Oekraïne se ambassadeur pleit Suid-Afrika moet luister

  • 0

Die Suid-Afrikaanse regering het nog geen poging aangewend om met Oekraïne se ambassadeur in Suid-Afrika oor die Russiese inval in hulle land nie.

So beweer Oekraïne se ambassadeur hier, Liubov Abravitova, in ’n video wat sy die naweek op Twitter gedeel het. In haar boodskap met die hutsmerk #TalkToMe sê sy daar is reeds 45 dae verby, maar daar was nog geen vergadering met die Suid-Afrikaanse regering oor die oorlog nie.

Sy sê tienduisende mense in Oekraïne is reeds dood, vier miljoen het uit die land gevlug, en nog tien miljoen is haweloos of êrens op die vlug terwyl haar pogings tot ’n gesprek op dowe ore val. Sy sê Rusland het hulle skole, hospitale, teaters en kerke met bomme bestook. Stede is geruïneer en sommige dorpe of stede is vyftig persent verwoes.

Selfs van haar eie personeel in Suid-Afrika het nie meer huise om na terug te keer nie, sê sy.

“Julle moet aan die regte kant van die geskiedenis wees. Julle kan nie toelaat dat hierdie brutale oorlog voortgaan nie. Asseblief, staan op vir die mense van Oekraïne. 

“Sedert die begin van die Russiese inval het ek nog niks van die aangevraagde vergadering met Suid-Afrikaanse regeringsamptenare gehad nie ... 45 dae!!! My mense is onder ’n wrede aanval van Russe ... nóú.”

So het sy getwiet saam met die video waarin sy pleit dat daar na haar geluister word.

’n Woordvoerder van  die Departement van Internasionale Betrekkinge, Clayson Monyela, het teruggekap op Twitter en gesê sy is verkeerd en tree ondiplomaties op. Volgens hom was daar al verskeie ontmoetings met haar asook ’n versoek van president Ramaphosa om met Zelenski te praat, maar sy het nie reageer nie. Monyela beskuldig haar daarvan dat sy wanvoorstellings maak.

Suid-Afrikaners het uiteenlopend reageer op die ambassadeur se oproep dat Suid-Afrika na Oekraïne moet luister.

Sommige het haar oproep gesteun en hulle gedistansieer van die regering se weiering om Rusland te veroordeel. Ander steun weer die regering en plaas die skuld vir die oorlog op Zelenski se skouers omdat hy Rusland volgens hulle uitgetart het om die land binne te val.

Die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Naledi Pandor, het verlede week in ’n verklaring verskeie redes aangevoer waarom Suid-Afrika reeds drie keer in die Verenigde Nasies buite stemming gebly het wanneer daar gestem is oor resolusies wat Rusland se inval in Oekraïne veroordeel.

Volgens haar is Suid-Afrika nie onverskillig oor wat in Oekraïne aan die gebeur is nie. “Ons is diep bekommerd oor die voortdurende konflik, die verlies aan lewens en die verslegtende humanitêre situasie,” het Pandor gesê.

Sy sê Suid-Afrika was nog altyd, in ooreenstemming met die VN-handves, gekant teen skendings van die soewereiniteit en territoriale integriteit van lidlande. Sy sê Suid-Afrika het ook die humanitêre ramp wat voortgespruit het uit die voortgesette militêre operasies verwerp en gevra vir die dringende opening van humanitêre korridors en die verskaffing van hulp aan die burgerlike bevolking wat, soos gewoonlik, die swaarste dra wanneer gewelddadige konfrontasie uitbreek.

“Ons het hierdie sienings gehuldig met betrekking tot Palestina en baie ander lande waar soewereiniteit bedreig word.”

Net soos Ramaphosa het Pandor die VN gemaan om konsekwent op te tree wanneer daar internasionale konflikte is.

“Daar moet konsekwentheid wees in die benadering van die internasionale gemeenskap teenoor lande wat die internasionale reg oortree. Toe Israel volgehoue ​​offensiewe militêre operasies teen die Gaza-strook van stapel gestuur het, honderde mense doodgemaak en huise platgeslaan het, burgerlikes onder die puin begrawe is en die reeds vervalle infrastruktuur in so ’n klein en digbevolkte gebied verwoes het, het die wêreld nie op dieselfde manier gereageer as wat die geval met Oekraïne is nie,” het sy gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top