Omstrede Bela-wet voorlopig weer in spore gestuit

  • 0

Duisende voorleggings wat deel is van die openbaredeelnameproses aan die omstrede wysigingswetsontwerp op die Onderwyswet (bekend as die Bela-wetsontwerp) moet nou eers ontleed word voordat die wetgewing deurgevoer kan word.

Die ommekeer is deur die DA en AfriForum verwelkom. Albei organisasies het hulle sterk uitgespreek teen wat hulle bestempel as die ANC se pogings om die Bela-wetsontwerp deur die parlement te stoomroller.

ANC-LP’s in die portefeuljekomitee oor basiese onderwys moes die afgelope week onder druk van opposisie-LP’s swig en instem om 6 000 tot 9 000 onverwerkte skriftelike voorleggings oor die wetgewing te oorweeg.

Dit is nadat die DA en ander opposisiepartye uit die komiteevergadering gestap het wat die klousules van die Bela-wetsontwerp moet oorweeg.

AfriForum sê in ’n verklaring hoewel die ommekeer positief is, is dit betreurenswaardig dat politieke partye se druk en regsinsette nodig was om dit moontlik te maak.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, sal die Bela-wetsontwerp effektief demokraties verkose beheerliggame wat die skoolgemeenskappe verteenwoordig, muilband – net soos die mense wat moeite gedoen het om insette oor die wetsontwerp te gee, byna stilgemaak is.

Bailey meen dat die deurvoering van die Bela-wetsontwerp in sy huidige vorm en die druk wat tans op funksionerende skole in Gauteng toegepas word, ’n groot bedreiging vir Afrikaanse moedertaalonderrig inhou. Ouers verkies dikwels om nie hul kinders na die naaste skool toe te stuur nie omdat dit disfunksioneel is, en eerder ’n plek in ’n skool soek waar die skool wel kwaliteitonderrig verskaf.

“Wanneer dit nie slaag nie, spoor dit nie die Departement aan om aanspreeklik te wees en skole reg te ruk nie, maar word allerlei populistiese uitlatings gemaak, soos om te beweer dat Afrikaanse enkelmediumskole die oorsaak van die probleem is,” sê Bailey.

Die DA se skaduminister van basiese onderwys, Bax Nodada, sê in haar verklaring hulle  sal nou aan die komiteevoorsitter, Bongiwe Mbinqo-Gigaba, skryf om te versoek dat ’n behoorlike proses gevolg word, insluitend die aanbieding van ’n kwalitatiewe en kwantitatiewe matriks van alle voorleggings oor elke klousule van die Bela-wetsontwerp, aangesien dit ’n beduidende impak op die Bela-wetsontwerp kan hê.

AfriForum sê hulle monitor die prosesse wat die wetsontwerp deurloop en is gereed vir regsaksie indien dit in die huidige formaat aanvaar sou word.

“By tersiêre instellings het ons beleef hoe Afrikaans as sondebok vir die gebrek aan voldoende studiemoontlikhede geblameer is tot die druk só groot was dat die Afrikaanse instellings dubbel- of parallelmediumopsies ingestel het. Daarna het dit blitssnel na enkelmedium Engelse instellings omvorm. Nou sien ons hoe dieselfde resep by skole toegepas word. Die aantal Afrikaanse enkelmediumskole daal en die druk op die res om ook Engels te akkommodeer, neem toe. Dit is ’n soort neokolonialisme van ’n spesiale aard wat Afrikaans en die ander inheemse tale uiteindelik onder die oorheersing van Engels gaan laat swig en kinders van die voordele van moedertaalonderrig gaan ontneem. Dit is nie alleen ongrondwetlik nie, maar ’n skande,” het Bailey gesê.

Die DA het op hulle beurt gesê hulle sal alles in hulle vermoë doen om te verseker dat alle wette wat deur die parlement gaan – insluitend wetgewing oor onderwys – in die beste belang van die mense is. Die party sê leerders het reeds ’n opdraande stryd met die land se substandaardonderwysstelsel.

“Ons sal nie ’n drakoniese wetsontwerp toelaat wat poog om gemeenskappe en skoolbeheerliggame te ontmagtig en mag te sentraliseer nie. Ons sal aanhou veg vir goeiegehalte-onderwys vir Suid-Afrikaanse kinders,” het Nodada van die DA gesê.

Melanie Buys, hoof van Ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), sê die Gautengse Departement van Onderwys (GDO) probeer deur dreigbriewe plek skep in skole wat nie bestaan nie en oor die afgelope 20 jaar nie deur die regering gebou is nie.

Volgens die SOS het heelwat Afrikaanse skole in Gauteng briewe ontvang waarin hulle gedruk word om soveel as 25% leerders meer as waarvoor hulle kapasiteit het, in te neem. Volgens Buys sal hierdie getalle leerders se veiligheid en die kwaliteit van hul onderrig in gedrang bring.

“Dit is kommerwekkend dat die provinsie miljarde rande wat deur die jare toegeken is om meer skole te bou, nie spandeer het om voldoende kapasiteit in skole te skep nie. Die SOS eis dat die GDO inligting bekendmaak om te toon hoekom hulle dink die kapasiteit van skole is soveel hoër as die bestaande syfers.”

Lees ook:

In die keuse lê die kluts

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top