Onwettige stakers dwing Eskom op sy knieë

  • 0

Eskom se sogenaamde beurtkrag is besig om af te stuur op ’n algehele ineenstorting van die kragvoorsieningsnetwerk as gevolg van onwettige stakings wat die land se elektrisiteitsvoorsiening heeltemal kan verlam.

Suid-Afrikaners is Dinsdag gewaarsku om voor te berei vir fase 6-beurtkrag wat sal beteken dat mense tot ses uur lank op een dag sonder krag kan wees.

Eskom het tydens ’n noodinligtingsessie aan die media gesê die reeds beperkte elektrisiteitstelsel word op sy knieë gebring deur onwettige en onbeskermde nywerheidsoptrede by verskeie kragstasies.

Bedryfsplanne is reeds gemaak vir beurtkrag tot en met fase 8 as ’n gebeurlikheidsmaatreël sou dit nodig word om ’n nasionale verduistering te voorkom wanneer die vraag die aanbod oorskry, as die netwerk heeltemal in duie stort.

Die DA het in hulle reaksie gesê president Cyril Ramaphosa se kabinet moet volle verantwoordelikheid dra vir die ontvouende krisis.

Die DA sê in ’n verklaring dit is nou 48 dae sedert die DA aan die kabinet geskryf het om te vra dat hulle dit oorweeg om ’n ramptoestand oor Eskom en die elektrisiteitsektor af te kondig.

“Maar soos dikwels die geval is met hierdie lustelose kabinet, het hulle gekies om hul koppe in die sand te steek en nou is die land op die afgrond van ’n nasionale netwerksluiting.”

Die DA se skaduminister van openbare ondernemings, Ghaleb Cachalia, sê dit is eenvoudig verstommend dat die ANC-regering en energieregulerende liggame te midde van ’n nasionale noodgeval in die elektrisiteitsektor ’n lustelose en “besigheid soos gewoonlik”-benadering aangeneem het wat hul gebrek aan dringendheid verraai om blywende oplossings vir die krisis te vind.

Cachalia sê ten spyte van die DA se plan het die ANC-regering versuim om op te tree en staar die land nou ’n algehele ineenstorting van die netwerk in die gesig, waarvan die gevolge verdoemend sal wees op die land se ekonomie, veiligheid, beleggingsklimaat en sosio-ekonomiese orde.

Tydens fase 6 sal baie nywerhede en myne reeds om veiligheidsredes heeltemal moet sluit. Trouens, fase 6 kan reeds ’n stadium 8 wees. Na stadium 8 begin die kragstelsel wankel (elektries gesproke). Dit is soos om ’n fiets te ry – hoe stadiger jy ry, hoe meer onstabiel word dit.

Eskom het Sondag aangekondig dat onregmatige nywerheidsoptrede by verskeie Eskom-kragstasies beplande instandhouding en herstelwerk beïnvloed. By sommige stasies het die volle groep werkers nie vir diens aangemeld nie. Gevolglik is daar toe besluit om fase 4-beurtkrag te implementeer.

In elke stadium van beurtkrag rantsoeneer Eskom die land met ’n verdere 1 000 MW krag, die ekwivalent van 1 000 000 kilowatt. ’n Mikrogolfoond of ketel gebruik ongeveer 1 kilowatt, dus is een manier om aan die stadiums te dink dat Eskom tydens elke eskalasie ’n miljoen ketels afskakel.

In fase 1 word Suid-Afrika as ’n geheel gedwing om 1 000 MW, of ’n miljoen ketels, te bespaar, wat – afhangend van die keuses van plaaslike regerings – óf kort onderbrekings vir individuele elektrisiteitsgebruikers óf onderbrekings in slegs klein dele van stede beteken.

Business Insider SA verduidelik dat die nasionale netwerk tydens fase 2 altesaam 2 000 MW kort is aan krag, of twee miljoen ketels. Tydens stadium 3 bereik rantsoenering 3 000 MW, ens.

Teen fase 4 is die tekort gelykstaande aan byna die volle geïnstalleerde opwekkingsvermoë van die reusagtige Medupi-kragstasie – wat nou na raming R18 miljard sal kos om te voltooi.

By fase 5 kan Eskom nie eers soveel elektrisiteit verskaf as wat die land van die reusagtige Inga 3-waterkragprojek in die Demokratiese Republiek van die Kongo aankoop nie en by fase 6 is die rantsoenering die ekwivalent van alle die krag wat Ethiopië hoop om op te wek deur die Blou Nyl te benut.

Fase 7 gooi soveel elektrisiteit af wat al Suid-Afrika se 47 onafhanklike produsente van hernubare energie produseer.

By fase 8, skat Eskom, sal die gemiddelde Suid-Afrikaner vir 50% van die tyd van krag voorsien word, met verbindings wat vir 12 uur uit elke 24 afgeskakel is.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top