Oekraïne ook op die spits in die Lae Lande

  • 0
Oekraïne

Met Rusland se aankondiging Maandag dat dié land pro-Russiese gebiede in Oekraïne as onafhanklike Russiese volksrepublieke gaan erken, het die spanning in dié deel van die vasteland kookpunt bereik. Verskeie lande, waaronder die Verenigde Koninkryk en lande van die Europese Unie, het reeds aangedui dat hulle sanksies teen Rusland gaan instel.

Die spanning het die afgelope week baie vinnig opgeloop. Premier Mark Rutte van Nederland was twee weke gelede nog op besoek aan president Zelenski in Oekraïne, waar hy sy steun aan Oekraïne beloof het in die vorm van kuberveiligheid, maar geen wapens nie. ’n Week later kondig die Nederlandse kabinet aan dat hy tog bereid is om wapens aan Oekraïne te lewer, en ’n paar dae later erken president Wladimir Poetin pro-Russiese gebiede as onafhanklike volksrepublieke.

Die Nederlandse krygsmag is van plan om sowat 3 000 gevegshelms, 2 000 koeëlvaste baadjies, 30 metaalverklikkers, sewe radarstelsels en sowat 100 skerpskuttergewere met ammunisie aan Oekraïne te lewer, berig De Morgen.

België was egter nog nie van plan om wapens aan Oekraïne te lewer nie, hoewel België al sodanige versoeke ontvang het. De Morgen berig egter dat België van plan kan verander. Volgens dié dagblad was die beskouing in België tot nog toe dat militêre steun aan Oekraïne die situasie sou vererger en dat Rusland dit juis as provokasie sal sien. Maar noudat dit lyk of Rusland in elk geval van plan is om Oekraïne binne te val, blyk dit dat die Belgiese politici tog bereid is om wapens aan Oekraïne te lewer.

Rutte het gister kort ná Rusland se aankondiging om rebellegebiede in Oekraïne te erken, gesê die eskalasie van die konflik wat deur Poetin veroorsaak word, kan nie onbeantwoord bly nie. Hy het daarop gesinspeel dat Nederlandse sanksies nou onafwendbaar is en sou Rusland Oekraïne binneval, sal die maatreëls nog strenger word. Oor Rusland se optrede sê Rutte: “Dit is een directe schending van de soevereiniteit van Oekraïne en de territoriale integriteit van Oekraïne.” Hy was egter versigtig om nie te sê of Nederland soldate na Oekraïne gaan stuur nie. Oekraïne is nie lid van Navo nie, wat so ’n stap nie vanselfsprekend maak nie.

Premier Alexander de Croo van België het ook op die gebeure gereageer en het ’n beroep op die EU gedoen om vinnig op te tree met maatreëls wat Rusland sal seermaak waar dit saak maak. “Wat daar gebeurt is een zeer ernstige schending van territoriale integriteit van Oekraïne. We zullen op gepaste manier reageren op wat hier gebeurt.” De Croo wou egter nie sê watter sanksies hy bedoel nie.

Gyselaarsdrama in hartjie van Amsterdam

’n Gyselaarsdrama in die Apple Store op Leidseplein in die sentrum van Amsterdam is laat Dinsdagaand beëindig toe ’n voertuig van die Dienst Speciale Interventies die verdagte raakgery het.

Die drama het omstreeks 17:30 begin toe ’n 24-jarige gewapende man die winkel binnegegaan en ’n 44-jarige klant van Engeland as gyselaar geneem het. Die verdagte het kort daarna self met die polisie kontak gemaak. Hy het €200 miljoen (sowat R3,4 miljard) in kriptogeld vir die gyselaar se vrylating geëis. Die verdagte het ’n kriminele rekord wat verband hou met die besit van onwettige wapens, berig die NOS. Toe die polisie op die toneel aankom, het die verdagte met ’n outomatiese vuurwapen op hulle begin skiet.

Personeel en klante wat nie daarin geslaag het om betyds te vlug nie, het in die gebou geskuil. Vier mense het tydens die drama in ’n kas op die grondverdieping weggekruip. In die loop van die aand het die polisie daarin geslaag om sowat 77 mense uit die gebou na veiligheid te bring.

Die verdagte het teen 22:30 weer kontak met die polisie gemaak en om water gevra. Die polisie het die water met behulp van ’n robot na die verdagte gestuur, omdat dit gelyk het of hy ’n bombaadjie dra en hy gedreig het om homself op te blaas. Toe die verdagte buitentoe gaan om die water te haal, het die gyselaar sy kans aangegryp en op die vlug geslaan. Die verdagte het hom egter agterna gesit, waarna ’n voertuig van die Dienst Speciale Interventies hom raakgery het. Die man was by sy bewussyn toe hy in die hospitaal opgeneem is. Dit is nie duidelik wat sy toestand is nie.

Die volgende beelde mag sommige mense ontstel:

In Julie verlede jaar is die bekende misdaadverslaggewer Peter R de Vries, helder oordag ook naby Leidseplein doodgeskiet toe hy op pad huis toe was ná ’n televisieonderhoud in RTL se ateljee op die plein.

 Storms eis minstens vier lewens; rig groot skade aan

Die Lae Lande is die afgelope week deur drie opeenvolgende storms geteister.

Woensdag het Dudley sy verskyning gemaak en Vrydag was Eunice aan die beurt. Franklin het Sondagaand die gebied bereik.

In Amsterdam is drie mense dood toe hulle deur ’n boom getref is. In een geval het ’n boom op ’n motor geval; in ’n ander geval is ’n fietsryer getref. Op Adorp in die provinsie Groningen is ’n motoris dood toe hy teen ’n boom gebots het wat in die pad gelê het. In Brabant is ’n bejaarde vrou swaar gewond toe ’n boom op haar geval het. Sy is met verskeie beenbreuke in die hospitaal opgeneem. In Nederland is byna alle openbare vervoer Vrydag om 14:00 as voorsorgmaatreël in Nederland gestop. Ook maar goed so, want die skade wat Eunice aan oorhoofse treinkabels aangerig het, het twee dae geneem om heeltemal te herstel.

In Den Haag was daar berigte van sonpanele wat van dakke afgewaai het. Groot dele van die dak van die ADO-stadion het ook afgewaai.

In die omgewing van die Elandkerk in Den Haag is talle mense ontruim uit vrees dat een van die torings van die kerk sou omval. Uit die beeldmateriaal op Twitter kan gesien word hoe die torings gevaarlik kantel.

Verskeie verkeersongelukke is ook aangemeld van vragmotors wat omgeslaan het. Sommige het op motors beland.

In hierdie video op Twitter het die motoris in die swart Mini ’n noue ontkoming gehad.

Die storm het ook vir indrukwekkende natuurfoto’s gesorg.

Vrydagaand is ’n noodalarm na selfoongebruikers gestuur om nie die noodlyn onnodig te bel nie, omdat die lyn al oorlaai was met aanmeldings van stormskade.

In Deinze in België het ’n kragtige warrelwind groot skade aangerig toe drie huise in een straat se dakke afgeruk is, berig VRT. Slegs een persoon, ’n 94-jarige dame, is vir waarneming in die hospitaal opgeneem. Burgemeester Jan Vermeulen sê: “Dit is echt ongezien. Zelfs brandweerlui met veertig jaar ervaring zeiden me net dat ze dit nog nooit hebben meegemaakt.”

Nederlandse skande in Indonesië

Wetenskaplikes wat sedert 2017 op versoek van die Nederlandse regering ondersoek gedoen het na geweld in die laaste jare voor die onafhanklikheid van Indonesië, het tot die gevolgtrekking gekom dat Nederlanders “struktureel ekstreme geweld” gebruik het terwyl die owerheid in Den Haag anderpad gekyk het. Uit die ondersoek blyk dit dat Nederlandse politici, offisiere, amptenare, regters en ander betrokkenes deeglik bewus was van die gebruik van geweld, berig die NOS.

“Het beeld dat oprijst is dat van een koloniale oorlog die steeds grimmiger en verbetener werd gevoerd en ook letterlijk allesbeheersend werd,” staan in die verslag. Die bevindings van die ondersoek is in stryd met wat die kabinet sedert 1969 sê, met name dat ekstreme geweld slegs in uitsonderlike gevalle gebruik is.

Indonesiese nasionaliste het kort ná die Tweede Wêreldoorlog die land onafhanklik verklaar, maar Nederland was juis van plan om weer die eilandgroep in besit te neem en geleidelik die mag aan die plaaslike bevolking te oorhandig. Die navorsers het bevind dat die gebrek aan manskappe en die groot gebied wat beheer moes word, daartoe gelei het dat die leër hom gou tot geweld gewend het. Die verslag noem voorbeelde van onwettige teregstellings, marteling, willekeurige massa-inhegtenisnemings, brandstigting van dorpe en ’n gebrek aan aandag vir slagoffers.

Tydens die onafhanklikheidstryd het beide partye hulle tot ekstreme geweld gewend, maar tot dusver was gebeure aan Nederlandse kant onder die mat gevee.

Premier Mark Rutte het intussen, kort ná die bekendmaking van die verslag, sy diepe verskoning namens Nederland aangebied. Hy het ook verskoning gemaak vir almal in Nederland wat deur geweld geraak word. “Voor het stelselmatige en wijdverbreide extreme geweld van Nederlandse zijde in die jaren en het consequent wegkijken voor vorige kabinetten, maak ik vandaag diepe excuses aan de bevolking van Indonesië. Vandaag moeten we bovendien constateren dat excuses op hun plaats zijn voor iedereen in ons land die met de gevolgen van de koloniale oorlog in Indonesië heeft moeten leven,” het Rutte gesê.

Wrak wat naby die Suid-Afrikaanse kus opgespoor is, byna seker vergane Nederlandse skip

Die NOS berig ’n Suid-Afrikaanse bergingsmaatskappy het met redelike sekerheid die wrak van die Smit-Lloyd 102 gevind. Die Nederlandse voorraadskip het op Oujaarsaand 1970 naby Kaap St Francis omgeslaan en gesink. Daar was sewe bemanningslede aan boord, van wie twee oorleef het. Die wrak is nooit gevind nie. Die direkteur van die bergingsmaatskappy Bridge Maritime, Neil Scott-Williams, sê egter sy span het toevallig 64 km van die kus van Kaap St Francis op die wrak afgekom. Die wrak lê sowat 90 m onder die see. “Ons is 95% seker dat ons die Smit-Lloyd 102 gevind het,” het hy aan De Telegraaf gesê.

Die plek waar die wrak gevind is, is ongeveer 370 km van waar die skip gesink het, maar weens die storm en die sterk stroming is dit nie verbasend dat dit so ver is nie, sê Scott-Williams. Die maatskappy sal vandeesweek na die toneel terugkeer om foto’s van die wrak te neem. Volgens die enigste oorlewende van die ramp wat steeds leef, die 81-jarige oudstuurman Karel Kaffa, het die skip in ’n Suidwesterstorm vergaan. Die water wat oor die skip geslaan het, het in ’n lading pype gespoel, wat die skip onstabiel gemaak en laat omslaan het.

Die enigste ander oorlewende was ’n matroos wat later, tydens ’n gewelddadige voorval in Indonesië, dood is.

  • 0
Top