Onwettige grondbesettings is ’n krisis in Suid-Afrika

  • 0

Foto verskaf deur die DA

Die kwessie van georkestreerde en onwettige grondgrype het ’n krisis regoor Suid-Afrika geword. Dit plaas geweldige finansiële laste op alle groot metropolitaanse munisipaliteite en duisende private grond- en eiendomseienaars.

So sê die DA se skaduminister van menslike nedersettings, Emma Louise Powell, na aanleiding van die toenemende onwettige grondbesettings op verskeie plekke in die land.

Terwyl grondbesettings al vir baie jare ’n probleem was, het die krisis sedert die begin van die COVID-19-inperking volgens Powell aansienlik versnel. ’n Geraamde R2,5 miljard se eiendom het sedert die inperkings in Kaapstad alleen verlore gegaan as gevolg daarvan.

In die afgelope twee jaar het die Stad Kaapstad op meer as 14 500 grondbesettings gereageer en byna 180 000 strukture is verwyder. In die gewelddadige betogings wat op hierdie operasies gevolg het, is 80 beamptes beseer en meer as 94 voertuie vernietig.

Die DA het verlede week ’n toesigbesoek aan Distrik Ses gedoen om die omvang van die mees onlangse onwettige grondbesetting by hierdie historiese terrein waar te neem.

Powell was vergesel deur die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelede vir veiligheid en sekuriteit, Jean-Pierre Smith, en menslike nedersettings, Malusi Booi. Hulle sê onwettige grondbesettings het regdeur die land ’n krisis geword.

Om die omvang van die krisis te illustreer, wys die DA daarop dat die Wes-Kaapse Departement van Infrastruktuur verlede jaar meer as R162,2 miljoen bestee het aan sekuriteit wat grondbesettings probeer voorkom. In Kaapstad alleen is R142,8 miljoen aan sekuriteit bestee.

Vir die 2020/21-boekjaar het die Wes-Kaapse Departement van Menslike Nedersettings meer as R355,8 miljoen bestee om onwettige grondbesettings en die onwettige besetting van voltooide eenhede te voorkom.

Na slegs een maand in die huidige boekjaar (2022/23) het die departement reeds R12 306 350 bestee.

Terwyl die Stad Kaapstad se Departement van Menslike Nedersettings meer as 97% van sy begroting gedurende die 2021/22-boekjaar bestee het, is die vinnige lewering van behuising ernstig belemmer deur die omvang van onwettige besettings, sê Powell.

Die stad het nou meer as 800 informele nedersettings, waarvan baie steeds basiese dienste benodig wat voorsien moet word uit toelaes wat deur die nasionale Departement van Menslike Nedersettings geadministreer word.

Ten spyte van meer as 350 000 inwoners op die Stad Kaapstad se databasis wat wag, is meer as 20 000 begunstigdes van hul regmatige behuisingsgeleentheid ontneem as gevolg van grondbesettings.

Die DA sê in ’n verklaring weens die afwesigheid van enige aksie deur die ANC om die krisis van onwettige grondgrype aan te spreek, het hulle nou ’n privateledewysigingswetsontwerp by die parlement ingedien.

“Tensy die wetgewing wat tans onwettige grondbesetters beskerm, uitgedaag word, sal die situasie aanhou vererger,” sê Powell.

Die wetgewing wat die DA met die wysigingswetsontwerp wil deurvoer se doel is in die eerste plek om strafmaatreëls te skep vir diegene wat georkestreerde en onwettige besettings aanhits of bevorder.

Dit sit ook eksplisiete kriteria uiteen waaraan voldoen moet word tydens hofverrigtinge voordat ’n munisipaliteit beveel kan word om alternatiewe verblyf aan onwettige bewoners te verskaf.

Volgens die voorgestelde wetgewing moet die howe toegelaat word om die tydsduur te beperk wat bepaal dat alternatiewe verblyf vir ’n onwettige okkupeerder verskaf moet word. Die howe moet ook verplig word om die redes vir die onwettige besettings te ondersoek, asook die onderhoudsverpligtinge van die okkupeerder se familie wanneer vonnis oorweeg word. Daar moet volgens die voorgestelde wet ook ’n eksplisiete definisie wees van wat ’n “huis” behels.

Die DA sê hulle was nog altyd aan die voorpunt van die beskerming van eiendomseienaars se regte, terwyl die party ook wil verseker dat die armstes en kwesbaarstes in die samelewing deur die staat versorg word binne sy beskikbare hulpbronne.

Hulle het gevra dat die publiek hulle steun vir die wetsontwerp uitspreek deur hul plaaslike radiostasies te bel, hul plaaslike LP’s te skakel, inligting oor die wetsontwerp op sosiale media te deel en kommentaar by legislation@da.org.za in te dien.

Afskrifte van die konsepwetsontwerp kan op die DA se webwerf gevind word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top