Omstrede blouligbrigade se spoor van skandes

  • 0

Die ANC bestee R1,7 miljard se belastingbetalersgeld om Suid-Afrika se BBP-beskermingsdienste as hul eie persoonlike weermag teen die mense in stand te hou.

So sê die burgerlike organisasie Multi-Party Coalition Advocacy Group na aanleiding van die afgelope naweek se voorval waartydens lede van die omstrede blouligbrigade na bewering drie motoriste op die N1-snelweg naby Johannesburg aangerand het.

Die organisasie het ’n tydlyn op Twitter geplaas van tien blouligbrigadeskandes waarby die land se BBP-beskermingsdienste na bewering betrek word.

Dit wissel van ’n voorval in November 2008 waar ’n lid van die eenheid in die hof verskyn het nadat hy na bewering twee skote op ’n motor op die N3 naby Ashburton in KZN afgevuur het as gevolg waarvan ses mense beseer is, tot ’n voorval in Maart verlede jaar waartydens ’n motoris na bewering aangerand en sy  voertuig beskadig is omdat hy “nie behoorlike respek getoon het nie”.

Die ander agt voorvalle wat die organisasie gelys het, is:

– Februarie 2009: ’n Voetganger is dood nadat hy getref is deur ’n motor wat deel was van die destydse president, Jacob Zuma, se kavalkade. Die voorval het naby Ulundi se B-Noord-afdeling in die noorde van KZN plaas gevind terwyl Zuma se lyfwagte op pad was na Nongoma, waar Zuma ’n ANC-manifes-saamtrek sou toespreek.

– November 2011: Thomas Ferreira (18) van Krugersdorp was met sy motorfiets op pad na sy vriendin se huis in Randfontein toe hy deur ’n amptelike voertuig van Humphrey Mmemezi, LUR vir plaaslike regering en behuising, getref is.

– Januarie 2015: Twee fietsryers is na bewering deur lede van die blouligbrigade in Kaapstad aangerand omdat hulle nie vinnig genoeg padgegee het nie.

– Maart 2015: ’n Jong man is dood in ’n ongeluk waarby David Mahlobo, minister van staatsveiligheid, se blouligkonvooi naby Witbank betrokke was.

– September 2016: Die BBP-beskermingsdienste het na bewering ’n man in Pretoria aangerand omdat hy nie vinnig genoeg afgetrek het nie.

– April 2017: ’n Durbanse vrou is beseer nadat haar motor deur ’n blouligkonvooi  wat teen ’n hoë spoed gejaag het, van die pad gedwing is.

– Julie 2017: Berigte het die rondte gedoen ​​van ’n motoris in Johannesburg wat na bewering deur ’n lid van die brigade met ’n vuurwapen gedreig is omdat hy nie vinnig genoeg beweeg het nie.

– Junie 2018: ’n Konvooi wat na bewering vinnig gejaag het, was betrokke in ’n ongeluk in die Vrystaat, wat twee sterftes veroorsaak het.

Intussen het die DA se skaduminister van polisie, Andrew Whitfield, aangekondig dat die DA ’n Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting- (PAIA-) aansoek by adjunkpresident Paul Mashatile se kantoor ingedien het om belangrike inligting te bekom wat lig sal werp op die beweerde blouligbrigade-aanranding wat die naweek op die N1-hoofweg in Gauteng plaasgevind het.

Whitfield sê in ’n verklaring eerstens eis hulle dat die identiteit van al die insittendes van die konvooi voertuie wat in die blouligbrigade was, bekendgemaak word.

Hy sê as daar enige waarheid in die gerugte is dat Mashatile in een van die voertuie was tydens die beweerde aanranding, verdien die publiek om sonder verwyl daaroor ingelig te word.

“Tweedens doen ons ’n beroep op Bheki Cele, minister van polisie, om hierdie gruwelike voorval te veroordeel en onmiddellik op te tree. Dit is ontnugterend en onaanvaarbaar dat Cele stilgebly het en nie uitgereik het na die slagoffers wat deur hierdie aanranding geraak is nie. As die minister van polisie is dit sy plig om die veiligheid en welstand van alle burgers te prioritiseer, en sy gebrek aan reaksie is onvanpas,” het Whitfield gesê.

Volgens die DA toon die optrede van die blouligbrigadelede wat in die omstrede video vasgevang is, ’n skokkende magsmisbruik en ’n blatante miskenning van die regte en waardigheid van ongewapende burgerlikes.

“Ons dring daarop aan dat hierdie oortreders die volle gevolge van hul optrede dra en onder die wet aanspreeklik gehou word. Interne dissiplinêre prosesse binne die SAPD alleen sal nie voldoende wees nie; hulle moet gearresteer en voor die howe gebring word.”

Deursigtigheid, aanspreeklikheid en die herstel van openbare vertroue is uiters belangrik, sê die DA. “Die DA sal voortgaan om te pleit vir die regte en veiligheid van alle Suid-Afrikaners, om te verseker dat diegene wat aan sulke skandelike gedrag aandadig is, verantwoordelik gehou word. Ons sal die vordering van ons PAIA-aansoek noukeurig monitor en verbind bly tot die handhawing van geregtigheid en die beginsels van ’n regverdige samelewing,” lui die verklaring.

Volgens die DA is die jongste voorval net een van vele sulke voorvalle. Die party sê hulle bied nou bystand aan alle slagoffers van polisiebrutaliteit sodat alle boewe in polisie-uniforms verwyder kan word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top