Nuwe wêreldklas navorsingsinstituut by US

  • 0

Die Universiteit Stellenbosch se rektor en visekanselier, prof Wim de Villiers, en ander lede van die rektoraat, is hier te sien saam met bestuurslede van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe tydens die amptelike sooispitgeleentheid vir die Biomediese Navorsingsinstituut. (foto: www.sun.ac.za)

Een van mees gevorderde en gesofistikeerde biomediese navorsingsfasiliteite ter wêreld is tans in aanbou by Universiteit Stellenbosch (US).

Die Biomediese Navorsingsinstituut (BMNI) se hoofdoelwit is om ondersoek in te stel na siektes wat die grootste impak op gemeenskappe in Suid-Afrika en die res van Afrika het.

Nog een van die doelwitte is om navorsingsbevindings om te skakel in verbeterings in die diagnose, voorkoming en behandeling van siektes soos onder meer tuberkulose, MIV, diabetes, hartsiektes en neurologiese steurnisse.

Die nuwe geriewe, ter waarde van R1 miljard, sal na verwagting in 2022 voltooi wees. Dit sal een van die mees vernuwende en gevorderdste biomediese navorsingsentrums in Afrika wees.

Volgens ’n mediaverklaring op US se webwerf  sal die nuwe BMNI selfs met die mees gevorderde en gesofistikeerde soortgelyke navorsingsfasiliteite ter wêreld vergelyk kan word.

“Hierdie fasiliteit sal ons help om ons visie te vervul om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te word, wat wêreldwyd erken word vir uitnemendheid, inklusiwiteit en innovasie en waar ons kennis bevorder in diens van die samelewing," sê prof Wim de Villiers, US-rektor en vise-kanselier.

“Die Biomediese Navorsingsinstituut sal ons kapasiteit aansienlik verbeter om wêreldklasnavorsing te doen oor die vernaamste gesondheidsprobleme wat ons mense raak. Dit sal ook bydra tot die bou van navorsingskapasiteit in Afrika," sê FGGW-dekaan, prof Jimmy Volmink.

 “Afrika byt die spit af van die globale siektelas, met verskeie groot epidemies wat op die kontinent bots. Met een van die top mediese fakulteite in Afrika, het Universiteit Stellenbosch ’n groot verantwoordelikheid om die onderneming te help lei om goeie gesondheid en welstand vir almal te verseker," sê prof Nico Gey van Pittius, die FGGW-Visedekaan: Navorsing, en ’n professor in molekulêre biologie.

Biomediese onderrig, opleiding en navorsing by die FGGW het tot op hede plaasgevind in die Fisiologie- en Anatomie-gebou (FISAN), wat in die 1970s opgerig is. In die vier dekades sedert die gebou geopen het, het studentegetalle meer as verdriedubbel en het die veld van biomedisyne drasties verander.

 “Wanneer dit voltooi is sal die nuwe Biomediese Navorsingsinstituut deel uitmaak van ’n ten volle geïntegreerde, toekomsgerigte en uitstekend georganiseerde navorsingskompleks wat vergelykbaar sal wees met die beste in die wêreld, en dit selfs in verskeie maniere sal oorskry, in terme van tegniese verfyndheid en geoptimaliseerde werksvloei in ’n gesonde, inspirerende en volhoubare leer-, werk- en openbare spasie," sê Eben Mouton, Senior Direkteur: Besigheidsbestuur by die FGGW.

Unieke argitekturale eienskappe van die BMNI sluit ondermeer die volgende in:

Die gebou-ontwerp is gegrond op volhoubaarheid in terme van die energie- en waterstelsels, materiaalkeuses, afskeidings, rommelbestuur, gebruik van natuurlike lig, ventilasie en akoestiek.

Buigsaamheid in terme van die groepering, ontplooiing van slimtegnologie, opvanging van reënwater en gemeenskapstoegang tot die fasiliteit is alles ontwerp om saam met die gebou te evolueer soos wat navorsingsbehoeftes in die toekoms mag verander.

’n Slim beligtingstelsel sal vasstel waar natuurlike lig die sterkste is en die beligting daarvolgens aanpas, en sal dus minder elektrisiteit gebruik.

Die gebou sal aansluit by die kampus se gryswater-meesterplan, wat reënwater opvang en boorgatwater gebruik. Alle toilette sal gespoel word met nie-drinkbare water.

’n Veilige fiets-stoorarea met aangrensende stortfasiliteite sal in die kelder geleë wees om personeel en studente aan te spoor om fiets te ry werk toe.

Werkstasies en laboratoriumbanke sal aanloklik en inspirerend wees, met uitsigte na buite en toegang tot vars lug en natuurlike lig waar moontlik.

’n Stelsel met negatiewe lugdruk sal gevaarlike walms of gifstowwe in die lug uit laboratoria laat vloei na aangrensende areas. ’n Kragtige ventilasie- en filtrasiestelsel sal deurlopend lug uit laboratoria onttrek en dit na die bokant van die gebou lei waar dit gefiltreer en vrygestel sal word.

BRON: www.sun.ac.za

Buro: NB
  • 0
Top