Omstrede oud SAUK-baas wil sy werk terughê

  • 0

Hlaudi Motsoeneng
Foto: YouTube

Die SAUK se voormalige bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng, wat verlede jaar deur die openbare uitsaaier in die pad gesteek is, wil sy werk terughê en spog daarmee dat hy die SAUK uitstekend bestuur het.

Motsoeneng wat reeds verskeie bloutjies in die hof geloop het, het die afgelope week sy onskuld tydens ’n verhoor by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie probeer bewys. Hy het gedreig dat hy sy saak tot in die konstitusionele hof sal beveg om sy onskuld te bewys en eis sy werk terug.

Hy hou vol dat hy onregmatig ontslaan is. Volgens hom het die SAUK-raad nie die bevoegdheid gehad om dissiplinêre stappe teen hom in te stel nie.

Motsoeneng is in Junie verlede jaar afgedank nadat hy daaraan skuldig bevind is dat hy die openbare uitsaaier se gedragskode oortree het.

Sy verskyning voor die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie volg kort op die hakke van ’n uitspraak in die arbeidshof waar hy ook bloedneus gekry het.

Die arbeidshof het vroeër die maand beslis dat hy persoonlik verantwoordelik is vir die regskoste van sy hofsaak oor sy omstrede verbod op die uitsaai van betogings.

Motsoeneng was die afgelope week soos gewoonlik in ’n veglustige bui. Hy ontken enige nalatigheid van sy kant terwyl hy aan die hoof van die land se openbare uitsaaier was.

“Daar is net een Hlaudi in Suid-Afrika en ek is uniek. Daar kan nie nog een soos ek wees nie,” het hy sy eie lof die afgelope week oudergewoonte besing.

Volgens Motsoeneng behoort die SAUK hulle te skaam vir die klagtes wat hulle teen hom ingebring het. Hy sê hy het in die beste belang van die SAUK en sy werkers opgetree en het geensins ’n groot ego soos wat beweer word nie.

Hy het sy voormalige kollegas volgens die Suid-Afrikaanse media as rugstekers uitgeskel.

Motsoeneng het tydens sy termyn ook groot kritiek uitgelok vir sy besluit dat 90 persent van die SAUK se inhoud plaaslik moet wees. Hy word daarvan beskuldig dat dit die openbare uitsaaier in ’n finansiële verknorsing geplaas het, maar hou vol dit was ’n goeie besluit.

Hy was glo ook die meesterbrein agter die onregmatige afdanking van die agt SAUK-joernaliste wat internasionale nuus gehaal het, maar ontken dit. Die joernaliste se afdanking is later deur die hof tersyde gestel en hulle is terug by die werk terwyl hulle voormalige baas nou werkloos is.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top