Onteiening straks die verskil tussen bloeddruk wat styg en bloed wat vloei?

  • 0

Grondonteiening en die emosies wat dit losmaak by Suid-Afrikaners, oor die kleurgrens heen, bly in die nuus.

Die afgelope week is onder meer gekenmerk deur twee uitsprake waartoe dié verdelende kwessie regstreeks of onregstreeks aanleiding gegee het: die een deur ’n wit leier van ’n burgerlike organisasie; die ander deur ’n swart kommentator.

Eers was dit (wit) Kallie Kriel van AfriForum wat die nuus gehaal het toe hy in ’n radio-onderhoud gesê het hy dink nie apartheid was ’n misdaad teen die mensdom nie. Dis ’n standpunt wat hy deels baseer op ’n vergelyking van hoeveel mense weens apartheid gesterf het teenoor die miljoene mense wat onder kommunisme aan hul einde gekom het.

Kallie Kriel (Foto: Eduandup [CC BY-SA 4.0], via Wikimedia Commons)

Nee, wag nou, keer die aanbieder, die vraag handel oor apartheid, nie oor kommunisme nie. Hy herhaal die vraag om dubbel seker te maak dat hy sy gas se antwoord reg gehoor het: “So jy dink nie apartheid was ’n misdaad teen die mensdom nie?” Kriel antwoord: “Ek stem nie saam dat dit ’n misdaad teen die mensdom was nie, maar ek dink dit was verkeerd.”

Die mediadekking wat volg oor dié stelling tydens ’n bespreking oor AfriForum se Amerikaanse besoek om onder meer rolspelers bewus te maak van die ANC-regering se planne om grond sonder vergoeding te begin onteien, laat die laaste deel van sy antwoord weg.

Wie agterna oor die radiobespreking twiet, berig en kommentaar lewer, lê net klem op die feit dat Kriel nie saamstem met die verklaring – deur tot die Verenigde Nasies – van apartheid as ’n misdaad teen die mensdom nie. Wat in die proses verlore gaan, is die bykomende stelling deur hom dat hy wel dink apartheid was “verkeerd, want dit het op mense se waardigheid inbreuk gemaak”.

Die koeël was deur die kerk. Gedane sake. Die koerantplakkate basuin dit uit: “Apartheid nie misdaad – AfriForum”.

Enkele dae daarna is Kriel deel van ’n ander paneelbespreking, óók oor die grondkwessie, by die jaarlikse Nampo Oesdag. Hierdie keer is dit nie ’n stelling deur hom nie, maar deur die (swart) kommentator Moeletsi Mbeki, broer van oudpres Thabo Mbeki, wat vir invalshoeke vir nuusberigte sorg.

Moeletsi Mbeki (Foto: YouTube)

Die ANC se “propaganda” oor grondonteiening, deel hy sy gehoor mee, het in werklikheid niks met grond te make nie. Eintlik gaan dit maar net oor die ANC se bekommernis dat die party, wat reeds sedert 1994 die land regeer, volgende jaar se verkiesing mag verloor.

“Hulle dink hulle kan die kiesers wat die ANC die rug toekeer, teruglok deur die wit bevolking aan te val,” sê hy aan ’n kopknikkende, oorwegend wit gehoor en aan joernaliste wat verbete op skootrekenaars sit en tik, en twiet. Mbeki herhaal: “Hulle gebruik dit as ’n vermommingstaktiek om die wit bevolking aan te val.”

Eweneens, soos met Kriel se uitlating, was die gort ook hieroor gaar. Mbeki, wat die seun is van een van Nelson Mandela se mede-aangehoudenes op Robbeneiland, is deur onder andere die Economic Freedom Fighters (EFF) gekritiseer. Hierdie (radikale) party van Julius Malema stel nie eens belang in onderhandeling oor die grondkwessie nie; grond moet, wat hulle aanbetref, sonder meer afgevát word.

’n Meer gematigde (bruin) stem het egter ook sy ongelukkigheid met Mbeki se uitspraak te kenne gegee: Christo van der Rheede, wat sowel Mbeki as die EFF van politieke opportunisme beskuldig het. Die herverdeling van grond, voer hy uit die gehoor aan, vereis nugter denke en nugter optrede wat nie verdere verdeeldheid sal aanblaas nie, maar wat ’n historiese ongeregtigheid sal help regstel.

Christo van der Rheede (Foto: YouTube)

Van der Rheede, wat beide AgriSA en die nasionale landboubedryf se opvoeding-en-opleiding-agentskap AgriSETA verteenwoordig, se inset kan as volg opgesom word: dat hy ’n pleidooi lewer dat gesprekke moet fokus op hóé die herverdeling moet plaasvind eerder as om (nou nog) die meriete van die aandrang op herverdeling te bevraagteken of die behoefte daaraan te debatteer.

Indien dié laasgenoemde hantering van hierdie kritieke nasionale vraagstuk nie as ’n doelbewuste vertragingstaktiek deur die teenstanders daarvan gebruik word nie, sou ’n mens kon byvoeg, dan is dit straks ook maar (om Mbeki se woord te gebruik) ’n “vermommingstaktiek” om die status quo te behou wat grondbesit betref.

Kriel van AfriForum het wel ook sy stem by die Nampo-geleentheid laat hoor: “Jy tree teen die belange van die land op as jy sê ons wil onteiening sonder vergoeding bevorder,” het hy gesê. Om na ’n ander land op ’n bewusmakingsreis te gaan ten einde te keer dat Suid-Afrika in byvoorbeeld ’n Zimbabwe ontaard, soos AfriForum se onlangse besoek aan Amerika, is derhalwe ’n “daad van patriotisme”, glo hulle.

“Natuurlik sal daar mense wees wie se bloeddruk styg oor ons dit gedoen het, maar laat dit maar so wees,” het Kriel byna leedvermakerig gesê. “Dis in die beste belang van die mense.”

“Die mense”: hierdie frase word meermale in Suid-Afrika gebruik om na die arm, grondlose swart meerderheid te verwys eerder as na die oorwegend wit Afrikanergroepering wat Kriel verteenwoordig, oftewel die “market-dominant minorities” waarna Amy Chua in haar nuwe boek, Political tribes – group instinct and the fate of nations, verwys. Dié ekonomies-dominerende minderhede, skryf Chua, sluit onder andere wittes in Suid-Afrika, Zimbabwe en Namibië in.

“If, as was true of whites in South Africa, a minority uses brutal force and the powers of the state to relegate the majority to inferior education and inhuman conditions for more than a century,” skryf sy, “that minority is likely to be market dominant for reasons having nothing to do with superior entrepreneurialism.”

Kriel se kritici moet hom dus nie net aanmoedig om sy ontkenning van apartheid as ’n misdaad teen die mensdom te verduidelik, soos wat tans die geval is, nie. Ons moet hom ook wys op die “inhuman conditions” en “brutal force” en “powers of the state” uit Chua se boek – en die mate waartoe dit gedurende apartheid bygedra het tot die “inbreuk op [slagoffers] se [mens]waardigheid”, wat deel uitmaak van sy eie veelbesproke antwoord oor apartheid op die radio-aanbieder se vraag.

Grondonteiening sonder vergoeding was tóé ’n bepalende deel van die mensontering; omgekeerd is grondonteiening sonder vergoeding vir baie die laaste hoop op die herstel van hul menswaardigheid – en om ’n Zimbabwe-situasie te voorkom. Dit kan straks die verskil wees (om nog ’n Kriel-verwysing aan te haal) tussen bloeddruk wat styg en bloed wat vloei.

Buro: MvH
  • 0
Top