Ondertekening van NGV-wet lok landwye kritiek uit

  • 0

Die omstrede Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) wat vandag (Woensdag) deur president Cyril Ramaphosa onderteken word, hou ’n ernstige bedreiging vir beide openbare en private gesondheidsorgstelsels in en sal burgers met ondraaglike belasting belas.

Dit was die algemene gevoel van opposisiepartye en burgerlike organisasies wat die ondertekening van die wet ten sterkste veroordeel.

Die presidensie het Dinsdag aangekondig dat die wetsontwerp om 14h00 by die Uniegebou in Pretoria onderteken sal word tydens ’n openbare ondertekeningseremonie.

Verskeie partye en organisasies het egter aangedui dat hulle die wet met alles in hulle vermoë in die howe sal beveg.

Die groepering van Suid-Afrikaanse Gesondheidsberoepsverenigings (SAHPC) het ook hulle teleurstelling uitgespreek oor die ondertekening van die wetsontwerp en sê hulle insette is tydens die konsultasieproses geïgnoreer.

Die NGV is ’n gesondheidsfinansieringstelsel wat ontwerp is om fondse saam te voeg om toegang te bied tot gehalte- bekostigbare persoonlike gesondheidsdienste vir alle Suid-Afrikaners gebaseer op hul gesondheidsbehoeftes, ongeag hul sosio-ekonomiese status.

Die DA-leier, John Steenhuisen, sê deur die wetsontwerp te onderteken, sal Ramaphosa die doodsbevel vir gesondheidsorg onderteken. Hy het ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om te verenig om hoër belasting en die “NGV-ramp wat tot grootse korrupsie deur ANC-kaders sal lei”, te verwerp.

Steenhuisen sê in ’n verklaring dit is geen oordrywing om te sê dat Ramaphosa se aankondiging oor die ondertekening van die wet wydverspreide paniek onder die mense van Suid-Afrika ontlok het nie.

Hy sê binne enkele ure ná Ramaphosa se aankondiging is die DA oorval met navrae van paniekbevange burgers.

“Sommige van hulle het gevra of dit beteken dat hul siek familielede steeds die kritieke sorg sal ontvang om hulle aan die lewe te hou, of hul mediese fondse nou verval het en hoe hulle veronderstel is om die astronomiese belastingverhogings te bekostig wat Ramaphosa beplan om in te stel. Die omvang van die paniek wat ons in reaksie op hierdie aankondiging gesien het, is sonder presedent,” sê Steenhuisen.

Die vakbond Solidariteit het ’n beroep op mediese praktisyns gedoen om op groot skaal saam te staan in die geveg teen die wetsontwerp. Solidariteit se bestuurshoof, Dirk Hermann, het op X gesê die President het sy pen gevind en gaan die NGV teken.  “Hierdie geveg gaan Solidariteit se grootste geveg nóg wees. Ons doen ’n beroep op mediese praktisyns om ons op groot skaal te steun. Dis ’n saak om lewe en dood. SA staan saam!” het Hermann gesê.

Mense sal doodgaan, het die leier van Build One South Africa (Bosa), Mmusi Maimane, in sy reaksie op X gesê. Hy sê dit sal lei tot slegter gesondheidsorg vir almal en die ANC lieg vir Suid-Afrikaners. “Wat nog meer walglik is, is dat hulle vir ons ma's en oumas lieg.”

Mmaimane sê eerstens sal daar geen implementering van nasionale gesondheidsversekering vanjaar wees nie. Selfs al onderteken die President die wetsontwerp, beplan die regering om eers in 2026 daarmee te begin.

“Tweedens, en meer betekenisvol, is dat daar nie geld hiervoor is nie. Die kosteberaming deur die regering is R500 miljard per jaar vir NGV, maar die regering se eie begrotingsramings toon dat die tesourie beplan om R281 miljard in 2025 en R295 miljard in 2026 aan gesondheidsorg te bestee.”

“Geen grootouers sal dus bloot by Netcare of Mediclinic kan instap vir gratis behandeling nie. [Die regering] lieg en die media moet die feite kontroleer.”

Maimane sê onder die ANC-regering sal dit net lei tot ’n uittog van dokters en verpleegsters na Kanada en die VK en ’n vernietiging van die land se gesondheidsorgstelsel. “Politici sal na China, Rusland en Singapoer vlieg vir gesondheidsorg terwyl ons oorbly om te sterf.”

Die leier van ActionSA, Herman Mashaba, het ook sy stem gevoeg by die koor wat teen die wet gekant is en sy teleurstelling uitgespreek dat die President die wet onderteken.

Mashaba sê die NGV sal nie Suid-Afrika se gebroke gesondheidsorgstelsel regmaak nie. “In plaas daarvan sal dit ons gesondheidsorgkrisis vererger en deure oopmaak vir meer korrupsie.”

Volgens ActionSA is die wetsontwerp ondeurdag. Die party sê in ’n verklaring dit gee voor om bykomende gesondheidsorg tot openbare en private gesondheidsorg te lewer, maar skep ’n skuiwergat vir begrotingsonreëlmatighede wat korrupsie moontlik maak en gesondheidsorg nog verder in duie sal laat stort.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top