’n Nuwe rasseherrie het in Suid-Afrika uitgebreek nadat ’n foto op sosiale media versprei is waarin wit en swart skoolkinders in dieselfde klaskamer op die oog af apart van mekaar moes sit.
Die foto wat soos ’n veldbrand versprei het nadat dit op Twitter geplaas is, het daartoe gelei dat die onderwyseres van die Laerskool Schweizer-Reneke in wie se klas die voorval na bewering plaasgevind het, summier geskors is.
Beide eNCA en Open News het Donderdag berig dat ’n hoë-vlak afvaardiging van die departement van onderwys die skool besoek het en gevra het dat die onderwyseres tydelik geskors word.
Die LUR vir onderwys in Noordwes, Sello Lehari, het met belanghebbendes by die skool vergader waarna besluit is om die onderwyseres, Ellen Barkhuizen, te skors. Ondersteuners van talle politieke partye het Donderdag by die skool betoog en het dit as 'n jammerlike voorval van rassediskriminasie bestempel. Die skool het die leerders huis toe gestuur nadat ontevrede ouers by die skool begin betoog het.
Noordwes se premier, Job Mokgoro, het sy skok uitgespreek oor die foto’s op sosiale media wat oënskynlik dui op aparte sitplekke vir wit en swart leerlinge in die klas. Volgens ’n bron by die skool is die kinders egter nie geskei op grond van ras nie, maar op grond van taal (Afrikaans en Engels) en nie omdat van die kinders swart is nie.
Op die foto wat tot die herrie gelei het, kan gesien word hoe ongeveer vier swart kinders by ’n aparte tafel sit terwyl die res van die klas, wat almal wit is, by ’n ander tafel sit. Die foto van die graad R-klas is glo aanvanklik deur die onderwyseres op die skool se WhatsApp-groep gedeel waarna iemand dit op Twitter geplaas het. Die foto is daarna deur talle nuusagentskappe verder versprei.
Terwyl sommige van die kinders se ouers in hul noppies was omdat die onderwyseres hulle op hoogte hou van die dag se gebeure by die skool, was een van die swart ouers woedend toe sy sien haar kind moet saam met drie ander kinders by ’n aparte tafel sit en het dit op Twitter gedeel.
In reaksie op die foto het ander ouers foto’s op sosiale media geplaas van gemengde klasse waar die kinders saam aan tafel sit en gesê “diegene wat so te kere gaan oor rassisme moet tog sulke foto’s ook plaas”.
Times Live berig dat ouers van beide wit en swart leerders asook politieke partye se ondersteuners Donderdag voor die skool begin saamdrom het nadat die nuus van die beweerde rassevoorval onder die ouers versprei het.
’n Groep ouers van wit kinders het volgens Times Live met hulle voertuie oor die skool se heining gery om hulle kinders te gaan oplaai omdat hulle glo bang was vir die woedende betogers. Een van die wit ouers het volgens die koerant gesê: “As jy nie gelukkig is hier nie, vat jou kind na ’n ander skool, niemand dwing jou nie. Nou wil hulle maak of dit rassisme is. Almal wil van witmense rassiste maak. Ons is nie rassiste nie, ons wil net die beste vir ons kinders hê.”
’n Ander ouer het glo gesê dit is die enigste oorwegend wit skool in die dorp. “Daar is meer as tien skole in die township, as hulle nie gelukkig is hier nie kan hulle hul kinders daarheen stuur.”
Van die swart ouers sê egter hulle kla al vir langer as tien jaar oor rassisme in die skool. Een van die ouers sê hulle het al in 2008 by die betrokke skool protes aangeteken omdat dit ’n staatskool is en hulle wou hê dat die rasseskeiding by die skool moet endkry.
Buro: NB