Die Menseregtekommissie is gevra om ondersoek in te stel na die swak behandeling van pasiënte in staats- en provinsiale hospitale en die haglike toestande wat by sommige van die hospitale heers.
Dit volg na verskeie klagtes oor die skokkende toestande en tekorte aan noodsaaklike middels by van die hospitale.
Uit een hospitaal in die Oos-Kaap, die Uitenhage-hospitaal, is nie minder nie as tien klagtes ontvang, sê die Vryheidsfront Plus. Klagtes stroom egter glo vanaf al nege die provinsies in.
By die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein het daar ook skokkende toestande aan die lig gekom. Die hospitaal ly volgens ’n ondersoek wat deur die DA by die hospitaal gedoen is, aan uiterse tekorte van verskeie noodsaaklike middels.
’n Onlangse besoek deur lede van die party het aan die lig gebring dat die Pelonomi-hospitaal tans 70% onderbeman is ondanks die begroting wat opsy gesit is om meer personeel aan te stel.
Daar is ook ’n aansienlike gebrek aan toegang tot werkende rekenaars, telefone en die internet. Geen nuwe bates is die afgelope vyf jaar aangekoop nie – die toerusting is verouderd of funksioneer nie.
Die DA se skaduminister van gesondheid, Michele Clarke, sê ’n nuwe intensiewesorgeenheid of teater is nooit gebou nie, ten spyte van begrotingstoewysings wat reeds 12 jaar gelede daarvoor goedgekeur is.
Nodige voorrade moet van ander hospitale verkry word en die hysbakke is al twee jaar stukkend.
Clarke sê in ’n verklaring die hartseer waarheid is dat baie ander hospitale in dieselfde toestand is en dat die ANC-gesondheidsamptenare niks doen om die werksomstandighede draagliker te maak vir dokters en verpleegsters nie, wat nog te sê vir die pasiënte wie se lewens op die spel is.
“Alle Suid-Afrikaners verdien kwaliteitgesondheidsorg, en die DA ondersteun universele gesondheidsorg in beginsel. Maar tensy die ANC-regering die huidige gesondheidsorgstelsel regmaak en in stand hou, sal die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) niks anders as ’n kontantkoei vir korrupte kaders wees nie.”
Clarke sê as die ANC werklik vir Suid-Afrikaners omgegee het, sou hulle nie die NGV-wetsontwerp wat die land se geldkoffers net verder sal verwoes, wil deurdwing nie.
Die VF Plus het ’n spesiale veldtog van stapel gestuur teen die swak behandeling van pasiënte in staats- en provinsiale hospitale.
Die party het reeds op 7 Julie vanjaar die Menseregtekommissie skriftelik versoek om ’n soortgelyke ondersoek te doen nadat daar die afgelope jaar in die media wyd berig is oor die wanorde waarin hierdie instellings verkeer.
Sedert die VF Plus op 14 Julie 2022 met die veldtog begin het, wat slegs op sosialemediaplatforms gedeel was, het klagtes ingestroom van regoor die land, sê die party se woordvoerder oor gesondheidsake, Philip van Staden.
Die VF Plus sê in ’n verklaring hulle gaan hierdie klagtes ook aan die Menseregtekommissie oorhandig nadat dit verwerk en getranskribeer is.
“Die tyd het aangebreek dat daar opgetree word teen die regering en die wanpraktyke wat in Suid-Afrikaanse staats- en provinsiale hospitale plaasvind. Die publiek het nou genoeg gehad van die wyse waarop pasiënte behandel word, het Van Staden gesê.
Die VF Plus het alle Suid-Afrikaners versoek om hul ervaringe in hierdie instellings (anoniem indien verkies) per stemnota te stuur aan 060 556 4347.
Volgens die DA kies die ANC om R30 miljoen aan “miljoenêrbestuurders” te bestee eerder as om hospitaaltoestande te verbeter.
Die party sê ten spyte van die ernstige bekommernisse wat deur die publiek en verskeie kenners geopper is, en die feit dat die NGV nog deur die parlement deurgevoer moet word, het die adjunk-direkteur-generaal vir die Departement van Gesondheid, Nicholas Crisp, onthul dat 44 poste reeds in Augustus vir die NGV-skema geadverteer word.
“Die regering het hierdie bedrog teen ’n koste van R30 miljoen goedgekeur en beplan om in 2023/24 meer hulpbronne toe te wys om ’n personeel van 120 mense te befonds,” sê Clarke.
Clarke sê ná 27 jaar aan bewind moet die ANC nog leer om na die mense te luister. “As die departement R30 miljoen het om te bestee aan salarisse vir ’n entiteit wat nog nie bestaan nie, hoekom het hy nie geld om bestaande openbare gesondheidsfasiliteite in stand te hou en te verbeter nie?” wil sy weet.