Omstrede kopieregwet kan dalk steeds gekeer word

  • 0

Daar kan straks steeds ’n stokkie gesteek word voor die hoogs omstrede kopieregwysigingswetsontwerp wat onlangs deur die parlement goedgekeur is, nadat al hoe meer senior lede van die ANC ook bedenkinge daaroor begin kry.

Die wetsontwerp het die einde van verlede maand voor die Nasionale Vergadering (NV) gedien. Dit is deur die parlement goedgekeur ten spyte van sterk en uitgesproke teenkanting van mense in kreatiewe bedrywe. Die NV het die omstrede Wysigingswetsontwerp op Kopiereg op 1 Maart 2024 goedgekeur danksy die ANC-meerderheid, terwyl al die groot opposisiepartye, insluitend die EFF, daarteen gestem het.

Dit lê nou saam met drie ander wetsontwerpe op president Cyril Ramaphosa se lessenaar en wag om deur hom onderteken te word voordat dit amptelik wet word.

Die wetsontwerp maak dit onder andere vir die Departement van Basiese Onderwys moontlik om opvoedkundige materiaal sonder die toestemming van skrywers, en sonder vergoeding aan hulle, te gebruik.

Opposisiepartye het teen die wetsontwerp geprotesteer en kunstenaars het gesê die voorgestelde wetgewing sal kopieregregulasies verswak en hul lewensbestaan ​​benadeel. Die ANC het hulle nie daaraan gesteur nie en die wet deur die parlement gestoomroller.

Dit blyk nou dat senior leiers in die ANC al hoe meer bedekkinge begin kry oor die wetsontwerp waarvoor hulle gestem het, en wil keer dat Ramaphosa dit onderteken.

Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, het die afgelope naweek gesê die regerende party se leierskap sal Ramaphosa aanraai om nie die omstrede wysigingswetsontwerp te onderteken nie.

Die DA in die parlement het Mbalula se aankondiging verwelkom.

Die DA se skaduminister van handel, nywerheid en mededinging, Dean Macpherson, sê in ’n verklaring Mbalula se steun vir die DA se standpunt in die parlement oor hierdie wetsontwerp is lank reeds aan die kom en dit is verfrissend om te sien.

“Die DA het vir sewe lang jare gewaarsku oor die gevare van hierdie wetsontwerp en hoe dit in werklikheid kunstenaars en skeppers se vermoë ondermyn om hul werke te beskerm en inkomste daaruit te genereer.”

Macpherson sê ANC-LP’s het vir te lank hierdie wetsontwerp deur die parlement gestoomroller, skynbaar in opdrag van die vorige en huidige sekretaris-generaals van die ANC, en het alle advies van die DA en bedryfskenners geïgnoreer.

Die komende sewende parlement bied volgens die DA ’n perfekte geleentheid vir LP's oor die politieke spektrum heen om nuwe wetgewing op die tafel te plaas wat beide inhoudskeppers en inhoudvervaardigers finaal sal beskerm, asook om ’n wetgewende raamwerk te verskaf vir maatskappye om in talentvolle kunstenaars te belê.

Die DA sê hulle het ook ietwat simpatie met ANC-LP's in die portefeuljekomitee van handel, nywerheid en mededinging, sowel as LP's in die parlement wat ter ondersteuning van die wetsontwerp gestem en gepraat het, en nou aan die publiek moet verduidelik dat hulle in werklikheid daarteen gekant is.

Mbalula het die afgelope naweek gesê die wetsontwerp in sy huidige vorm het meer konsultasie nodig, en dit sluit die siening van mense in die kreatiewe sektor in.

Hy sê daar kan nie bekostig word om voort te gaan met wetgewing as dit teen ’n prys kom wat uiters onregverdig is teenoor sommige partye wat daardeur geraak word nie en sulke wetgewing moet ook in belang wees van die breë kreatiewe sektor.

Een van die grootste redes tot kommer is die wetsontwerp se klem op toegang tot en op vryer gebruik van kopieregwerke ten koste van diegene wat dit geskep het. Gebruikers van kopieregwerke, wat groot tegnologiemaatskappye soos Google insluit, word egter daardeur bevoordeel.

Volgens Marga Stoffer van Media24 is die beoogde veranderinge aan die wetgewing nie net strydig met die internasionale ooreenkomste wat deur Suid-Afrika onderteken is nie, dit is ook strydig met Suid-Afrika se Grondwet.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top