Om Omikron-gevolge met apartheid te vergelyk, is sensasioneel en onsin

  • 0

Selfs noudat daardie tyd van die jaar in Suid-Afrika amper aangebreek het wat deur nuusmense as “komkommertyd” bestempel word – dit is wanneer sogenaamde sagte, lighartige en lekkervoelstories die koerant- en webblaaie en nuusprogramme op radio en televisie moet vul – gebeur daar nog deurentyd nuuswaardighede wat die nuuswiele behoorlik laat spin.

Die nuutste is die ontdekking van die Omikron-variant van die koronavirus. Wetenskaplikes in Suid-Afrika het dit eerste geïdentifiseer en terwyl dié stap deur die Wêreldgesondheidsorganisasie geloof is, het die res van die wêreld met afsku gereageer.

Ons keer nou-nou na dié onderwerp terug.

Wat verlede week nóg die nuus gehaal het, is onder meer die skerp verhoging in die brandstofprys. Dit is aanvanklik as 81 sent per liter aangekondig. Hieroor het die oë omtrent gerek, want duurder pertrol is niemand se idee van ’n vroeë Kersgeskenk nie. Inteendeel. Motoriste het hulle daarom Dinsdagaand gehaas om by vulstasies tou te staan sodat hulle die voordeel van die ou prys kon benut – net om die dag daarna te moes hoor die ministerie van minerale hulpbronne en energie het die prys verkeerd bereken. Die verhoging sou 75 sent per liter wees, ’n hele ses sent minder, maar dit was steeds ’n groot skrik.

Die Zondo-kommissie na staatskaping het ook weer sy verskyning op die nuustoneel gemaak toe adjunkhoofregter Raymond Zondo sy besluit bekend gemaak het oor ’n aansoek deur die voormalige intelligensiehoof Arthur Fraser. Hy wou getuies wat hom in staatskaping geïmpliseer het, onder kruisondervraging plaas, maar daar was gebreke in sy aansoek, soos dat hy nie duidelik genoeg was oor presies wie hy in gedagte gehad het, en waaroor spesifiek nie. Die aansoek is afgekeur; en nou kan die agbare regter voortgaan met die skryf van sy verslag.

Staatskaping, oftewel die beweerde misbruik van staatshulpbronne en die beweerde oorhandiging van presidensiële funksies aan die nou berugte Gupta-broers, word natuurlik – ten regte of lasterlik – as ’n nalatenskap van die voormalige president, Jacob Zuma, beskou. ’n Ander nuusstorie van verlede week het ook hóm weer die nuus laat haal. Dit was naamlik die Menseregtekommissie se openbare verhore oor die onrus en plundery wat in Julie in Gauteng en KwaZulu-Natal plaasgevind het. Zuma se verwagte inhegtenisname in daardie selfde tydperk word as een van die aanstekers van die brande beskou – tonele wat die wêreld ingestuur is, het Suid-Afrika op daardie oomblik weer laat lyk soos met die onlustonele uit die jare van apartheid en noodtoestande.

Nou word ’n nuwe “noodtoestand” ervaar, waarvan die internasionale gemeenskap ook kennis geneem het: die nuutste koronavirusvariant genaamd Omikron. Nog voordat die WGO op ’n naam vir die variant besluit het, het ’n dertigtal lande hul grense vir reisigers uit Suid-Afrika gesluit. Dit was ’n ekonomiese gatslag soos ook met die oorspronklike aanslag van die virus vroeg in 2020. Heel ironies was Suid-Afrika se infeksiegetalle tot ’n week of wat gelede nog goed onder beheer – en daarom is die land tans (nog) op vlak 1 van die inperkingsmaatreëls, maar dit het geen verskil gemaak aan lande waar die infeksiegetalle in die tienduisende is nie. Niemand het mos vir Suid-Afrika gevra om die regte ding te doen deur die variant aan te meld nie, want wat weet ons nou? Ons weet nou dat die variant reeds vroeër in Botswana en Hongkong teenwoordig was – en óók, deel die Nederlandse gesondheidsowerhede die wêreld mee, was daar in werklikheid reeds gevalle in Nederland vóórdat Suid-Afrika die variant geïdentifiseer het.

Maar watwou, dit is nou Suid-Afrika se naam wat hieroor deur die modder gesleep word – en dan wonder ons waarom daar vrae (onsekerheid, agterdog) oor sommige lande se COVID-19-syfers bestaan. Jammerlik het die infeksiesyfers ook hier nou weer die hoogte begin inskiet. Nagenoeg 11 125 nuwe gevalle is die afgelope 24 uur aangemeld met een sterfte; en meer as 30 spelers van een van die land se kampioensokkerklubs, Kaizer Chiefs, het onlangs positief getoets.

Cyril Ramaphosa het Maandag in sy weeklikse nuusbrief genoem dat die nasionale COVID-19-bevelsraad gaan binnekort vergader. Toe hy voorverlede Sondag weer een van sy “familievergaderings” gehou het, was sy fokus meestal op die Omikron-variant – en, duidelik die josie in, op lande soos Brittanje wat onmiddellik ná die bekendmaking van die variant hul grense vir reisigers uit Suid-Afrika gesluit het. Dit sluit Nederland in; en, méns, die opskrifte in De Telegraaf: “Terug uit Zuid-Afrika: 'Reis vol paniek en stress'”; “Oproep: bent u in Zuid-Afrika en wilt u terug?”; en “Gordon na reis Zuid-Afrika 'zwetend en verkouden' bij finale”.

Die reisverbod is ’n klap in die gesig van Suid-Afrika, glo Ramaphosa, en in ’n toespraak in die Ivoorkus, wat deel uitgemaak het van sy besoek verlede week aan Wes-Afrika, het hy in dié verband selfs teen “gesondheidsapartheid” gemaan. Hoewel ek begrip het vir sy frustrasie – en hom loof dat hy nie huiwer om die res van die wêreld aan te vat wanneer nodig nie – sou ek sê ’n mens moet versigtig trap om apartheid nie sommer lukraak in jou argumente in te span nie.

Niks kan vergelyk word met die sistemiese verontmensliking wat slagoffers van apartheid deurgemaak het nie. (Selfs die pyn en stryd van die Palestyne in die Midde-Ooste, wat ook so dikwels “apartheid” genoem word, moet ’n eie naam kry.) Om dus “apartheid” in jou kritiek op die reisverbod te gebruik, is op die meeste sensasionaal, wil ek aan Ramaphosa sê. Dit is onsin en uiteindelik onsensitief teenoor diegene wat daaronder gely en gesterf het.

Ons moet nou lewens red deur meer mense aan te moedig om hulself te laat ent, en deur innoverende inperkingsmaatreëls wat sal verseker dat mense wat ingeënt is, ’n goeie mate van vrye beweging sal aanhou geniet, en diegene wat weier, ’n prys daarvoor sal betaal.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top