Die Staatsrede (SONA – State of the Nation Address) is uitgestel. Die president van die land lewer gewoonlik elke jaar ’n Staatsrede tydens die parlementsopening vroeg in Februarie en sit die regering se agenda vir die komende jaar uiteen.
Na aanleiding van toenemende bewyse van ’n buitensporige hoeveelheid korrupsie in die regerende elite se geledere, met die President as sentrale figuur, het opposisiepartye onlangse Staatsredes in opstandige geleenthede laat ontaard. Suid-Afrikaanse burgers skakel nie meer in om na die President se onbeholpe, sukkelende toespraak oor die verwagte onbeholpe, sukkelende lewering van dienste te luister nie. Die belangstelling is eerder by die ontwrigting, die vuisgevegte en die gedwonge verwydering van LP's terwyl verbysterde lede van die diplomatieke korps, die regterlike mag en die burgery vanuit die galery toekyk, kopskuddend oor wat van Nelson Mandela se "never again"-land geword het.
As leier van die African National Congress (ANC) en president van die land het Jacob Zuma geweldige mag bekom deur patronaatskap, die aanstelling van sy handlangers in strategiese poste en deur dele van die intelligensiedienste te beheer. Daar het egter ’n snelle magsverskuiwing in die regerende party plaasgevind sedert Cyril Ramaphosa, die land en die party se adjunkpresident, in Desember 2017 verkies is om die ANC te lei (ten koste van Zuma se eksvrou, wat die ander kandidaat was).
Die uitstel van die Staatsrede is ongehoord in postapartheid Suid-Afrika. Dit is duidelik dat Zuma op pad uit is terwyl die nuwe ANC-leierskap hulle met die 2019–verkiesing bemoei, skielik hul stem gevind het oor die uitroei van korrupsie, en betrokke is by pogings om die President uit die kussings te lig. Zuma is die vergestalting van korrupsie: van die buitensporige besteding van belastinginkomste aan sy persoonlike woning tot die uitkontraktering van aanstellings in die kabinet en ondernemings in staatsbesit na ’n familie uit Indië, wat hulle in staat te stel om die staatskas onbeskaamd te verkrag terwyl Zuma se familielede en deelgenote die grootste begunstigdes van hierdie plundering is.
Agter die skerms is die regerende party besig om die vertrek van ’n hardkoppige president te bestuur – ’n individu wat opsetlik blind is vir sy tekortkominge en wat herhaaldelik bewys het dat hy minder oor die land omgee as oor sy eie party (en dit ook by verskeie geleenthede uitdruklik gesê het); die party ontdek nou ook – indien hulle dit nie voorheen geweet het nie – dat hul voormalige leier ook minder omgee vir die party en dié se welstand as vir sy persoonlike rykdom.
Daar is lagwekkende sprake deur die party se woordvoerders en leiers van reëlings vir ’n waardige vertrek van die President, oor hoe hulle nie sal toegee aan die opposisiepartye se voornemens om Zuma te verneder nie. Of die nuwe ANC-leierskap in staat is om verby die dekmantel van korrupsie en die verontagsaming van die Grondwet wat die afgelope agt jaar die oorhand gehad het, te beweeg, sal duidelik word wanneer ooreenkomste met die land- en partyverwoestende leier aangegaan word. Dit is belaglik om die woord "waardigheid" te gebruik met verwysing na Zuma, wat oor die land se rommelstatus toesig gehou het, die land se toekoms aan buitelandse struikrowers verpand het en die land se beeld en vermoë om beide in Afrika en internasionaal op te tree ernstig geskaad het, en daardeur die land op die internasionale verhoog verneder het.
Met verskeie aanklagte van korrupsie, uitbuiting en bedrog alreeds teen sy naam, en met sy duidelik verraderlike aksies wat tot verdere wetlike sanksies en langtermyngevangenisstraf kan lei, sal Zuma kwytskelding van vervolging in ruil vir sy uittrede as president wil eis. Indien dit toegestaan word (wat waarskynlik aan wetlike uitdagings onderwerp sal word), sal dit bevestig dat die ANC as party die Grondwet verontagsaam ten gunste van sy eie, sy leiers as verhewe bo die reg beskou en een persoon toelaat om beide die party en die land as gyselaar aan te hou ter wille van belange wat niks met die welstand van die meerderheid mense te doen het nie.
Die uitstel van die Staatsrede is ’n metafoor vir waar ons as land ons bevind. Ons is ’n land wat wag. Ons hoop en die drome van 1994 is uitgestel. Wéér.
Ons sou nooit kon gedink of geglo het dat ons so vinnig sou insink in die modderpoel van skaamtelose plundering, die vertrapping van edele ideale wat die lewens en lewensverwagting van die land se burgers sou verbeter, en die verontagsaming van ’n Grondwet waarmee die politici as die mees progressiewe ter wêreld spog nie; dit alles terwyl hulle hulle in die mees reaksionêre aktiwiteite begewe – soos om vrouemishandelaars na hoë posisies te bevorder, beskerming te bied aan individue wat verantwoordelik is vir moord op hokaairoepers en korrupsiebestryders, en regterlike gesag wat die Grondwet moet handhaaf te midde van omkoopbare en selfsugtige elite af te ransel.
Hoe lank ons nog gaan wag, hang egter van ons af. Ons raak ongeduldig met politici wat nie vinnig genoeg daad by die woord voeg nie. Ons is gekoöpteer in ’n stelsel met vyfjaarlikse verkiesings in die geloof dat dit die uiterste uitdrukking van demokrasie is. En so wag ons vir ons kans om die regerende party by die volgende verkiesing te straf. Intussen swaai die korruptes en die onderduimses die septer, en regeer die verraderlike misdadigers oor ons.
Dit is ons almal se skuld dat ons vir so lank ’n korrupte president geduld het. In ander lande het doodgewone burgers korrupte, magsbehepte presidente uitgedryf deur openbare gebiede in groot getalle te beset en internasionale aandag te vestig op hulle en hul eenvoudige versoek: om ’n president wat ’n korrupte en selfsugtige elite-regering bestuur, uit die kussings te lig. Van Egipte tot die Oekraïne, Suid-Korea en Burkina Faso het die burgers gesê: "Genoeg! Nie verder nie!" Magtige, langdienspresidente is al deur burgerlike mag tot ’n val gebring.
Met die onafwendbare verval van Zuma en die opkoms van Ramaphosa loop ons as burgers die gevaar om weer eens ons vertroue in politici te stel eerder as in ons eie mag, agentskap en vermoë om verandering teweeg te bring.
- Vertaal deur Liné Enslin