Omstrede Bela-wet oor onderwys nog ’n stap nader

  • 0

Die omstrede wysigingswetsontwerp op onderwyswette wat die afgelope week deur die  parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys aanvaar is, sal waarskynlik in die hof gaan draai as die parlement dit goedkeur.

Die wetsontwerp is, ten spyte van hewige openbare teenkanting, deur die portefeuljekomitee  aanvaar.

Meer as 80% van diegene wat insette oor die wetsontwerp gelewer het, steun dit nie. Al die opposisiepartye wat in die komitee dien, is met die uitsondering van die EFF ook daarteen gekant.

Desondanks het die ANC Dinsdag sy meerderheid in die portefeuljekomitee gebruik om die aanvaarding daarvan deur te druk.

Die wetsontwerp en die verslag van die komitee daaroor sal nou na die Nasionale Vergadering verwys word vir debat en oorweging. Daarna moet die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) ’n besluit neem voordat die President dit kan promulgeer.

Die DA, Vryheidsfront Plus en Solidariteit het reeds laat blyk dat hulle nog lank nie die stryd gewonne gegee het om te keer dat die wet tot op die einde deurgevoer word nie. Hulle beskuldig die ANC daarvan dat hy sy meerderheid misbruik om die wet deur die parlement te stomroller ten spyte daarvan dat dit volgens hulle ongrondwetlik is.

Die DA se skaduminister van basiese onderwys, Bax Nodada, sê in ’n verklaring die DA sal voortgaan om die “drakoniese” wetsontwerp teë te staan.

“Ons sal nie tot onderdanigheid geboelie word nie en sal voortgaan met elke poging om te verseker dat Suid-Afrika ’n ware deelnemende demokrasie het. Die uitsondering van hoëpresterende skole om die druk op die onderwysstelsel te verlig behoort nie nasionale beleid te wees nie. In plaas daarvan moet die departement fokus op die implementering van suksesvolle strategieë in sukkelende skole en die opheffing van hul standaarde,” het Nodada gesê.

Solidariteit het in hulle reaksie gesê hulle gaan dalk met geen ander keuse gelaat word as om in te gryp om wat hulle bestempel as  “regeringskaping van skole” te keer nie, al moet hulle hof toe gaan om dit te doen.

“Die ANC het slegs een doel voor oë,” sê Johan Botha, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris van die professionele sektor. “Hulle streef na nóg meer mag en na die sentralisering van onderwys en die kaping van skole. Hulle fokus is op die afskaffing van Afrikaans in skole onder die vals aantyging dat huidige taalbeleide kinders van onderrig weerhou.”

Botha sê in ’n verklaring die regering wil ’n rasse-ideologie bevorder en Afrikaners en Afrikaanssprekendes van hulle skole vervreem. “Dit is ’n absolute aanslag op Afrikaans en die bestaansreg van Afrikaanse skole,” het hy gesê.

Volgens Botha stel die regering in werklikheid nie daarin belang om onderwys in Suid-Afrika te verbeter of te bevorder nie.

“Die regering weier om sy plig na te kom en misbruik die wetgewende gesag om ongrondwetlike wette deur te druk. Solidariteit sal egter nie toekyk hoe kinders van hulle skoolregte gestroop word nie. Ons is gereed om voort te gaan met regsoptrede sou hierdie wetgewing deurgedruk word.”

Wynand Boshoff van die Vryheidsfront Plus sê in sy verklaring die kern van die VF Plus se beswaar teen die wet is die regering se toenemende inpalming van skoolbeheerliggame se bevoegdhede.

Volgens Nodada van die DA het die duisende ontledings en voorleggings, die honderde kilometer wat afgelê is en die meer as R8 miljoen wat aan openbare verhore in die provinsies bestee is, byna geen impak op die ANC se hantering van die wetsontwerp gemaak nie. Ernstige kommer is geïgnoreer en vrae oor die bewoording van klousules, die impak van klousules op skole en gemeenskappe, en die praktiese uitvoerbaarheid van die beplande sentralisasie bly onbeantwoord.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top