Ondersoek gevra na korrupsiebewerings in hoofregter se kantoor

  • 0

Bewerings van korrupsie in die uitreiking van IT-tenders deur amptenare in die kantoor van die hoofregter moet so gou moontlik ondersoek word.

So sê die DA se skaduminister van justisie en grondwetlike ontwikkeling, Glynnis Breytenbach, na aanlering van mediaberigte dat die kantoor van die hoofregter besig is om die tegnologie-ooreenkoms van R225 miljoen tussen Thomson Reuters en ’n subkontrakteur genaamd ZA Square te ondersoek.

Drie amptenare wat vroeër by die kantoor van die hoofregter gewerk het, word daarvan beskuldig dat hulle hulself bevoordeel het uit die IT-kontrak van R225 miljoen wat aan die multinasionale media- en tegnologiemaatskappy Thomson Reuters toegeken is.

Business Day berig die belangegroep Public Interest SA het ook aan die openbare beskermer geskryf en gevra dat daar ’n onafhanklike ondersoek gedoen moet word om vas  te stel of die voorskrifte vir die openbare verkryging van  tenders oortree is tydens die verkryging van IT-dienste deur die kantoor van die hoofregter.

Die kantoor van die hoofregter word ook op sosiale media gepeper met vrae oor die aantygings teen die voormalige werknemers wat na bewering gehelp het om die multimiljoenrand-IT-tender op te stel voordat hulle bedank het.

Die transaksie is volgens berigte in die media deurspek met onreëlmatighede.

Die kontrak is glo deur drie voormalige werknemers van die kantoor van die hoofregter onderhandel. Na bewering is hulle die voormalige finansiële hoof Casper Coetzee, woordvoerder Nathi Mncube, en sakebestuursdirekteur van die OCJ, Yvonne van Niekerk.

Die Sunday Times het die afgelope naweek berig dat die kontrak verband hou met die nasionale bekendstelling van die CaseLines-projek, ’n digitale elektroniese saakbestuur- en litigasiestelsel wat by die hooggeregshowe in Johannesburg en Pretoria geloods is om virtuele verhore in die howe toe te laat.

Die koerant het berig dat die drie voormalige werknemers gehelp het om die kontrak van ses jaar op te stel voordat hulle bedank het en hul laaste dag op 31 Mei gewerk het.

Daar is glo later ontdek dat hulle 30% van die aandele in ZA Square besit, ’n firma wat sowat R67,5 miljoen sou kry uit die kontrak wat hulle help opstel het. Die DA sê dit ruik na korrupsie, en dit moet so gou moontlik ondersoek word.

Breytenbach sê in ʼn verklaring die hoofregter se kantoor moet te alle tye onberispelik wees en as ’n model van skoon, korrupsievrye administrasie dien. “Dit is baie kommerwekkend dat die hoofregter se kantoor se reputasie en geloofwaardigheid in gevaar gestel word, veral op die vooraand van die vrystelling van die finale Zondo-verslag op Woensdag 15 Junie.”

Die DA het ’n beroep gedoen op die hoofregter se kantoor om hierdie transaksie vinnig te ondersoek en vas te stel of enige verkrygingsprosedures verontagsaam is en indien wel, waarom, en dan moet al die betrokke individue tot verantwoording geroep word.

Die kantoor van die hoofregter het Sondag in ’n verklaring gesê hy is besig om alle relevante inligting oor die saak in te samel en regsadvies in te win.

"Op die gepaste tyd sal die kantoor van die hoofregter die publiek oor die aangeleentheid inlig. Ons kan die publiek verseker dat die staatsfondse met betrekking tot hierdie aangeleentheid veilig is. In die lig hiervan sal die kantoor nie op hierdie stadium verdere kommentaar lewer of enige bykomende inligting in hierdie verband verskaf nie."

Thomson Reuters het aan die Sunday Times gesê die plaaslike maatskappy is die subkontrak op meriete toegeken en hy het geen kontak met die drie direkteure as deel van die bodproses nie.

Mncube, wat namens die drie voormalige werknemers gepraat het, het gesê daar is geen oortreding nie, omdat hul die kontrak op 1 Junie begin het en hul maatskappy geen inkomste verdien het totdat hul diens by die hoofregter se kantoor beëindig is nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top