LitNet-argief: Onderhoud ná die Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam 2016

  • 0

Die Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam 2016 is verby. Voor die fees is met Carina Claassens, die fees se hooforganiseerder, gesels.

Sy het in hierdie onderhoud die volgende gesê: 

2011 was die eerste keer wat ons so ’n grootskaalse Afrikaanse kultuurfees in Nederland georganiseer het; toe was dit nog by die pragtige Tropenmuseumteater in Amsterdam (dié bestaan nie meer nie, maar die Tropenmuseum is nog oop) en Festival voor het Afrikaans genoem. Dit was so ’n geweldige sukses dat ons dadelik geweet het dit is ’n fees wat gaan bly. Nie net het die opkoms alle verwagtinge oortref nie, maar die deelnemers – die bands, die sangers, die skrywers, die akteurs, die sprekers, die filmmakers – was deur die bank enorm entoesiasties en oortuig daarvan dat hierdie fees móét bly.

En die fees hét gebly, maar in ’n ander gedaante.

In hierdie onderhoud met Naomi Meyer neem Carina Claassens voorraadopname na afloop van vanjaar se Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam, en vertel van die fees se groei. 

Carina Claassens (foto: Imke van Heerden)

Hallo Carina, baie geluk - die getal besoekers aan die AKA het gestyg. Waar het julle as feesorganiseerders die grootste groei beleef?

Baie dankie! Dit was vir seker by die letterkunde items en in die Melkweg (een van die feeslokale). Die Sondag was bietjie stiller met die mooi weer, maar ook omdat die aanlyn kaartjieverkopeplatform aangedui het dat kaartjies uitverkoop is. 

Hoe is die musiekprogram in vergelyking met byvoorbeeld die skrywersprogram bygewoon?

Die Vrydagaand was uitverkoop en ook die Saterdagaand in die Melkweg. As ons dit vergelyk met die vorige feeste is die skrywersprogram baie beter bygewoon. Voorheen was daar baie min mense wat die letterkundige gedeeltes van die fees bygewoon het.

Was daar spesifieke items op die program wat meer aandag getrek het as ander, enige uitskieters?

Teater: Trippie, Afrikaans onder vuur (’n gesprek), die meertaligheidsdebat, André Brink-herdenking, filmmakersgesprek, Melkweg-optredes. Die Kaap-Maleise koor en Tribal Echo het ook baie goed gedoen en het baie goeie resensies ontvang.

Feesgangers: Grote Zaal, het Compagnietheater (foto: Imke van Heerden)

Hoe het die persentasie Nederlandse teenoor Suid-Afrikaanse besoekers met mekaar vergelyk?

Vir seker meer Nederlandse besoekers as by die vorige feeste.

Baie feesorganiseerders het hul dienste gratis aangebied. Van links: Aurelia Nell, Gerhardo Odendaal, Anika Smit, Bart Bouwman en Anies Phigeland (foto: Imke van Heerden)

Wie was al die lede van die organiseringskomitee?

Gideon van Eeden (film/teater), Annemarie van Niekerk (letterkunde), Johan de Villiers (lesings), Bart Bouman (FB/bemarking/kaartjieverkope/webwerf), Menno de Jong en Lisa de Jongh (bemarking), Michael Ricketts (Horeca, algemeen-organisatoriese span), Aurelia Nell (stalletjies, vrywilligers, beheer van die Bo-Kaap Kafee), Sarita Friguglietti (webwerf/ZA organisasie), Kirvan Fortuin (dans), Philip du Plessis (film),  Deon Maas/Wannie Karstens /Joris Cornelissen/Jorien Waanders/Simon Witbooi (adviesspan), Michael le Cordeur/Karen Meiring/Wannie Karstens (ambassadeur). 

Joris Cornelissen, wat die Festival voor het Afrikaans in 2013 georganiseer het, en Michael le Cordeur.

Is daar al enige planne vir ’n volgende fees?

Daar kom wel ’n volgende fees in 2018.

Buro: NM
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top