Omstrede bruin politikus Vryheidsfront Plus se premierskandidaat

  • 0

Foto: Pieter Groenewald en Peter Marais
Bron: www.vfplus.org.za

Die flambojante maar ewe omstrede bruin politikus Peter Marais is deur die Vryheidsfront Plus geoormerk om die party se premierskandidaat in die Wes-Kaap te wees tydens vanjaar se algemene verkiesing.

Marais wat al aan verskeie politieke partye behoort het, is die eerste prominente bruin persoon wat hom by die Vryheidsfront Plus skaar en verkiesbaar stel in so ’n hoë amp.

Hy is Dinsdag amptelik deur die Vryheidsfront se leier, Pieter Groenewald, in hul geledere verwelkom tydens ’n nuuskonferensie in Kaapstad. Groenewald sê  Marais het homself beskikbaar gestel as kandidaat vir die Wes-Kaap en die party se nasionale en provinsiale strukture het hom ingevolge die vereiste prosedure benoem as hul premierskandidaat vir dié provinsie.

Marais  moet egter nog amptelik by die party aansluit voordat hy formeel as premierskandidaat benoem kan word.

Hy was voorheen ook burgemeester van Kaapstad en tot 2004 premier van die Wes-Kaap. Groenewald sê Marais het geen voorkeurbehandeling ontvang nie en daar bestaan geen ooreenkoms tussen die VF-Plus en Marais se Bruin Belange Beweging nie. Groenewald sê die VF-Plus het sy reëls wat insluit dat ’n persoon ’n lid van die party moet word en deur ’n proses moet gaan sodat die party kan verseker dat sy kandidate aan bepaalde norme en standaarde voldoen.

Hy het Marais bestempel as ’n deurwinterde politikus en sê as premierskandidaat bied hy bewese kundigheid en ervaring wat hom sonder twyfel die Wes-Kaap se voorste premierskandidaat maak.

Marais se politieke loopbaan is nie sonder omstredenheid nie. Hy het al aan meer politieke partye behoort as die ander vuurvreter politikus in die Wes-Kaap, Patricia de Lille wat daarvan beskuldig word dat sy ’n politieke verkleurmannetjie is. Hy was onder meer lid van die Arbeidersparty, Nuwe Nasionale Party, Cope, ICOSA en DA.

Van sy opponente het op Twitter die spot gedryf omdat hy al aan soveel verskillende partye behoort het.

https://twitter.com/henning_lubbeSA/status/1087703176151818240

Marais was ’n senior lid van die Nasionale Party toe hy deur die destydse premier van die Wes-Kaap, Gerald Morkel aangestel is in sy kabinet tydens die laat 90’s. Nadat die NNP in 2000 ’n samewerkingsooreenkoms met die DA aangegaan het, was hy een van diegene wat dubbele lidmaatskap van die NNP en die DA gehad het en het later Burgemeester van Kaapstad geword.

Hy is egter skaars ’n jaar later uit sy amp gedwing deur die destydse DA-leier, Tony Leon, wat hom as ’n politieke verleentheid beskou het. Dit het die verhoudings tussen die NNP en DA ernstig versuur.

As lid van die NNP het Marais in 2001 premier van die Wes-Kaap geword maar het in 2002 bedank na bewerings van seksuele teistering. Die staat het egter geweier om hom te vervolg weens ’n gebrek aan getuienis.

Later het hy die Nuwe Arbeidersparty gestig maar kon tydens 2004 se algemene verkiesing slegs 0.67% van die Wes-Kaap se provinsiale stemme trek. In 2006 is hy vrygespreek na klagtes van korrupsie wat hy na bewering met partyfondse gepleeg het.

Marais het Dinsdag gesê na vele indringende gesprekke met die leierskap van die Vryheidsfront Plus en die daaropvolgende instemming van die volle uitvoerende bestuur van die Bruin Belange Beweging (BBB), het hy besluit om homself beskikbaar te stel as kandidaat vir die VF Plus in die Wes-Kaap in die komende verkiesing.

Hy sê nadat hy die afgelope ses jaar telkens bruin mense se griewe in hofsake moes verdedig omdat niemand anders daarvoor kans gesien het nie, het hy finaal besluit om terug te keer. “Ek moet daarom terug politiek toe. Om te veg vir Afrikaans, vir selfbeskikking en christelike waardes in ’n eie Kaapland saam met die VF-Plus, die enigste party wat hom tot hierdie waardes en doelstellings verbind het.”

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top