Die nuwe verkiesingswysigingswet wat onafhanklike kandidate toelaat om vir verkiesing in die parlement en provinsiale wetgewers te staan, kry al hoe mee die wind van voor vanuit die geledere van burgerlike organisasies.
Verskeie groepe het hulle voorneme te kenne gegee om die wet in die hof uit te daag nadat president Cyril Ramaphosa die wetsontwerp Maandag onderteken het.
Die Konstitusionele Hof sal waarskynlik nou oor die grondwetlikheid van die wet moet beslis.
Burgerlike organisasies sê dat die wetsontwerp in sy huidige formaat geen positiewe verandering aan die kiesstelsels maak nie.
Kritici sê Ramaphosa het nie die parlement of die Konstitusionele Hof geraadpleeg oor sommige van die kwessies wat oor die wetsontwerp geopper is nie.
Hulle het dit ook bestempel as onregverdig teenoor onafhanklike kandidate, wat nie vryelik teen politieke partye sal kan meeding nie.
Die politieke groep Build One South Africa (Bosa) se leier, Mmusi Maimane, is die jongste van ʼn koor wat hulle teenkanting teen die wet uitgespreek het.
Maimane het Woensdag aangekondig dat sy organisasie die wet saam met ander groepe in die hof gaan beveg.
Following President Ramaphosa’s decision to sign the Electoral Amendment Bill into law, (BOSA) Leader @MmusiMaimane , @Mudzuli_Rakhi and (ICA) Chairperson, Dr Michael Louis unpacked the legal action to be pursued in the C/Court to bring the new law in line with the Constitution pic.twitter.com/SQgNFn2U7R
— BOSA Western Cape (@BuildOneSA_WC) April 19, 2023
Maimane het gesê die ondertekening van die wetsontwerp verlede week was bloot “kwaadwillige nakoming” aan die kant van Ramaphosa.
Die party sê hulle gaan dit met die steun van sowat 40 groepe uit die burgerlike samelewing in die Konstitusionele Hof beveg.
Dieselfde hof het die parlement vroeër beveel om gebreke in die kieswet in 2020 reg te stel, wat onafhanklike kandidate uitgesluit het om tot die parlement en provinsiale wetgewers verkies te word.
Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het ook reeds hulle kritiek teen die wet uitgespreek vanweë “sekere bekommernisse wat nie opgelos is nie”, volgens Rachel Fischer, Outa se bestuurder van parlementêre betrokkenheid en navorsing in ʼn verklaring.
Outa se bekommernisse sluit in:
- Proporsionaliteit wat aangetas sal word as gevolg van die driestembriefstelsel (twee stembriewe vir die Nasionale Vergadering en een stembrief vir die betrokke provinsiale wetgewer).
- Die feit dat onafhanklike kandidate slegs 200 setels in die Nasionale Vergadering kan betwis, en nie die ander 200 kompenserende setels nie.
- Al die vermorste stemme wat sal voorkom as gevolg van bogenoemde.
- Sekere “oortollige stemme” word weggegooi.
- Oplossings vir vakatures weens die bedanking of heengaan van ’n LP is nie duidelik nie.
Daar is volgens kritici van die wet steeds te veel struikelblokke in die weg van onafhanklike kandidate wat graag vir die parlement verkiesbaar wil wees.
Onafhanklikes moet byvoorbeeld handtekeninge gelykstaande aan 15% van die kwota stemme kry wat benodig word vir 'n setel om vir verkiesing te kwalifiseer, wat ongeveer 6 000 handtekeninge is.
Volgens Maimane bevoordeel die nuwe wet politieke partye bo individue en maak die wet dit byna onmoontlik vir onafhanklike kandidate om op gelyke voet om 'n parlementêre setel mee te ding.
Hy sê wat Ramaphosa gedoen het, is om ’n kieswet op te stel wat dit nie net onmoontlik maak om te bereik wat regter Mbuyiseli Madlanga wou hê nie, maar meer as enigiets beteken dit dat dit net “kwaadwillige voldoening” is aan dit wat die Konstitusionele Hof in gedagte gehad het.
Outa sê die bekommernisse oor die wet sal heel waarskynlik deur die Verkiesingshervormingskonsultasiepaneel opgeneem word, wat nou binne vier maande nadat die wysigings in die Staatskoerant gepubliseer is, tot stand gebring moet word.
Outa beklemtoon dat die paneel uit individue moet bestaan wat onbevooroordeeld is en kundigheid op hierdie gebied het, en sê dit is ook belangrik dat burgerlikesamelewingsorganisasies op die paneel verteenwoordig word, vanweë die impak wat hierdie gewysigde wet op landsburgers sal hê.
Lees ook:
Opdraandestryd vir onafhanklike kandidate in Suid-Afrikaanse verkiesing