............
“Welkom in Suid-Afrika waar die president dink die oopmaak van kerke is belangriker as die oopmaak van kleinbesighede soos salonne, restaurante, en teaters. Ek meen watse soort gebede wil mense in die kerk bid wat hulle nie by die huis kan bid nie?” – Kim’s Mom
............
Daar bestaan gemengde reaksie onder gelowiges oor president Cyril Ramaphosa se aankondiging dat kerke van 1 Junie onder streng voorwaardes weer eredienste mag hou.
Die meeste geloofsleiers het die besluit verwelkom. Baie mense dink egter nie dit is ’n goeie plan nie. Die hoofstroom Afrikaanse kerke se leiers is opgewonde, terwyl baie van die kerke se predikante en lidmate die stap skerp gekritiseer het op sosiale media.
Foto: Pixabay.com
Die Moslem Juridiese Raad het ook die President se aankondiging verwelkom, maar die Jesuïtiese Instituut van Suid-Afrika het die besluit skerp gekritiseer. Hulle sê die regering stuur gemengde boodskappe aan die land se mense met die besluit.
Die bekende teoloog Julian Müller het op sy Facebook-blad geskryf die besluit dat godsdienstige byeenkomste “essensiële” dienste is, is sekerlik polities-ekonomies gemotiveerd en nie godsdienstig en teologies nie.
“Teologies sou mens eerder kon argumenteer dat die kerk in hierdie tyd geroep is om die breë gemeenskap te dien deur nié eredienste te hou nie en veiligheid en welsyn van die hele bevolking voorop te stel.”
............
“Daar is logika agter die argument om te sê as ons besighede oopmaak moet kerke ook volg. Maar daar is ’n verskil om oop te maak ter wille van ekonomiese oorlewing, veral wanneer mense besig is om van honger te begin omkom en tussen instellings wat in hierdie tyd op ’n ander manier kan funksioneer.”
............
Müller sê ’n samekoms waar mense maskers dra, twee meter van mekaar moet wees en nie meer as 50 mense nie, nie mag sing nie en nie kan saam kuier nie, skiet darem ver te kort. Hy meen daar moet liewer voortgegaan word met digitale dienste.
’n NG predikant van Philippolis in die Vrystaat, Carin van Schalkwyk, waarsku: “Die kerkgeboue is oop, nou gaan ons begrafnisse hou.” Sy sê op haar Facebook-blad mense het nie ’n idee hoe moeilik dit in die woonbuurte is waar mense hulle nie steur aan hierdie reëls nie. “Ek het nou die dag amper 300 mense gehad wat opgedaag het vir ’n begrafnis sonder maskers en niemand wat hulle steur aan die afstande tussen mense nie.” Sy sê sy moes die polisie vra om haar te help om die skare weer by die huis te kry.
Ghisnene Muller van Verwoerdpark Gemeente het in reaksie op Van Schalkwyk se kommentaar gesê sy is regtig stomgeslaan. “Ons het nog niks gesien nie. Ek hoop regtig elkeen wat so gretig alles wil oopmaak, ook die kerke, vat verantwoordelik vir die gevolge. Baie van ons gaan moontlik in ’n rigting ingedwing word waarin ons nie wil gaan nie. Ek is regtig ongemaklik met hierdie besluit.”
Op Twitter het ’n persoon met die handvatsel Kim’s Mom geskryf: “Welkom in Suid-Afrika waar die president dink die oopmaak van kerke is belangriker as die oopmaak van kleinbesighede soos salonne, restaurante, en teaters. Ek meen watse soort gebede wil mense in die kerk bid wat hulle nie by die huis kan bid nie?”
Wellcome to South Africa where the "president" thinks opening of church is more important than opening of small businesses like salons, restaurants, cinema's, I mean what kind of prayers will people pray at church that they cannot pray at their homes???? #ChurchIsNotEssential pic.twitter.com/JcEUKmgfje
— 🌺Kim's mom 🌼 (@She1laSm1th) May 27, 2020
Die Jesuïtiese Instituut van Suid-Afrika sê in hulle verklaring terwyl daar ’n verbod is om vriende en familie te besoek lyk dit onlogies om mense toe te laat om in plekke van aanbidding te vergader.
STATEMENT: On opening places of worshiphttps://t.co/0O3q6oBqIF #Churches
— Jesuit Institute SA (@JesuitInstitute) May 27, 2020
Die stap skep volgens hulle net groter ongelykheid in ’n tyd waar die diepe ongelykhede in die samelewing opnuut beklemtoon word tussen diegene wat dit kan bywoon en dié wat dit nie kan doen nie. “Hoe en deur wie gaan die besluite geneem en gemonitor word? Dit druis in teen die grein van ’n geloofsgemeenskap om so gemeenskap te verdeel. Dit is ’n bykans onmoontlike besluit vir geloofsleiers om te maak.”
Die Jesuïtiese Instituut sê verder baie plekke van aanbidding het nie die finansiële kapasiteit om die voorgeskrewe beskermtoerusting te voorsien of die personeel om die geboue te ontsmet nie.
“Sal die polisie plekke van aanbidding inspekteer en byeenkomste waar daar meer as 50 mense is, beveel om uiteen te gaan?”
Die instituut sê die President hou vol die regering leer by ander lande in die wêreld en luister na die raad van wetenskaplikes. “Goed en wel, ons weet opinies verskil, bewyse is onseker en die regte koers onduidelik. Daar is logika agter die argument om te sê as ons besighede oopmaak moet kerke ook volg. Maar daar is ’n verskil om oop te maak ter wille van ekonomiese oorlewing, veral wanneer mense besig is om van honger te begin omkom en tussen instellings wat in hierdie tyd op ’n ander manier kan funksioneer.
“Ons het nie nodig om kerke nou oop te maak om ons geloof te beoefen nie. Gebed, dade van deernis, die lees van heilige geskrifte en naastediens kan voortgaan sonder gemeenskaplike samekomste te midde van ’n pandemie.”
Hierdie skielike en oënskynlik haastige besluit moet volgens die instituut bevraagteken word. “Getuienis van groepsverspreiding in ander dele van die wêreld wys dat selfs in plekke van aanbidding waar daar streng reëls vir sosiale afstand geld, daar gevalle van infeksie was. Hoe meer mense meng, hoe groter is die potensiaal dat die virus versprei. Plekke van aanbidding is nie immuun teen die virus nie. Hierdie besluit weerspreek die President se herhaaldelike uitspraak dat ons gelei moet word deur die beginsel om ten alle koste lewens te beskerm,” sê instituut in hulle verklaring.
Buro: MvH