Krisis in Oekraïne: Rutte beloof steun
Premier Mark Rutte van Nederland was verlede week op besoek aan Oekraïne om samesprekings met president Zelenski in Kiëf te voer. Volgens Rutte moet alles in die stryd gewerp word om die spanning in Oekraïne te ontlont. Rutte het gedreig dat indien diplomatieke gesprekke nie help om die konflik op te los nie en Rusland besluit om Oekraïne aan te val, daar gevolge sal wees, berig die NOS.
“Er ligt een robuust pakket met sancties klaar vanuit de Europese Unie,” het Rutte gesê.
Rutte het geen wapens beloof nie, maar gesê Nederland sal sy IT-kennis met Oekraïne deel om moontlike kuberaanvalle af te weer.
Oor die moontlike voorsiening van wapens het Rutte gesê Nederland oorweeg die versoek van Oekraïne met erns, maar dit is volgens hom “een zorgvuldig proces dat tijd nodig heeft”.
Zelenski het op sy beurt sy blydskap oor Nederlandse steun uitgespreek en beloof dat Oekraïne Nederland sal bystaan in die saak oor vlug MH17 waartydens 193 Nederlanders omgekom het toe dit na bewering deur ’n Russies-vervaardigde Boek-M1-grond-lugmissiel afgeskiet is. Rusland ontken enige betrokkenheid.
Kleuter dood op spoor aangetref
’n Vyfjarige kleuter is Maandag in die spoortonnel onder die stasie Antwerpen-Centraal dood aangetref nadat hy vroeër die dag as vermis aangemeld is. VRT NWS berig ’n masjinis van ’n trein wat in die teenoorgestelde rigting gery het, het omstreeks 16:00 gemeld dat hy ’n kind op die spoor sien lê het. Dié trein was nie vir die kind se dood verantwoordelik nie.
’n Soektog is begin nadat die ma van die kind omstreeks 14:30 haar kind as vermis aangegee het.
Die seun was in ’n skool vir verstandelik gestremde kinders. Hy was saam met sy ma na ’n McDonald’s-restaurant en dit blyk dat hy die restaurant verlaat het toe sy vir ’n oomblik die toilet besoek het. Hy het vermoedelik self die stasie binnegeloop na een van die perronne en van daar af in die spoortonnel ingeloop.
Die betrokke gebied is verbode terrein vir die publiek en word so deur ’n kennisgewingbord aangedui, maar is nie afgesluit nie. Treinverkeer is ure lank deur die gebeure ontwrig. Die polisie ondersoek die saak.
School verkeert in shock na dood van kleuter (5) in tunnel Antwerpen-Centraal: “Hij was een vrolijke en aangename jongen” https://t.co/bfpZ6HR5S8 pic.twitter.com/tdb6SDi1Ie
— HLN.BE (@HLN_BE) February 8, 2022
Die minister van vervoer, George Gilkinet, het gister via twitter sy medelye aan die naasbestaandes betuig.
🤍 Er is een kindje overleden is in Antwerpen-Centraal....
Zo tragisch.
Al mijn gedachten zijn bij de familie.
De politie en het parket zijn ter plaatse.— Gilki (@GeorgesGilkinet) February 7, 2022
Dave de Kock ontken moord op vierjarige Dean
Voertaal het verlede maand berig oor die dood van die vierjarige Dean.
Intussen het Dean se vermeende moordenaar, die Belg Dave de Kock, ontken dat hy vir die dood van die kleuter verantwoordelik was. Hy het ook gevra dat hy nie na België uitgelewer word nie, berig die NOS. De Kock word tans in Nederland aangehou.
Die liggaam van die kleuter is verlede maand op Neeltje Jans in Zeeland, in Nederland, gevind. De Kock was veronderstel om die kind in die afwesigheid van sy ma op te pas.
België het vroeër om De Kock se uitlewering gevra, maar De Kock se regsverteenwoordiger voer aan dat die saak Nederland se verantwoordelikheid is en De Kock vrees dat sy situasie in België sal versleg.
Mense reageer heel dikwels negatief op De Kock se siening.
GIJ HEBT NIKS TE WILLEN!
zo een mensen moeten geen rechten hebben en gwn luisteren wa de rechter hun zegt 🤬😡
Ik word hier zooooo kwaad van! #DEANhttps://t.co/K8T0STZdTk— kristof frederix (@Kristofbarrie90) February 8, 2022
Nóg ’n seksueleteisteringskandaal tref Nederland
Die Amsterdamse sokkerklub Ajax het Sondag aangekondig dat sy direkteur van voetbalsake, Marc Overmars, sy onmiddellike bedanking ingedien het.
Op die webwerf van Ajax verklaar die klub: “Het gedurende een langere periode versturen van grensoverschrijdende berichten aan meerdere vrouwelijke collega’s ligt ten grondslag aan zijn besluit om te stoppen.”
Die besluit volg ná gesprekke tussen Overmans, die raad van kommissarisse en die uitvoerende direkteur, Edwin van der Sar. “Ik schaam me kapot,” sê Overmans op die webwerf. “Vorige week werd ik geconfronteerd met meldingen over mijn gedrag en hoe dit op anderen is overgekomen. Helaas realiseerde ik met niet goed dat ik hiermee grenzen heb overschreden.”
In sy reaksie het Overmans ook om verskoning vir sy optrede gevra. “Zeker voor iemand in mijn positie is dit gedrag niet goed te praten, dat zie ik inmiddels ook in. Maar te laat. Ik zie geen andere optie dan te stoppen bij Ajax.”
Die gebeure volg enkele weke ná die skokbeskuldigings dat afrigters en aanbieders van die gewilde sangkompetisie The voice of Holland hulle aan seksuele teistering skuldig gemaak het, waarna die uitsaaier, RTL, die program van die lug gehaal het.
Directeur voetbalzaken Marc Overmars vertrekt per direct bij Ajax. Dit heeft hij na gesprekken in de afgelopen dagen met de Raad van Commissarissen (RvC) en algemeen directeur Edwin van der Sar besloten en aan hen meegedeeld.
— AFC Ajax (@AFCAjax) February 6, 2022
Uitmekaarhaal van historiese brug in die weegskaal
Die burgemeester van Rotterdam, Ahmed Aboutaleb, sê volgens die koerant Algemeen Dagblad dat die tydelike uitmekaarhaal van die brug wat in die volksmond as De Hef bekend staan, geen uitgemaakte saak is nie.
Vroeër is berig dat die brug tydelik uitmekaargehaal moet word om plek te maak vir ’n nuwe seiljag van die skatryk stigter van Amazon.com, Jeff Bezos.
Volgens Aboutaleb is daar nog nie eens ’n permit vir die afbreek van die brug aangevra nie.
Die tydelike uitmekaarhaal van die nasionale monument is omstrede, omdat Rotterdam in 2017 beloof het dat dit nooit weer met die brug sal gebeur nie.
Aboutaleb sê sodra die aanvraag om ’n permit ontvang is, die belange teen mekaar opgeweeg sal word: “De economische, met name het maritieme imago van onze regio, en de technische: Kan het zonder schade? En we willen dan weten of de kosten inderdaad door de koper worden vergoed.” Die brug is sowat 40 meter hoog, maar nie hoog genoeg vir die maste van Bezos se nuwe seiljag nie.
Hoe symbolisch: de Hef, icoon van de oude economie, wordt (tijdelijk) ontmanteld voor een van de grootste kapitalisten van de nieuwe economie, Jeff Bezos, met zijn groteske jacht #laathetnietgebeuren https://t.co/llFb4VQE6H
— Jan Rotmans (@janrotmans) February 3, 2022
Lewenskoste in Nederland styg skerp
Die Centraal Bureau voor de Statistiek, die CBS, het bekend gemaak dat die inflasie op ’n jaar-tot-jaar-grondslag in Januarie tot 7,6% gestyg het, berig die NOS.
Die grootste bydraer tot inflasie was die skerp styging in energiepryse. Petrol, gas en elektrisiteit is aansienlik duurder as ’n jaar gelede en verbruikers merk ook dat hul inkopies heelwat meer kos as ’n jaar gelede.
Inflasie vir die eurosone beloop gemiddeld 5,1%, wat beteken dat Nederland een van die hoogste inflasiesyfers in die sone het.
Die Europese Sentrale Bank het egter afgelope Donderdag aangekondig dat daar nog geen aanpassing in rentekoerse gemaak word nie. Die bank het wel laat blyk dat ’n verhoging in rentekoerse later vanjaar nie uitgesluit word nie.