Omstrede Bela-wet beslis hof toe

  • 0

Solidariteit het Dinsdag formeel aangekondig dat hulle die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela-wetsontwerp) in die hof gaan beveg as dit ’n wet word.

Solidariteit se bestuurshoof, Dirk Hermann, het op die organisasie se webwerf gesê Bela is ’n bykans gewelddadige poging om die land se skole te kaap. Hy sê dit erodeer nie net die magte van beheerliggame nie, maar absorbeer dit.

Die Bela-wetsontwerp is op 26 Oktober 2023 deur die Nasionale Vergadering goedgekeur met ’n paar veranderinge wat deur die portefeuljekomitee oor basiese onderwys aangebring is.

Die wetsontwerp is sedertdien aan die Nasionale Raad van Provinsies oorhandig wat sy eie openbare betrokkenheidprosesse daaroor hou.

Indien die wet deurgevoer word, sal dit aan provinsiale hoofde van onderwysdepartemente die mag gee om ’n finale besluit oor ’n skool se taal- en toelatingsbeleid te neem. Die rol van skoolbeheerliggame sal dus aansienlik kleiner wees.

’n Skool se taalbeleid sal byvoorbeeld deur die lede van die uitvoerende raad (LUR’e) bepaal word en nie deur die skoolbeheerliggaam nie.

Die voorsitter van die Gautengse portefeuljekomitee oor onderwys, Tshilidzi Munyai, het Maandag sy hande vol gehad om mense te kalmeer wat kwaad was oor sommige van die meer omstrede klousules in die Bela-wetsontwerp.

Munyai het vroeër alle inwoners van Gauteng uitgenooi na die Bela-wetsontwerp se openbare verhore vir openbare deelname.

Emosies het hoog geloop toe gemeenskapslede tydens so ’n verhoor in Randfontein hul mening oor die wetsontwerp ingedien het.

’n Lid van die EFF het aan diegene wat by die Randfonteinse Plaaslike Munisipaliteitsaal vergader het, gesê swart mense wat nie die wetsontwerp ondersteun nie, is “sell-outs”.

Die leier van Build One South Africa (Bosa), Mmusi Maimane, is ook teen die wetsontwerp gekant. Hy het op X gesê die wetsontwerp is ’n slegte idee van ’n slegte minister.

Dirk Hermann van Solidariteit sê die wetsontwerp is ’n verbreking van die politieke skikking van 1994 en waarsku dat dit tot ’n vertrouensbreuk tussen die Afrikaanse gemeenskap en die regering gaan lei.

“Bela trek ’n streep deur die skikking van 1994. Die finale besluit van ouers oor toelating en taal word in die hande van ’n staatsamptenaar geplaas. Dit is die mes teen ons keel. Paaiwoorde dat die mes (ten minste voorlopig – ‘at least for now’) nie gebruik gaan word nie, is net nie goed genoeg nie. Vat die mes weg. Dit wat goed is in Bela, regverdig nie die mes nie. As jou keel afgesny word, is die nuwe borslappie wat keer dat ek nie mors as ek eet nie, nutteloos,” sê Hermann.

Hermann sê hy wil nie hê sy kinders moet produkte word van ’n staatskool met ’n staatsideologie wat skole se  ligte afskakel nie.

Volgens hom is Bela die volgende vlak van die regerende party se onderwysrevolusie. Hy sê dit is egter nie al nie. “Dit is ’n instaatstellerwet waardeur totale beheer bereik wil word. Hierdie wetsontwerp is nie ’n blote wetswysiging nie, maar die verandering van ’n onderwysbedeling.”

Die drukgroep referendums.co.za het ’n petisie op die internet begin waarin Suid-Afrikaners aangemoedig word om hulle teen die wetsontwerp uit te spreek. Sowat 80 000 mense het reeds die petisie onderteken om hulle teenkanting teen die wet uit te spreek.

Die DA in Gauteng het vroeër ook ’n dringende beroep op besorgde gemeenskapsleiers, onderwysers en ouers gedoen om aktief deel te neem aan die openbare verhore in Gauteng oor die wet wat verlede week begin het en tot 1 Maart sal duur.

Die DA sê in ’n verklaring hulle het deurgaans beduidende kommer oor die Bela-wetsontwerp geopper. “Wat veral kommerwekkend is, is die ‘Lesufi-klousules’, wat daarop gemik is om die gesag van skoolbeheerliggame te ondermyn deur hulle te ontneem van die mag om finale besluite oor hul skole se taal- en toelatingsbeleide te neem.”

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top