die uitrol van dié wet die gehalte van onderwys in die land gaan verbeter nie. Hy sê diegene wat gaande is oor die wet, moet hul koppe laat lees en dit gaan nié die gehalte van onderwys in skole wat oorwegend deur arm bruin en swart kinders bygewoon word, verbeter nie.

Lees ook:

Bela is nou wet

Bela onderteken: Wat gebeur volgende?

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top