Ons wag op die virus. Maar waarvoor presies? Dat hy sy ding doen? Of sy haar ding doen?
Dis die eerste ding omtrent die virus. Is dit manlik of vroulik? Virus kom van die Latyns vir, vir man. Wat moet ons hiervan maak? Is vxrus ’n oplossing? Wragtig, dis ’n wrede “wiksrus” hierdie … Dit klink ’n bietjie pervers, soos sadomasochisme vir oumense. En dit verloor ’n lekker kollokwiale klank, want wie kan rus as die virus haarself nie wil blus?
Vxrus sê wel iets van “wreeksrus”. Miskien is sy die nydige virus wat wraak soek – nydig, omdat sy dit toe nie kon maak nie. Nooit verder as ’n DNS behaal op die evolusionêre leer nie. Hell hath no fury like a vxrus scorned?
Wat ook al, ons wag op die virus. Die staat van inperking neem ons teen ’n ontsaglike onkoste uit die ekonomiese siklus en sit ons terug in die natuur. Want die natuur as ekologie is eintlik ’n staat van wag. Die trapsuutjies wag, om te besluit of sy nog verder moet wag. As sy haar kom kry, blits sy ’n wagtende vlieg, en dan volg nog ’n lang periode van besluiteloosheid.
.....
“Ons kan nie wag op die virus nie – nie lank meer nie. Ons kan nie wag op die prosesse van die natuur om af te loop nie. Ons menslike bewussyn, waarin ons siele gesetel is, het ons genadiglik afgeskerm van te diepe kennis van wat in ons liggame aangaan. Ons kan ons ook nie laat verlei deur die produkte wat ons oorlewer aan dooie tyd nie. Wat sal ons doen?”
.....
Oorwintering is nie ’n voorbeeld van wag vir die beer nie. ’n Mens wag nie as jy slaap nie. Maar dis wel die hele ekologiese stelsel rondom die beer wat wag vir Gaia om haar elliptiese gang om die son te voltooi. Dan kan alles weer ontdooi en triljoene gene hul verborge opdragte uitvoer, gene waarin ’n kapasiteit vir wag aksiomaties is.
Die spinnekop wag. Die Nepenthes lowii, of Low se bekerplant, wag vir insekte om in haar boep te val, so nie is sy tevrede met die skeerbekmuis se drolletjies. Die hiënas wag vir die leeus. Die uil wag vir die nag.
Die mens het natuurlik hierdie hele proses omver gewerp en dit ekonomie gemaak. Soggens wag ons nie meer vir die sonnetjie om te begin bak nie, ons wag op ons eerste afspraak, lesings, kliënte, klante, op die robot om verdomp groen te slaan. Ons het die tydruimte self verander, so slim dat ons selfs Einstein se relatiwiteitsleer toepas om ons GPS se satelliete korrek te laat werk. As jy weer betyds is vir ’n afspraak op ’n vreemde plek, moet jy sê: “Dank Vader Einstein.”
Maar die moderne tye se gewag tussen afsprake is ver van natuurlik af: Dis dooie tyd, ons het dit vermoor. Tot voor die era van sosiale media, inbelsentrums en internetdienste was die ewige gewag in toue die mens se kruis, want dit het soveel dooie tyd behels. Dis dan dat jy ou uitgawes van Time by die dokter gelees het.
In die koninkryk
van dooie tyd
Kan almal kyk
Hoe alles verslyt ...
Wegkruipertjie is eintlik ’n wagspeletjie – soms tree dooie tyd in wanneer jou maatjies van jou vergeet en iets anders begin speel. Vervelige sportsoorte soos krieket en bofbal kon werk omdat mense so gewoond was aan dooie tyd. Die kolwer se roep aan sy kolfmaat is nie “stop” nie, al is dit wat sy hand sein, dis “wag”, dis een van die sleutelbegrippe van die Britse Empire. Maar in die nuwe ekonomie van dooie tyd kan mense nie meer wag vir ellelange sportwedstryde nie. Eers het krieket eendagwedstryde ontwerp, wat “lopies” weer “runs” gemaak het en Jonty Rhodes wat Inzamam ul Haq uithardloop, en toe Twintig20. Die rugbybase krap elke jaar kop om meer dooie tyd uit die spel te kry.
Tyd is al lankal geld, maar nou tel elke nanosekonde tot in die kleinste stukkies munte, en soos Cockney-sleng dit stel, geld is skrapnel. Soos goudmynmaatskappye wat mynhope herontgin vir uraan, het die kapitaliste van sigbewaking beslag gelê op al die dooie tyd wat ons nie meer wil hê nie. Hulle doen outopsietjies op die karkas en oorweldig ons met produkte wat teer op dooie tyd. Ons kan nie genoeg daarvan kry nie.
… tot nietigheid
Altyd te vroeg,
Dog, vir spyt
En nooit genoeg.
Terwyl ons op die virus wag, is daar ritse aanbiedings om die dooie tyd om te kry, dikwels rolprente met clichétonele van mense wat in doodsangs wag vir die gevaar om die hoek: Tom Cruise vir die tentakels van die invallers uit die ruimte in The war of the worlds; Sigourney Weaver vir die tandewerk van die monster in Alien. Ons wag op die virus om haar uit te woed voor ons weer normaal kan word. Daarna gaan die wêreld verander, word ons belowe. Ons wag dus op ’n nuwe wêreld.
Is die wraaksug van die transgender virus dan eintlik vooruitgang, ’n nuwe trappie in ons eie sosiale evolusie? Of gaan wag-vir-die-virus die nuwe normaal word? Die woord wag kom, net soos die Engels wait, van die Frankies en Oudhoogduits vir wagstaan. Dit is moontlik dat ons regeerders ons in ’n staat van inperking geplaas het om die wêreld in een van permanente wagstaan te verander, met nog meer dooie tyd vir die kapitaliste om te ontgin. Met die helm van die outydse wag vervang met die wit gesigmasker.
In dooie tyd
Is daar geen
Teken wat heen
Wys na respyt.
Maar moet ons ons hieraan onderwerp? Of is dit wat die mens onderskei van ander diere (met verskoning aan Albert Camus, skrywer van Die pes), dat ons ons waardes ontdek wanneer ons in opstand kom? Ons strate in Suid-Afrika is reeds oorgeneem deur die wagte van die weermag en die polisie. Hulle werk is hoofsaaklik om mense wat reeds in krotte en oorvol huurkamers op beter dae wag, te beveel om daar te bly wag vir slegter dae – mense wat nie die duur internetfooie kan bekostig wat hul toegang tot die ekonomie van dooie tyd gee nie.
En as eendag
Alles verslete
Is en alles wag
Op die geweteVan die koninkryk
Van dooie tyd
Om uit te reik
In gebare van spytSal alles verbleik
En aan die verre
Einder sal niks wyk
Onder die sterreVan die koninkryk
Van dooie tyd.
Ons kan nie wag op die virus nie – nie lank meer nie. Ons kan nie wag op die prosesse van die natuur om af te loop nie. Ons menslike bewussyn, waarin ons siele gesetel is, het ons genadiglik afgeskerm van te diepe kennis van wat in ons liggame aangaan. Ons kan ons ook nie laat verlei deur die produkte wat ons oorlewer aan dooie tyd nie. Wat sal ons doen?
Dank Vader Einstein ons het nog ’n paar dae om aan oplossings te dink.
Buro: MvH