Om te steier onder die sterftes rondom jou

  • 0

Vrydag het ons afskeid geneem van my vriend van 36 jaar, Harry Kalmer, by ’n geleentheid in Johannesburg. Harry was die agtste mens na aan my wat die afgelope jaar of so dood is.

Ek self was amper Bokveld toe nadat komplikasies ingetree het na ’n operasie in Januarie.

Harry Kalmer (Foto: LitNet)

Graeme Feltham het homself om die lewe gebring. Daarna is Ryk Hattingh dood aan ’n hartaanval in Nieu-Seeland. Tammy Foyn sterf aan kanker. In Cardiff gee John Lewis se hart in. Neels Blom word ’n slagoffer van longontsteking. Ron Smerczak gaan in ’n diabeteskoma in, word dood by sy huis gevind. Jan Taljaard: kanker. So ook Harry.

Roland Barthes het geskryf oor die punctum, die punt in ’n foto van ’n geliefde wat jou skielik aan die hart gryp, maar wat ook die werp van ’n dobbelsteen kan beteken. ’n Program oor Harry lê op ons eetkamertafel tussen Corné se naaldwerk, die jongste Time in sy lykskleed van plastiek, die gom wat ek gekoop het om ’n gebreekte vrugtebord reg te maak. Elke keer as ek verbyloop, is daar ’n punctum, ’n intense verlange na Harry. Ek bêre die program nie.

Neels het net om die draai van ons gebly. As ek winkel toe gaan, wil ek links swenk by die sirkel om te gaan hallo sê, maar dan sien ek hom, whiskey in die hand, en hy is in ’n ander land. Ek doen my handomkeer met die stuurwiel. By Emmarentiapark kyk ek uit vir Tammy en haar honde. Ek herken haar honde nie meer nie.

.........

“Al was ons so lank vriende, het ek veel omtrent Harry geleer by sy huldegeleenthede. En dat die dood die tyd van stories is.
Stories wat jou laat ophou steier.”

.........

Jan Taljaard het ek lankal kontak mee verloor, maar ek onthou nog soos gister toe die Kerkstraatbom bars ’n paar blokke van ons kantoor by Beeld in Pretoria. Daar trek Jan met sy skoorsteenveërpak, sy dun swart dassie oor sy skouer, notaboek in die hand. Ek het Jan met ’n slenter in die steek gelaat toe ons ’n blyplek gedeel het op ’n plot in The Willows. Ek sou dit graag wou reggestel het.

Ron Smerczak was eenmaal die beste akteur in die land. Hy was ook die taaiste mens wat ek geken het. Hy moes lankal dood gewees het, maar het sy diabetes verbete en met ’n lus vir die lewe beveg. Maar die laaste paar jaar was die pyn so erg dat hy nie meer dikwels gebad nie. As ek uie ruik, ruik ek hom langs my op die bank terwyl ons rugby kyk.

Ek en Gary Cummiskey is besig om Graeme Feltham se roman, oor ’n dwelmhandelaar, uit te gee, ’n antiheld wat die MeToo-beweging ’n groot hupstoot sou gegee het as Graeme meer bekend was. Die punctum is nou ’n uitkyk vir verkeerde kommas en punte. Hy is waarskynlik dood omdat hy nie meer sy mediese skuld kon betaal nie.

Al die stekies van pyn laat my verlig voel dat ek drink eerder as dobbel. Elke aand is dit al meer getrou ’n G&T voor ete, en nog twee glase wyn saam met my kos. My hartdokter sê dis oukei, maar ek het hom ook maar net gevra op aandrang van Corné.

Ek het vir die eerste keer Harry se … en die lekkerste deel van dood wees gelees. Dit was die enigste van sy boeke wat ek nie gelees het nie, want ek kon die titel nie verduur nie, en omdat hy dele op die verhoog gesit het. Ek is nou spyt daaroor.

Omdat ons so lank vriende was, het ek die genesis van baie van sy werk meegemaak. Ek het hom vertel van Georges Perec se Life, a user’s manual, waarvan die hoofstukkies elkeen oor ’n kamer in ’n Paryse gebou gaan. Harry wou dieselfde soort ding doen, en so het ’n Duisend stories oor Johannesburg ontstaan. Later het hy met ’n verleë laggie beken hy het nog net ’n stuk of 400, en dit word ’n stryd. Nou maar hou dan op, sê ek vir hom, dit word ’n lekker oop einde en sê vir mense hoeveel stories hulle self nog kan voortborduur.

Ek dink dit het dalk iets te doen daarmee dat al die sterftes in hierdie tyd nie traumaties is vir my nie. Dit bly by puncta. Ek voel skuldig omdat ek nie ten minste aan “survivor’s guilt” ly nie. Maar dis eintlik nie so vreemd nie. Want dit was en is ’n vrugbare tyd van herinnering, van konneksies tussen toe en nou, van die besef dat daar geen einde aan stories is wat mense oor mekaar kan vertel nie.

Neels het van die beste rubrieke in Suid-Afrika geskryf rondom sy persona as ’n forelvisser. Maar by sy roudiens het hy ontpop as ’n krygsheld. Ons het geboei geluister hoe ou kamerade vertel van sy dapperheid as mediese ordonnans tydens die Angolese inval van 1976.

Neels het nooit ’n woord daaroor gerep nie. Peter Bruce het ’n rubriek geskryf oor sy skermutselings as koerantredakteur met Tammy tydens die redigering van artikels. Nooit het ons dit aanskou nie.

Jan se kollegas skryf oor hom in Rapport. Laasjaar by die Woordfees sleep Ryk vir Kallie Kriel van AfriForum na ons tafel vol linkses. Hulle was by dieselfde bed-en-brekfis. Ek kla oor AfriForum se dinge by Kallie, en hy sit actually en knik sy kop, voor Ryk hom om die nek gryp en ’n klapsoen gee. By die huis, sê hy later vir my, sorg Martene dat hy die “straight en narrow” loop, sy is sy rots. Ryk se punctum lei my na hierdie tonele.

John Lewis is die skoonpa van my dogter Clara wat in Wallis woon. Hy was die dekaan van Cardiff-katedraal, en het soos die pous goudomboorde gewade gedra wanneer koningin Elizabeth II kom kuier. My skoonseun James het nie gedink ons sal iets vir mekaar te sê hê nie, want ek is ’n geswore ateïs, maar ons het groot vriende geword. Hy was ’n klein legende; na sy dood kon Clara nie voorbly met tee en koek soos mense dae lank van oral oor Wallis kom meegevoel betuig het.

Toe ons eenmaal by ’n kerk op die platteland kom en daar is geen toilet nie, wink dekaan Lewis my om die hoek en ons slaan water af teen die agterste muur. Hy was bekend daarvoor dat hy eendag ’n inbreker vergewe het met die woorde: “Fuck off out of my church!”

Al hierdie mense was so uiteenlopend as wat kan kom. Dis asof ’n gordyn op ’n wye landskap oopgegaan het, met elkeen van hulle besig met sy ding, van die een einder na die ander, iets soos ’n Brueghel-skildery wat ook ’n halwe eeu diep in die land se lewe strek.

Dus: ek steier onder al die sterftes, maar dis ook net dit. Daar is ’n string klein epifanieë. Al was ons so lank vriende, het ek veel omtrent Harry geleer by sy huldegeleenthede. En dat die dood die tyd van stories is.

Stories wat jou laat ophou steier.

Lees ook op LitNet

Harry Kalmer, ’n persoonlike huldiging

Die tyd raak kort: 'n pastiche ter nagedagtenis aan Harry Kalmer

Harry Kalmer en die troos van telefoontekste

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top