Ondanks misdaad en ander probleme stroom Nederlandse toeriste steeds na Suid-Afrika

  • 0

Ten spyte van Suid-Afrika se hoë misdaadsyfer, gebrekkige infrastruktuur en talle ander maatskaplike en ekonomiese probleme bly die land ’n gewilde bestemming vir miljoene buitelandse toeriste, met Europese besoekers wat steeds ’n belangrike deel van die land se toerismemark uitmaak.

Meer as ’n miljoen buitelandse toeriste het Suid-Afrika in Oktober vanjaar besoek, terwyl die land goed op dreef is om verlede jaar se rekordgetal van 10,5 miljoen internasionale toeriste te oortref.

Volgens die jongste syfers wat die Departement van Toerisme Donderdag bekendgemaak het, het 1 020 249 internasionale toeriste Suid-Afrika in Oktober besoek. Dit is ’n toename van 10% teenoor dieselfde maand verlede jaar, sê die departement in ’n verklaring.

Gedurende die eerste 10 maande van vanjaar het reeds meer as 9,4 miljoen buitelandse toeriste die land besoek, ’n toename van 10,2% teenoor dieselfde tydperk verlede jaar. Met die tradisioneel besige somervakansieseisoen voor die deur lyk die vooruitsigte vir die toerismebedryf besonder gunstig.

Die minister van toerisme, Patricia de Lille, sê die volgehoue groei weerspieël die toenemende internasionale vraag na Suid-Afrika se uiteenlopende toerismeaanbod.

Volgens haar is die uitdaging nou om dié groei in groter beleggings, werksgeleenthede en ekonomiese voordele vir meer gemeenskappe regoor die land te omskep.

Hoewel die grootste gedeelte van Suid-Afrika se buitelandse toeriste van elders in Afrika afkomstig is, bly Europa ’n besonder belangrike bron van oorsese besoekers.

Brittanje het Amerika in Oktober as Suid-Afrika se grootste oorsese toerismemark verbygesteek. Altesaam 39 184 Britse toeriste het die land in Oktober besoek, gevolg deur 37 270 uit Duitsland en 29 583 uit Amerika.

Frankryk en Nederland tel onderskeidelik vierde en vyfde onder Suid-Afrika se grootste oorsese toerismemarkte.

Gedurende die eerste nege maande van vanjaar het reeds meer as ’n miljoen Europese toeriste Suid-Afrika besoek. Dit verteenwoordig ’n groei van 8,5% teenoor dieselfde tydperk verlede jaar.

Veral opvallend is die volgehoue groei in die aantal Nederlandse toeriste wat Suid-Afrika besoek, ondanks Nederland se betreklik klein bevolking in vergelyking met dié van lande soos Duitsland, Frankryk en Brittanje.

Altesaam 15 989 toeriste uit Nederland het Suid-Afrika in Oktober besoek, 3% meer as in Oktober verlede jaar.

Dit bring die totale aantal Nederlandse toeriste wat Suid-Afrika gedurende die eerste tien maande van 2026 besoek het, op 121 259 te staan, sowat 8,6% meer as gedurende dieselfde tydperk verlede jaar.

Verlede jaar het 140 338 Nederlandse toeriste hierheen gekom.

Die historiese, kultuur- en taalbande tussen Suid-Afrika en Nederland, die beskikbaarheid van direkte vlugte vanaf Amsterdam, en die betreklik gunstige wisselkoers vir Europese besoekers tel onder die faktore wat Suid-Afrika ’n aantreklike bestemming maak.

Daarby bied die Suid-Afrikaanse somer aan Europese toeriste die geleentheid om aan die koue en donker wintermaande in die Noordelike Halfrond te ontkom.

Suid-Afrikaanse Toerisme sal ook vroeg in Januarie aan ’n groot toerisme-uitstalling in Utrecht deelneem om die land verder onder Nederlandse reisigers en toeroperateurs te bemark.

Die positiewe toerismesyfers beteken egter nie dat Suid-Afrika se veiligheidsprobleme buitelandse toeriste onaangeraak laat nie.

De Lille het reeds in September erken dat berigte oor geweldsmisdaad dit moeiliker maak om Suid-Afrika in die buiteland as toerismebestemming te bemark.

Die regering en die private sektor werk saam om toeriste se veiligheid te verbeter. Dit sluit die identifisering van misdaadbrandpunte, die ontplooiing van toerismemonitors by gewilde bestemmings en die beskikbaarstelling van tegnologie waarmee toeriste in ’n noodsituasie hulp kan ontbied, in.

Die jongste syfers toon ook dat die groei nie in alle internasionale markte ewe sterk is nie. Hoewel die totale aantal buitelandse toeriste in Oktober met 10% toegeneem het, het die aantal oorsese toeriste met 0,9% afgeneem. Die sterk groei uit ander Afrikalande was grootliks verantwoordelik vir die algehele toename.

Suid-Afrika se jongste toerismesyfers volg kort nadat die land weer internasionale erkenning as toerismebestemming ontvang het.

Lesers van die internasionale reistydskrif Wanderlust het Suid-Afrika vanjaar aangewys as die begeerlikste bestemming ter wêreld vir natuur- en wildlewe-ervarings.

Van die Krugerwildtuin en die Kaapse wynlande tot die Tuinroete, die Karoo en die land se uitgestrekte kuslyn bied Suid-Afrika ’n verskeidenheid ervarings wat moeilik deur baie ander toerismebestemmings geëwenaar kan word.

Vir die Suid-Afrikaanse ekonomie, wat steeds onder hoë werkloosheid en trae ekonomiese groei gebuk gaan, is die groeiende toerismebedryf ’n welkome ligpunt.

Die uitdaging bly egter om die land se toerismepotensiaal ten volle te benut deur die probleme te bowe te kom wat verhinder dat nóg meer buitelanders Suid-Afrika besoek.

 

 

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top