Suid-Afrika se nuwe visums om ekonomiese groei aan te moedig is uit verskeie oorde verwelkom.
President Cyril Ramaphosa het ook die visumhervormings wat die afgelope week in die Staatskoerant afgekondig is en daarop gemik is om die ekonomie te stimuleer, verwelkom.
[STATEMENT] President Cyril Ramaphosa welcomes the significant reforms to South Africa’s visa regime gazetted as a key step towards attracting international skills and investment, growing tourism and creating jobs.
https://t.co/agycwkMcOl#ICTSCluster pic.twitter.com/kwls2FIp3r— South African Government (@GovernmentZA) October 10, 2024
Die nuwe besoekersvisum vir afstandwerk en nuwe puntestate vir werksvisums is deur die minister van binnelandse sake, Leon Schreiber van die DA, in Woensdag se staatskoerant gepubliseer.
Die puntegebaseerde stelsel vir geskooldewerk-visums sal meer buigsame paaie vir hoogs geskoolde aansoekers skep, terwyl korrupsie en ondoeltreffendheid bekamp word.
Die nuwe stelsel, wat ’n sleutelaanbeveling was van die werkvisumoorsig wat in 2023 gepubliseer is, stel ’n deursigtige stel kriteria bekend om objektief te bepaal wie vir ’n kritiekevaardighede- of ’n algemene werksvisum kwalifiseer.
Schreiber sê deur die krag van markgebaseerde regulatoriese hervorming te benut om rompslomp te verminder en deursigtigheid te verbeter, beveg Binnelandse Sake korrupsie in die land se immigrasiestelsel, terwyl dit voldoen aan die RNE se top prioriteit om die ekonomie te laat groei en duisende nuwe werksgeleenthede vir die mense van Suid-Afrika te skep.
“Ek wil die Presidensie en Operasie Vulindlela bedank vir hul waardevolle ondersteuning en ek sien uit daarna om voort te gaan om saam te werk om verdere hervormings in te stel wat korrupsie bekamp en werk skep.”
Ramaphosa sê in ’n verklaring die geleenthede wat deur die nuwe visumstelsel ontsluit word, is ’n paspoort vir vinniger ekonomiese groei en om meer mense van regoor die wêreld in Suid-Afrika te verwelkom.
“Baie meer hervormings is aan die gang met die doel om vinniger, inklusiewe en volhoubare ekonomiese groei te bewerkstellig, wat die top prioriteit van die Regering van Nasionale Eenheid is,” het Ramaphosa gesê.
Die Wes-Kaapse regering en die DA het ook die nuwe visums verwelkom.
Die DA sê in ’n verklaring dit bring drastiese verbeterings mee om buitelandse beleggings te lok, werk te skep en Suid-Afrika as ’n wêreldklasbestemming vir geskoolde talent en toerisme te posisioneer.
Die nuwe stelsel, wat ’n sleutelaanbeveling was van die werkvisumoorsig wat in 2023 gepubliseer is, stel ’n deursigtige stel kriteria bekend om objektief te bepaal wie vir ’n kritiekevaardighede- of ’n algemene werksvisum kwalifiseer.
Hierdie hervorming is ’n belangrike stap om burokratiese rompslomp te verminder, korrupsie binne die visumstelsel te bekamp en broodnodige vaardighede in die ekonomie in te pomp. Deur ’n oop, deursigtige raamwerk te bevorder, baan die hervormings ’n duidelike weg vir mense met topvlakvaardighede om die mark te betree, wat op sy beurt duisende werksgeleenthede vir Suid-Afrikaners sal skep, sê die DA.
Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het die nuwe visums as ’n kritieke mylpaal bestempel. Hy sê in ’n verklaring dit sal baie help om die ekonomie ’n hupstoot te gee en meer werk te skep. “Ons moet gesamentlik maniere ondersoek om die potensiaal van die Wes-Kaap en die land se ekonomie te ontsluit. Ons provinsie is lank reeds as ’n uitstekende beleggingsbestemming gesien. Dit is ’n noodsaaklike stap om nog meer beleggings te lok en ons ekonomiese herstel te help.”
We must collectively explore ways to unlock the potential of the Western Cape and the country's economy. Our province has long been seen as a prime investment destination. This is a vital step towards attracting even more investment and assisting our economic recovery. 👏🇿🇦
Read… https://t.co/0fAqvAD66r
— Premier Alan Winde (@alanwinde) October 10, 2024
Sedert 2021 het die Wes-Kaapse regering (WKR) hom grootliks beywer vir hervormings aan die visumregulasies om broodnodige vaardighede te lok om ekonomiese groei aan te spoor asook om die toerismebedryf verder te laat groei.
“Dit is een van die WKR se kernprioriteite: om dit so maklik as moontlik vir maatskappye, besighede en individue te maak om na ons provinsie te reis en hier te werk. Ek wil graag die minister van binnelandse sake, Leon Schreiber, en sy departement prys vir hierdie betekenisvolle ontwikkeling. Ons sal hard saam met hom en sy span werk om toe te sien dat die visumhervormings ten volle geïmplementeer en optimaal ingespan word om ons ekonomie vorentoe te neem om geleenthede vir al ons inwoners te skep,” het Winde gesê.
Ivan Meyer, die provinsiale minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, het gesê hierdie hervormings, met hul belowende implikasies vir die ekonomie, toerisme, buitelandse belegging en die verkryging van broodnodige vaardighede, inspireer optimisme en hoop vir die toekoms.