Omstrede Bela-wet waarskynlik terugverwys na parlement

  • 0

Die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die Bela-wetsontwerp) is opnuut in die weegskaal. Die nuwe minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, het die afgelope week te kenne gegee sy wil die wet terugverwys parlement toe.

Die Bela-wetsontwerp, wat verskeie veranderinge aan die Suid-Afrikaanse Skolewet voorstel, insluitend die oordrag van beheer aan die Onderwysdepartement om ’n skool se taalbeleid en -kurrikulums te bepaal, is kort voor die verkiesing tydens die doodsnikke van die vorige parlement goedgekeur danksy die ANC se groot meerderheid.

Die DA en ander organisasies, soos Solidariteit, het te kenne gegee dat hulle die wetsontwerp op elke moontlike terrein sal bly beveg en selfs hof toe sal gaan om dit te doen.

Intussen het die ANC, wat die wetsontwerp deur die parlement gestoomroller het, sy meerderheid in de parlement verloor. ’n DA-minister, in die persoon van Gwarube wat teen die wet gestem het, is nou in beheer van basiese onderwys.

Gwarube het Maandag haar departement se begroting by die parlement ingedien, wat opnuut die debat oor die Bela-wet laat opvlam het.

Een van haar kollega in die DA, Delmaine Christians, het gesê die Bela-wet sal nie die gehalte of inklusiwiteit van onderwys in Suid-Afrika verbeter nie.

Die DA-leier, John Steenhuisen, het ook Woensdag in Kaapstad die versekering gegee dat die DA sal voortgaan om te veg teen problematiese nasionale beleide en wetgewing soos die Nasionale Gesondheidsversekeringswet (NGV) en die Bela-wet.

Steenhuisen sê in ’n verklaring die DA se insluiting in die RNE het sy party se uitvoerende mag uitgebrei en die party in staat gestel om die uitvoerende gesag meer doeltreffend te ondersoek tot voordeel van alle Suid-Afrikaners.

Die DA beklee ses poste in die nasionale kabinet, ses adjunkministerposte, vyf parlementêre portefeuljevoorsitterposte en drie komiteevoorsitterposte in die parlement.

“Terwyl ons hierdie nuwe rol in die regeringsvlak aanpak, wil ek Suid-Afrikaanse kiesers verseker dat die DA onwrikbaar bly in ons verbintenis tot ons grondliggende waardes en beginsels, en tot die Grondwet wat die eksistensiële grondslag van ons samelewing bly,” het Steenhuisen gesê.

Hy sê die DA sal in sy nuwe rol aan Suid-Afrikaners demonstreer wat hulle op nasionale vlak kan doen wanneer hulle die geleentheid gebied word om te regeer. Die DA sal in die parlement aan Suid-Afrikaners wys hoe die wetgewers as effektiewe toesigliggame kan en moet werk wat die uitvoerende gesag in toom hou, het Steenhuisen gesê.

ActionSA het Gwarube se besluit om die Bela-wet terug te stuur parlement toe, verwelkom. ActionSA het Gwarube aangemoedig om te verseker dat sy dit aan president Cyril Ramaphosa duidelik maak dat die Bela-wet, in sy huidige vorm, nie die nodige veranderings teweegbring om die wanfunksionering van die land se onderwysstelsel op te los nie.

Lerato Ngobeni, ActionSA se hoofsweep in die parlement, sê in ’n verklaring ActionSA voer al lank aan dat die Bela-wetsontwerp ’n fundamenteel gebrekkige wetgewende poging is om die strukturele tekortkominge van Suid-Afrika se onderwysstelsel wat voortspruit uit dekades van sistemiese wanbestuur, te kamoefleer. Sy sê daarom kan die wet nie daarin slaag om die bestaande uitdagings in die land se onderwysstelsel aan te spreek nie.

Ngobeni sê die minister se voorneme rakende die wet kom as ’n verligting ná die hardnekkige houding wat die ANC in die 6de administrasie ingeneem het en hulle versuim om die werklike behoeftes en realiteite van die onderwyslandskap aan te spreek.

ActionSA sê noudat hulle ook in die 7de parlement verteenwoordig is, sal hulle veg om te verseker dat die wetsontwerp, indien dit terugverwys word na die parlement, hulle substantiewe bydraes en nodige wysigings sinvol weerspieël, insluitend dié wat deur die burgerlike samelewing voorgestel is, om die werklike tekortkominge van die onderwysstelsel aan te spreek.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top