Ondersoek vir staatskaping kry die groen lig

  • 0

Die moontlikheid dat Jacob Zuma weens beweerde misdade vervolg gaan word, word al hoe groter. Die skroewe om hom is besig om al hoe stywer te draai.

Die langverwagte opdrag dat staatskaping deur ’n regterlike kommissie ondersoek word, het gister (Donderdag) in die Staatskoerant verskyn. Zuma het geen ander keuse gehad as om die kommissie aan te stel nie, maar het tot gister gesloer voordat hy die opdrag uitgereik het.

Die kommissie sal onder voorsitterskap van adjunkhoofregter Raymond Zondo wees. Zondo het vroeër die week gesê almal wat by bewerings van staatskaping betrek word, sal ondersoek word, ondanks wie hy of sy is.

Die kommissie moet alle korrupsie in die staat ondersoek en sal op die beweerde korrupte verhouding tussen Zuma en die omstrede Gupta-familie fokus. Die ondersoek mag dalk die laaste spyker in Zuma se politieke doodskis wees.

Cyril Ramaphosa, wat Zuma verlede maand as president van die ANC opgevolg het, het dit reeds onomwonde gestel dat hy geen korrupsie sal duld nie. As daar enige bewyse van korrupsie teen Zuma gevind word, sal dit die einde van Zuma se presidentskap beteken.

Sy ampstermyn verstryk eers aanstaande jaar wanneer die kiesers vir die volgende algemene verkiesing na die stembus gaan. Dit is egter geen geheim dat Ramaphosa die leisels so gou as moontlik by Zuma wil oorneem nie en daar word reeds planne in die ANC beraam om Zuma se vertrek te bespoedig.

Zuma en sekere lede van sy kabinet se verbintenisse met die Guptas sal tydens die ondersoek onder die vergrootglas kom. Die kommissie van ondersoek se opdrag is van so ’n aard dat dit uitsluitlik sal fokus op die bewerings teen Zuma en lede van die kabinet met die Guptas. Die opdrag kan wel later uitgebrei word.

Ingevolge die opdrag aan die regter moet die kommissie onder meer ondersoek of die bewerings waar is dat die Gupts kabinetsposte aan sekere mense aangebied het en of Zuma enige rol daarin gespeel het soos wat beweer word.

Daar sal ook ondersoek ingestel word of Zuma, enige minister, adjunkminister of staatsamptenaar enige wette oortree het deur die toekenning of fasilitering van enige tenders aan die Guptas of enige individu of onderneming.

Die kommissie moet ook vasstel of daar enige onreëlmatighede, verryking, korrupsie of onbehoorlike invloed was by die toekenning van tenders of kontrakte, mynlisensies en staatsadvertensies in die New Age-koerant wat deur die Guptas gestig is

Die ondersoek spruit uit ’n verslag wat die vorige openbare beskermer, Thuli Madonsela, opgestel het. In haar verslag oor staatskaping wat in 2016 uitgereik is, het sy bevind dat die Guptas ’n onbehoorlike invloed op Zuma gehad het en inspraak gehad het in die aanstelling van ministers en ander sleutelpersone in die staatsdiens.

Madonsela het in haar verslag voorgestel dat die kommissie 180 dae gegun word om sy ondersoek te doen. Regter Zondo is bekommerd dat dit te min tyd is om die bewerings oor staaatskaping behoorlik te ondersoek.

Madonsela het destyds gevra dat die hoofregter, en nie Zuma nie, die voorsitter van die ondersoek aanstel, aangesien Zuma in haar verslag geïmpliseer word. Dit voorspel niks goed vir Zuma nie en is waarskynlik die rede waarom hy so lank as moontlik gesloer het om die kommissie se opdrag bekend te maak en te onderteken.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top