Omotoso en die lang geskiedenis van seksuele geweld

  • 0

Soos onlangs in die VSA, is seksuele mishandeling tans ook in Suid-Afrika en in Australië in die kollig. Die besonderhede van die verskillende gevalle is uiteenlopend; die reaksie daarop ook.

Denis Mukwege (Foto: Claude Truong-Ngoc [CC BY-SA 3.0] via Wikimedia Commons)

Te midde hiervan ook goeie nuus, naamlik dat die Noorweegse Nobelkomitee pas aangekondig het dat twee leiers in die stryd teen seksuele geweld as deel van oorlogvoering – Denis Mukwege van die Republiek van die Kongo en die Yazidi-aktivis Nadia Murad – die ontvangers van die 2018-Nobelprys vir Vrede is.

Maar soos onlangse gebeure in die VSA, Australië en Suid-Afrika aandui, is die “oorlog” teen seksuele mishandeling nog lank nie gewonne nie.

In Amerika het Brett Kavanaugh, pas aangestel as ’n regter in die hooggeregshof, se beweerde mishandeling van ’n medestudent hom gedwing om hierop te antwoord in sy uitmergelende aanstellingsitting in die senaat.

Dit het dié land langs geslags- én politieke grense verdeel: Kavanaugh is, soos wat die gebruik is, deur die President genomineer – en dié verteenwoordig die Republikeinse Party, soos ook die meerderheid lede van die senaatskomitee wat die aanstelling moes oorweeg.

Wat beslis in Kavanaugh se guns moes getel het, is dat Donald Trump gedurig getwiet het oor hoe onregverdig hy deur die Demokratiese Party-lede op die komitee behandel is; dat dit waaraan hy (en by implikasie sy gesin) blootgestel is, ongekend sou wees.

Maar selfs al is Kavanaugh uiteindelik as nuwe hooggeregshofregter ingesweer – ’n lewenslange pos – bly die getuienis van sy beweerde slagoffer, Christine Blasey Ford, mense by; en dat sy die moed gehad het om ná soveel jare só ’n magtige figuur in die Amerikaanse reg- en politieke stelsel tromp-op te loop, is as inspirasie vir ander (steeds stilswyende) slagoffers bestempel.

Christine Blasey Ford (Foto: Wikimedia Commons)

In Australië het die regering nie net geïnspireer nie, maar ook ’n stap verder gegaan met finansiële vergoeding aan slagoffers: Verlede Maandag is slagoffers van seksuele mishandeling in kerk-, onderwys-, sport- en ander instellings om verskoning gevra en ook uitbetalings van minstens R1,5 miljoen is aan elkeen toegewys.

Die premier, Scott Morrison, het die emosionele apologie in die land se parlement gelewer. Honderde mense het die geleentheid in Canberra bygewoon – binne-in die parlementsgebou en buite in markiestente. Dit kom ná ’n vyf jaar lange ondersoek waarin bevind is dat tienduisende kinders oor dekades heen in die genoemde instellings seksueel mishandel is.

Teen die einde van die ondersoek in Desember verlede jaar was die getuienis van meer as 8 000 slagoffers aangehoor. Morrison se woorde: “Ons erken en konfronteer vandag uiteindelik die verlore krete van ons kinders.”

Yazidi-aktivis Nadia Murad (Foto: Wikimedia Commons)

En daar was ook die treffende stelling deur een van die slagoffers, soos aangehaal deur Morrison, dat dit nie ’n buitelandse vyand was wat dit aan die slagoffers gedoen het nie. Wat gedoen is, is deur Australiërs aan mede-Australiërs gedoen.

Dit was “die vyand in ons midde”.

In Suid-Afrika dui ’n huidige hofsaak daarop dat dié “vyand” selfs iemand kan wees wat roem op “goddelike” vermoëns. Hier, in die Port Elizabeth-hooggeregshof, word ’n Nigeriese pastoor, Timothy Omotoso, tans daarvan aangekla dat hy jong vroulike gemeentelede van sy Jesus Dominion International-kerk seksueel “voorberei” en verkrag het – daar is meer as 60 klagtes en meer as 30 alternatiewe klagtes.

Die eerste getuie in dié saak, Cheryl Zondi, het die land se verbeelding aangegryp met haar grafiese beskrywings van wat Omotoso haar sou maak doen het. Dit het glo begin toe sy maar 14 jaar oud was; sy is nou ’n 22-jarige bemarkingstudent. En in die aangesig van ’n ongenadige kruisverhoor deur die verdedigingsadvokaat, Peter Daubermann, het sy dapper haar weergawe van gebeure aan die hof gestel.

In ’n ongewone verwikkeling het die voorsittende beampte, regter Mandela Makaula, tussenbeide getree en Daubermann gewys op die onaanvaarbaarheid van sommige van sy vrae. Dit was tot: “Met hoeveel sentimeter het die beskuldigde jou gepenetreer?”

Omdat Suid-Afrikaanse wetgewing in die algemeen bepaal dat die identiteit van verkragtingslagoffers geheim moet bly, is dit raar dat die publiek aan hierdie soort besonderhede blootgestel word. Maar in hierdie geval het Zondi as die beweerde slagoffer ingestem dat haar getuienis selfs regstreeks oor televisie uitgesaai mag word.

Organisasies wat hulle beywer vir die regte van vroue, het haar geprys vir die wyse waarop sy (my woorde) “haar man gestaan het” – die ironie in die bekende uitdrukking – en tot die minister van vroue, Bathabile Dlamini, is deur die hofsaak uit ’n post-Jacob Zuma-slaap wakker geskud.

Dlamini het aangekondig dat sy met haar kabinetskollegas gaan beraadslaag oor wyses waarop relevante wetgewing beter beskerming aan slagoffers kan bied sodat hulle nie tydens hofverrigtinge in effek vir ’n tweede keer “mishandel” word nie.

Cheryl Zondi (Foto: YouTube, SABC Digital News)

In ’n meningsartikel skryf sy ook dat die belangrikste vraag na aanleiding van die Omotoso-verhoor dié is oor hoe betekenisvolle sosiale transformasie gefasiliteer en bestuur moet word gegee die regspresedente uit die land se koloniale en apartheidsverlede. “Ons hooftaak, indien dit wel ’n probleem is wat oorgeërf is, is om opnuut te dink oor die institusionele samestelling van ons sosiale en regstrukture,” aldus Dlamini.

Wat uitstaan as die gebeure in Australië met dié in Suid-Afrika vergelyk word, is die wyse waarop die regering in Australië self verantwoordelikheid neem vir die misbruik waaraan slagoffers vir só lank blootgestel is – selfs al was dit nie noodwendig in die naam van die staat nie. Omgekeerd wys ’n minister in Suid-Afrika vinger na die nalatenskap van die koloniale en apartheidsregstelsel wat steeds bepaal hoe sake en hofverrigtinge in die land nou in die demokratiese era gehanteer word.

Ongenuanseerd soos wat die minister dikwels oorkom, boor sy dalk tog ’n senuwee raak wanneer sy ’n pleidooi lewer vir herbesinning oor die geskiedenis van geweldsmisdaad in Suid-Afrika. Dit is seer sekerlik ’n element wat jy ook in die geskiedenis van seksuele mishandeling in Australië sal raakluister met betrekking tot die behandeling van die Aborigine-gemeenskap.

Dus het die skynbare onwilligheid van ons regering om té ver in ons verlede terug te kyk straks te make met die ongemaklike waarheid oor die eerste verskynsels van seksuele geweld in ons land, naamlik die wyse waarop inheemse vroue deur setlaarmans gedwonge vir hulself toegeëien is, soos wat onder meer in die film Krotoa uitgebeeld word.

Dit is egter geen verskoning vir die Omotosos van vandag nie.

Lees ook op LitNet

Die beeldsending van verhore: publieke belang of Reality TV v 2.0?

Kavanaugh, vroueregte en die toekoms van protes

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top