Een van die grootste pilare van die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) het die afgelope week gekantel toe die Noord-Gautengse Hooggeregshof artikels 36 tot 40 van die Wet op Nasionale Gesondheid met koste ongrondwetlik verklaar het.
Die omstrede wet oor die NGV wat kort voor die verkiesing deur president Cyril Ramaphosa onderteken is, kan ernstig hierdeur geraak word.
Ramaphosa het NGV-wet op 15 Mei 2024 onderteken. Terwyl opposisiepartye soos die DA, wat nou deel is van die RNE, sedert die verkiesing heelwat stiller in die openbaar is oor die wet, sit die vakbond Solidariteit en ander burgerlike en mediese organisasies hulle stryd teen die wet in die hof voort.
Die Noord-Gautengse afdeling van die Hooggeregshof in Pretoria het Woensdag beslis dat wetgewing wat die regering toelaat om te bepaal waar dokters en ander gesondheidswerkers kan praktiseer, ongrondwetlik is.
Die aansoek is deur Solidariteit, die Alliansie van Suid-Afrikaanse Onafhanklike Praktisynsverenigings, die Suid-Afrikaanse Privaatpraktisynsforum, die Hospitaalvereniging van Suid-Afrika en ’n groep dokters in privaat praktyk gebring.
Solidariteit sê in ’n verklaring die uitspraak is ’n groot deurbraak in sy stryd teen die NGV-wet. ’n Kernpilaar waarop die staat se sentralisering van gesondheidsorg berus, is volgens die organisasie nou in die Hooggeregshof ongrondwetlik verklaar.
Solidariteit gee die NGV bloedneus. Die hof het bepaal dat die staat nie aan gesondheidspraktisyns mag voorskryf oor waar hulle mag praktiseer nie. Skakel om 15:00 regstreeks in op Solidariteit se FB-blad: https://t.co/NBafLahU8w
— Solidariteit (@solidariteit) July 24, 2024
Volgens hierdie uitspraak is artikels 36 tot 40 van die Nasionale Gesondheidswet, ingevolge waarvan die regering die bevoegdheid sal hê om te bepaal waar mediese praktisyns mag praktiseer, in hul geheel ongeldig.
Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê jare se harde werk en volgehoue steun van die algemene publiek, asook van rolspelers in die mediese bedryf, om die wetgewing teen te staan, is met dié uitspraak geregverdig.
“Hierdie uitspraak is ’n groot slag vir die hele NGV-idee, aangesien die beginsel van sentrale bestuur ’n kernpilaar van die NGV-wet self is. Die uitspraak oor die behoeftesertifikaat se groter gevolge is dat dele van die NGV-wet heel waarskynlik ook nou in beginsel onwettig is.
“Die NGV, in sy huidige formaat, kan nie meer geïmplementeer word nie, aangesien die wese van die NGV sentrale beplanning is, en dit is nou ongrondwetlik bevind,” sê Hermann.
Volgens Hermann bly die hofstryd teen die NGV-wet steeds ten volle in Solidariteit se visier as wetgewing wat meer spesifiek met die sentralisering van fondse vir gesondheidsorg te make het.
Die hofstukke daaroor is op 24 Mei aan die regering beteken nadat die NGV-wet deur Ramaphosa onderteken is.
“Solidariteit gaan dus voort met sy litigasie teen die groter NGV-plan en is nou in ’n baie sterk posisie om ’n oorwinning in die hof te behaal,” sê Hermann.
Regspanne vir president Ramaphosa, die minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, en die direkteur-generaal van gesondheid, Sandile Buthelezi, het aangevoer dat die aansoekers die belange van die private gesondheidsorgsektor verteenwoordig, wat slegs vir ’n klein groepie Suid-Afrikaners toeganklik is.
Regter Anthony Millar het in sy uitspraak gesê die hoofdoel van die skema is om die geografiese verspreiding van gesondheidsinstellings en gesondheidswerkers in Suid-Afrika en hul voldoening aan norme en standaarde te reguleer.
“Objektief gesproke is die skema nie rasioneel nie. Daar is geen verband tussen die skema en die implementering daarvan en die doel waarvoor dit in werking gestel is nie.”
Hy het beveel dat die uitspraak binne 15 dae na die Konstitusionele Hof gerig word vir bevestiging van die bevel van ongeldigheid wat die Hooggeregshof gemaak het en beveel dat die minister, die direkteur-generaal en die president die koste betaal.
Die uitspraak moet steeds deur die Konstitusionele Hof bevestig word. Die Hooggeregshof kan slegs besluit dat sekere bepalings van die artikels ongrondwetlik is. As die Konstitusionele Hof die Hooggeregshof se uitspraak, of dele daarvan, bevestig, sal die parlement waarskynlik twee jaar gegun word om artikels te wysig om die ongrondwetlikheid aan te spreek.
- Lees die volledige uitspraak hier.