Verskeie instansies het gevra vir ’n behoorlike ondersoek na die oorsaak van die ontploffing by die Rheinmetall Denel-wapenaanleg naby Somerset-Wes waarin minstens agt mense dood is.
Die bestuurshoof van die fabriek, Norbert Schulze, sê daar is nog geen aanduiding van wat die oorsaak van Maandag se ontploffing was nie. Schulze sê ’n indringende ondersoek word gedoen wat hopelik lig op die gebeure sal werp.
Die Suid-Afrikaanse vakbondfederasie Saftu sê hy is ontstoke oor die dood van die agt mense – ‘n hele skof werkers. Die hoofsekretaris van Saftu, Zwelinzima Vavi, sê dit is nie die eerste keer dat daar ‘n noodlottige ontploffing was nie, en hulle is ontevrede dat so iets weer kon gebeur by ’n instansie wat juis bedag moet wees op veiligheid met die vervaardiging van plofstof en ammunisie. Vavi sê ’n omvattende ondersoek moet nou plaasvind om te bepaal wat die oorsaak was.
Die krag van die ontploffing kon kilometers ver gevoel word. Die ontploffing het glo plaasgevind tydens die mengproses van dryfmiddels vir artillerieladings.
Verskeie inwoners van Somerset-Wes en die Strand se wonings is deur die ontploffing geruk. Vensters en deure is deur die slag geskud en in sommige gevalle het van die inwoners gesê dit het gevoel asof die deure uit die kosyne geruk word.
Die vakbond Cosatu het ook sy skok oor die voorval uitgespreek. Netwerk24 berig dat die organisasie geskok is omdat dit die tweede keer is dat mense hulle lewe op dieselfde plek verloor het. “Die kapitalistiese stelsel gaan voort om ons broers en susters dood te maak en te vermoor, sodat ’n klein groepie mense ’n wins kan maak,” het Cosatu volgens Netwerk24 gesê.
Een van Netwerk24 se lesers, Chris Joubert, wat jare gelede vir Somchem gewerk het, sê Cosatu is op dun ys met die stelling dat "die kapitalistiese stelsel voortgaan om ons broers en susters te vermoor". Hy sê hy hoop Rheinmetall neem hulle hof toe. “Hierdie aanleg het ’n baie beter veiligheidsrekord as die meeste soortgelyke aanlegte in kommunistiese lande – sover my kennis strek.”
Joubert sê Cosatu vergeet dat die aanleg onder die vorige bestel nie ’n privaatmaatskappy was nie. Dit is deur die ANC-regering en Denel (’n staatsinstansie) gekommersialiseer met privaataandeelhouding, en hulle kon waarskynlik nie ’n beter nywerheidsvennoot gekies het nie.
“Indien hierdie aanleg vandag in soortgelyke hande was as SAL, Eskom, ens sou hierdie tipe ongelukke baie meer algemeen voorkom,” is sy raaiskoot.
Hy meen die aandrang van verskeie politieke rolspelers, insluitend Cosatu, op ’n deeglike en dringende ondersoek na die oorsaak van die ontploffing en veiligheidsmaatreëls by die aanleg wys hulle onkunde oor die plofstofwet en prosesse wat geld wanneer enige ongeluk van dié aard gebeur.
Daar was nog geen amptelike verklaring van die owerhede oor wat die oorsaak van die ontploffing was nie. Daar is egter verskeie vrae oor hoe so ’n voorval by ’n nasionale sleutelpunt kon gebeur het.
Intussen het die waarnemende staatspresident, David Mabuza, sy medelye betuig met die naasbestaandes van die agt slagoffers. Mabuza het ook ’n dringende beroep gedoen dat ’n volledige ondersoek gedoen word.
Die ANC en DA het ook hulle medelye met die oorledenes se families uitgespreek. Maandag se ontploffing was so kragtig dat die hele gebou waar die ontploffing plaasgevind het, vernietig is. Die gebied waar die ontploffing plaasgevind het, is afgesper en as “onveilig” verklaar.
Die fabriek vervaardig swaarkaliberammunisie vir die weermag en privaatinstansies en word gesamentlik deur die Duitse Rheinmetall Defence en die Suid-Afrikaanse staatsbeheerde wapenvervaardiger Denel bedryf.
Buro: NB