Nuwe wet wil rokers verder inperk

  • 0

Suid-Afrikaners wat daarvan hou om ’n dampie te slaan, gaan waarskynlik gedwing word om die gewoonte in die afsienbare toekoms nog verder in te kort wanneer die regering se nuwe rookwet goedgekeur word.

Die kabinet het die afgelope week die langverwagte wetsontwerp op die beheer van tabakprodukte en elektroniese sigarette goedgekeur vir voorlegging aan die parlement. Dit is ’n deurslaggewende stap in die regering se planne om die bevordering en gebruik van tabak nog verder te beperk.

Die wetsontwerp poog ook om elektroniese sigarette, wat nie tabak bevat nie en tans buite staatsbeheer is, te reguleer.

Die kabinet sê in ’n verklaring die  wetsontwerp poog ook om die land se openbaregesondheidsmaatreëls te versterk en dit in ooreenstemming te bring met die Wêreldgesondheidsorganisasie se raamwerkkonvensie oor tabakbeheer.

Die wetsontwerp stel onder andere 100% rookvrye binne- en sommige buite-areas voor; ’n verbod op die verkoop van sigarette deur verkoopmasjiene, en strenger reëls en voorskrifte ten opsigte van sigaretverpakking en waarskuwingsborde.

Uit die verklaring is dit nie duidelik watter areas die regering hoop om 100% rookvry te maak wat nie reeds volgens wet rookvry is nie.

Verskeie rokers het op sosiale media uitgevaar teen die beoogde nuwe wetgewing en wou weet of die regering nou ook die rook van sigarette in mense se privaat huise binnehuis wil verbied en hoe hulle so ‘n wet gaan monitor.

Die nuwe wetsontwerp op die beheer van tabakprodukte en elektroniese rooktoestelle wat die afgelope week deur die kabinet goedgekeur is, sal die huidige Wet op die Beheer van Tabakprodukte, 1993 (Wet 83 van 1993), soos gewysig, herroep indien dit deur die parlement goedgekeur word.

Die kabinet sê in hulle verklaring die wetsontwerp het uitgebreide konsultasie met verskeie belanghebbendes ondergaan, insluitend die tabakbedryf, burgerlike organisasies en relevante staatsdepartemente.

Vroeër vanjaar het die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) ’n nasionale tegniese komitee gestig om Suid-Afrikaanse nasionale standaarde te ontwikkel om die gebruik van elektroniese sigarette (sogenaamde vaping-produkte) te reguleer.

Daar bestaan tans geen riglyne of regulasies in Suid-Afrika en die Afrika-streek vir die regulering van elektroniese sigarette nie. Die plan is om bestaande streeks- en internasionale standaarde, riglyne, navorsing, beleide en ander dokumente te hersien om vrywillige nasionale standaarde vir Suid-Afrika te ontwikkel.

E-sigarette en vaping-produkte word toenemend gewild in Suid-Afrika, beide in terme van ontspanningsgebruik en in ekonomiese aktiwiteit. Na raming gebruik sowat 350 000 mense in die land e-sigarette of vaping-produkte. Die verkope daarvan het volgens mediaberigte in 2019 R1,25 miljard bedra.

Jodi Scholtz, hoofadministrateur by die SABS, het vroeër vanjaar aan bizcommunity.com gesê soos wat die bedryf groei, is daar ’n behoefte om nasionale standaarde daar te stel wat die kwaliteit van die produkte bepaal en verbruikers ’n mate van versekering bied dat die elektroniese toestelle en produkte wat in elektroniese sigarette gebruik word, veilig is om te gebruik.  

Verder is daar ook kommer oor die aantal jongmense wat e-sigarette rook. Navorsing het bevind e-sigarette is nou die algemeenste vorm van rook onder kinders en tieners.

E-sigarette word dikwels voorgehou as ’n manier om op te hou sigarette rook, maar daar is nog nie regtig navorsing wat dit ondersteun nie. Die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) raai mense aan om eerder nie e-sigarette te begin rook as hulle nie voorheen sigarette gerook het nie. Volgens Kansa bevat die meeste e-sigarette nikotien en dit kan dus daartoe lei dat gebruikers van e-sigarette ook gewone sigarette begin rook.

E-sigarette word in al hoe meer lande wêreldwyd in dieselfde lig gesien as gewone sigarette en word ook nie meer so vrylik in openbare ruimtes toegelaat as voorheen nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top