Ook Ramaphosa moet weet: leiers moet hul woorde tel en weeg

  • 0

Cyril Ramaphosa het verlede week vir die eerste keer as Suid-Afrika se (steeds betreklik nuwe) staatshoof die algemene vergadering van die VN in New York toegespreek.

Dit was nie asof die wêreld se leiers nog nie van hom kennis geneem het nie – sy “magsoorname” as ANC-leier wat gelei het tot die bedanking van sy moreel-bedenklike voorganger, Jacob Zuma, het groot opspraak verwek.

Terwyl hy in die VSA was, het hy ook by ’n paar ander geleenthede opgetree. Hieronder tel die onthulling van ’n standbeeld van Nelson Mandela by die VN se hoofkwartier, die Mandela 100-vredesberaad en die Bloomberg Global Business Forum. Sakeleiers het by laasgenoemde geleentheid aan sy lippe gehang – en hy is onder meer gevra oor die kwessie wat onlangs deur ’n twiet van die VSA se Donald Trump aangeraak is.

In hierdie twiet het die wêreld se magtigste leier sy reputasie gestand gedoen as iemand wat van die heup af skiet, dikwels leuens of halwe waarhede as die heilige waarheid voorhou en die konserwatiewe, indien regse, nuuskanaal Fox News as sy nommer 1-bron van inligting gebruik.

Die twiet van 23 Augustus was ’n aankondiging deur Trump dat hy sy minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, opdrag gegee het om ondersoek in te stel na die “uitwissing” van wit boere en onbeheerste “grondgrype” wat tans in Suid-Afrika sou plaasvind. Hier was sy bron ’n “eksklusiewe” berig op Fox na aanleiding van die burgerregte-organisasie AfriForum se besoek aan Amerika en die boek Kill the Boer deur een van sy topleiers, Ernst Roets.

Foto's van Trump, Ramaphosa en die algemene vergadering van die VN (YouTube)

Nadat die Suid-Afrikaanse regering reeds uit die staanspoor dié wanopvatting beveg het, sou New York die plek wees waar die feite deur ons minister van buitelandse sake, Lindiwe Sisulu, gestel sou word. Nóg Pompeo nóg Trump self het in elk geval sedert die twiet weer oor die saak gepraat – daarvoor het die VSA-president te veel ander bekommernisse, soos om sy kandidaat vir die hooggeregshof, Brett Kavanaugh, te midde van seksaantygings verkies te kry.

Ramaphosa se reaksie het egter opspraak verwek toe hy sy Bloomberg-gehoor meedeel dat Trump se twiet “oningelig” was: “Whoever gave him that information was completely wrong,” het hy gesê. En toe die volgende bygevoeg: “There are no killings of … white farmers in South Africa. There's no land grab in South Africa.”

Feitelik is hy reg dat geen bewyse bestaan dat plaasaanvalle die resultaat is van misdadigers wat doelbewus “wit boere” teiken nie; geen bewyse dat hulle “afgemaai” word nie. Feitelik is hy ook reg dat (met die uitsondering van byvoorbeeld ’n stuk plaasgrond op Stellenbosch) daar nie “grondgrype” in die land plaasvind nie.

Maar Ramaphosa se woorde is skaars op sosiale media gedeel toe loop hy deur onder kritiek oor dié “leuens” wat hy sou versprei het. Hoe kan hy aanvoer dat daar geen plaasmoorde plaasvind nie? is gevra.

Die Instituut vir Rasseverhoudinge was hieroor voor in die koor: statistieke is aangehaal van die navorser James Myburgh wat daarop wys dat die moordsyfer onder plaasboere 108 per 100 000 boere is. ’n “Goedkeurende” uitspraak uit 2014 deur Ramaphosa oor die onregmatige aanbouings by sy voorganger se private woning, Nkandla, is ook deur die IRR se Gareth van Onselen opgehaal as bewys dat dit “nie die eerste keer is dat hy leuens vertel nie”.

Ook die gerespekteerde landbou-organisasie AgriSA, wat die afgelope ruk suksesvolle gesprekke met Ramaphosa en die regeringsparty gehou het ten einde ’n werkbare oplossing vir die emosiebelaaide grondkwessie te vind, het hul teleurstelling uitgespreek oor die wyse waarop die President die Bloomberg-vraag beantwoord het.

Ander, soos Pieter du Toit van News24, het probeer om die konteks van Ramaphosa se uitlatings te skets. Eerstens het die nuutste misdaadsyfers getoon dat die moordsyfer weens plaasaanvalle 62 vir die afgelope boekjaar was teenoor ’n skrikwekkende moordsyfer van 57 mense per dag vir die bevolking in die algemeen.

Die presidensiële woordvoerder, Kusela Diko, het egter die media ingelig dat Ramaphosa se woorde geensins ’n ontkenning is dat boere ook deel van die land se moordstatistiek uitmaak nie. Wat hy gedoen het, was om die absurdheid van Trump se twiet – dat grootskaalse grondgrype plaasvind en wit boere doelbewus afgemaai word – te verwerp.

Enigiemand wat aandag skenk aan Ramaphosa as leier, weet dat hy welsprekend is, dat hy sy woorde mooi kies en dat hy in die algemeen redelike uitsprake maak. Dit is deels waarom Suid-Afrikaners ’n sug van verligting geslaak het toe hy, en nie Nkosazana Dlamini-Zuma nie, in Desember 2017 die ANC-leier en in Februarie vanjaar die nuwe staatshoof geword het. Ook die plaaslike en internasionale sakegemeenskap het juis sy beredeneerdheid – teenoor ander in die ANC se radikale aanslag – as “markvriendelik” verwelkom.

Dit is dus verregaande om te beweer dat sy stellings by die Bloomberg-geleentheid ’n doelbewuste leuen oor of ontkenning van die werklikheid was. ’n Mens moet hom die voordeel van die twyfel gee dat hy homself hierdie keer net sleg uitgedruk het – dalk omdat hy aangeneem het sy gehoor sou die konteks verstaan, en dit nou blyk nie almal het nie.

Hoe vergelyk Ramaphosa as spreker met sy voorgangers? (En ek het as politieke joernalis hulle almal se termyne ten nouste gedek en waargeneem.) Die eerste president in Suid-Afrika se demokratiese bestel, Madiba, kon tot gewone mense se harte spreek; Thabo Mbeki, wat homself as ekonoom in Brittanje bekwaam het, is dikwels as “hoogdrawend” beskou, té intellektueel; en Zuma se uitsprake moes heel dikwels deur sy amptenare verduidelik word.

Ramaphosa ly beslis nie aan laasgenoemde sindroom nie; hy is eerder ’n mengsel van Mandela en Mbeki as spreker. Juis daarom moet hy weet dat ’n mens maar altyd jou woorde moet tel, altyd jou woorde moet weeg, veral wanneer jy oor sensitiewe kwessies én boonop op ’n internasionale verhoog praat.

Hierdie keer het hy dit nie gedoen nie – en sodoende het hy homself op ’n manier skuldig gemaak aan presies dit wat Trump se twiet verbeeld: ’n ongenuanseerde uitspraak deur iemand wat van beter behoort te weet.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top