Suid-Afrikaanse onderwysers draai op groot skaal stokkies en selfs skoolhoofde maak hulle daaraan skuldig. Die aantal onderwysers wat op ’n daaglikse basis nie by skole opdaag nie, het van 8 tot 10% die afgelope paar jaar toegeneem. Dit beteken sowat 41 000 onderwysers in die land daag op ’n daaglikse basies nie vir werk op nie.
Die minister van Onderwys, Angie Motshega, het die syfers die afgelope week in Pretoria bekendgemaak. Die syfers waarin die land se ongeveer 410 000 onderwysers se slegte “skoolbywoning” onder die loep kom, word vervat in die vorderingsverslag oor basiese onderwys.
’n Opsomming van die verslag kan hier gelees word.
Motshega sê die toedrag van sake is diep verontrustend. “Ons moet meer doen om ons onderwysers te ondersteun en daar moet dieper in die statistieke gedelf word om agter die kap van die byl te kom waarom so baie onderwysers nie vir werk opdaag nie,” het die minister gesê.
Hoewel sy sê die 10% stem ooreen met internasionale standaard, is sy steeds bekommerd daaroor. Die afwesigheidsyfer in die Noord-Kaap is die hoogste met sowat 13% van die provinsie se onderwysers wat elke dag stokkiesdraai. Limpopo se onderwysers het die beste bywoningsyfer met sowat 6% van die onderwysers wat nie vir werk opdaag nie gevolg deur die Vrystaat waar 7% van die onderwysers van die skool wegbly.
Skoolhoofde en die swak dissipline wat by skole gehandhaaf word is grootliks verantwoordelik vir die toedrag van sake. “’n Mens kan nie ’n skool doeltreffend bestuur as die skoolhoof self nie by die skool is nie,” het Motshekga gesê.
Volgens die minister het die onderwysdepartement ’n goeie verhouding met onderwysvakbonde en die skuld vir die talle onderwysers wat stokkiesdraai kan nie noodwendig voor die vakbonde se deur gelê word nie.
Sy sê daar was ’n tyd toe onderwysers die vakbonde se vergaderings gedurende skooltyd moes bywoon, maar dit gebeur nie meer nie en kan dus nie as verskoning aangevoer word waarom onderwysers van die skool wegbly nie.
Een van die knelpunte wat in die verslag uitgewys word is die opleiding van onderwysers. Volgens die verslag het onderwysers in 2017 sowat 42 uur per jaar aan opleiding bestee.
Dit is ’n verbetering op die 36 uur opleiding van onderwysers in 2011, maar volgens Motshekga is dit nie naastenby genoeg nie. Haar departement se doelwit vir 2024 is 80 uur per jaar per onderwyser.
Sowat die helfte van die skole se beheerliggame voldoen ook nie aan die minimum vereistes nie en ouers is nie betrokke genoeg by die onderrig van hulle kinders nie.
Motshekga sê dit is in belang van die kind se algehele sukses in die lewe dat daar groter ouerbetrokkenheid is by die opvoeding van hulle kinders.
Hoewel daar nog ernstige tekortkominge in die land se onderwysstelsel is, word daar ook vordering gemaak op sekere gebiede soos wat die opvoedkundige Stephen Taylor in onderstaande video op Twitter verduidelik. Hy sê daar moet veral aandag geskenk word aan die kwaliteit onderrig spesifiek in primêre skole.
[WATCH] @stephengstaylor gives overview of progress made in the education sector in terms of improving quality of learning outcomes since '94 #DBESchoolMonitoringSurvey @ElijahMhlanga pic.twitter.com/fuV0gsn27y
— Dep. Basic Education (@DBE_SA) April 8, 2019
Een van die groot nagmerries bly steeds die swak infrastruktuur by talle skole. Skaars ’n derde van die land se skole voldoen aan die minimumstandaarde vir infrastruktuur.
Nog meer kommerwekkend is die feit dat sowat ’n kwart van die skole geen lopende water het nie en 20% van die skole het nie werkende toiletgeriewe nie.
Die verslag wat die afgelope week uitgereik is, is geskoei nop ’n peiling wat in 2017 gedoen is onder 1 000 skole wat graad 6 aanbied en 1 000 skole wat graad 12 aanbied. Slegs gewone openbare skole was deel van die steekproef.
Buro: NB