Die omstrede Bela-wetsontwerp wat verskeie veranderinge aan die Suid-Afrikaanse Skolewet voorstel, insluitend die oordrag van beheer aan die Onderwysdepartement om ’n skool se taalbeleide en -kurrikulums te bepaal, sal waarskynlik vandag (Donderdag) in die Nasionale Vergadering (NV) goedgekeur word voordat dit vermoedelik ook deur pres Ramaphosa bekragtig word.
Donderdag is die laaste dag waarop die parlement sit voordat dit ontbind met die oog op die nasionale en provinsiale verkiesings op 29 Mei.
Die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) het Dinsdag die Bela-wysigingswetsontwerp goedgekeur, en dit moet vandag (Donderdag) in die NV goedgekeur word om wet te word voordat die parlement verdaag.
The NCOP passed the #BELA Bill with amendments yesterdayhttps://t.co/NxKaUuA40m
The Portfolio Committee on Basic Education (in the NA) is considering the proposed amendments todayhttps://t.co/iRdZS5OIaY https://t.co/0MT6oHtTu2
— PMG (@PMG_SA) May 15, 2024
Die DA en ander organisasies soos Solidariteit het reeds te kenne gegee dat hulle sal voortgaan om die wetsontwerp op elke moontlike terrein te beveg.
Die wetsontwerp bepaal dat graad R nou die nuwe eerste verpligte graad sal wees vir kinders om skool toe te gaan. Ouers wat versuim om hul kinders vir graad R in te skryf, sal formeel gepenaliseer word.
Sommige wysigings sluit ook strawwe in vir diegene wat skuldig bevind word aan lyfstraf, wat onwettig by skole is.
Wat taalbeleid betref, maak die wetsontwerp daarvoor voorsiening dat daar nou van ’n skoolbeheerliggaam vereis sal word om ’n openbare skool se taalbeleid en enige wysiging daarvan aan die hoof van die Onderwysdepartement vir goedkeuring voor te lê.
Tydens Dinsdag se stemming in die NRP het agt provinsies ten gunste van die Bela-wet gestem en een (Wes-Kaap) daarteen .
Terwyl die wetsontwerp in die NRP gedien het, is dit gewysig vanaf sy oorspronklike vorm soos wat dit aanvanklik deur die NV goedgekeur was. Daarom moet dit nou na die NV terugverwys word vir verdere oorweging voordat dit kan wet word.
Die DA se woordvoerders oor onderwys in die NRP en NV, Baxolile Nodada en Delmaine Christians, sê in ’n verklaring ten spyte daarvan dat dit nie destyds deur die NRP aanvaar is nie, het die ANC dit reeds vir debat in die NV geskeduleer vir Donderdag 16 Mei.
“Hierdie voortydige stap deur die ANC ondermyn die plig van parlementariërs om wetswysigings deeglik te ondersoek, en verlaag die onderwyskomitee tot ’n blote formaliteit eerder as ’n kontrole van uitvoerende gesag soos deur die Grondwet bepaal.”
Die DA sê hulle sal die Bela-wetsontwerp heftig teenstaan, sowel in die komitee as tydens sy beraadslagings in die NV.
Solidariteit het in hulle reaksie gesê die gesamentlike stryd om Afrikaanse skole onder beleg van die regering te beskerm, is op die punt om in alle erns te begin.
Solidariteit, AfriForum en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het Woensdag by ’n gesamentlike mediakonferensie hul voorneme bekendgemaak om hande te vat in ’n reuse regstryd teen die wetsontwerp indien dit, soos verwag word, deur die President onderteken word.
Die organisasies sê in ’n verklaring hulle is voorbereid en gereed om hierdie stryd so ver te voer as wat nodig is.
Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sou hulle graag die geskil op ’n vriendeliker wyse wou oplos, maar die regering se aandrang op beheer oor spesifiek skole se taal- en toelatingsbeleid sorg dat regsaksie die enigste uitweg is.
.@SolidariDirk sê: "Dit is hartseer dat 'n taalgemeenskap die regering moet hof toe sleep om sy taal te behou. Die regering moet ons mos beskerm, of hoe?" #StopBela pic.twitter.com/lW2PfYPOmg
— Solidariteit (@solidariteit) May 15, 2024
“Die ANC kan nie sy meerderheid gebruik om ’n uitspraak af te dwing nie. Die ANC is angstig om wetgewing deur te druk. Hulle is onseker oor hulle mag en wil nou alles deurdruk vóór die verkiesing. Dit is totaal onvanpas,” sê Hermann.
Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS, het beaam dat die organisasies met hofstukke gereed staan, aangesien die wetsontwerp volgens hom Afrikaanse kinders se reg op moedertaalonderrig ongetwyfeld sal skend, en die magsbalans wat tussen die skoolbeheerliggame en die staat behoort te bestaan, onherroeplik sal versteur.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het die wetsontwerp beskryf as ’n aggressiewe daad en ’n aanval op Afrikaanse skole en kinders waarmee die regering beheer oor die skole wil kry.